Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Dot Vermeulen en Judith Erasmus gegroet; ‘sou nie wou hê geliefdes moet ophou lewe’
Die reservoir agter die Oliewenhuis-kunsmuseum was stampvol tydens Dot en Judith se gedenkdiens. Past. Keith Wilson van die Fountainhead Church in Bloemfontein het die diens gelei. Foto: Conrad Bornman

“Dot en Judith het geléwe. Dit was waaroor dit alles vir hulle gegaan het: om voluit te lewe.”

Dít was Vrydagaand die boodskap van past. Keith Wilson van die Fountainhead Church in Bloemfontein tydens die gedenkdiens vir Dot Vermeulen (29), ’n dosent aan die departement beeldende kunste aan die Universiteit van die Vrystaat, en Judith Erasmus (37), ’n argitek in Stellenbosch, by die reservoir agter die Oliewenhuis-kunsmuseum in Bloemfontein.

Dié paartjie het ’n week gelede op die N1 naby Winburg in die Vrystaat verongeluk.

Albei is op slag dood.

Die lokaal was stampvol vriende en familie wat ’n laaste keer hulde aan hul geliefdes wou bring.

Volgens Wilson was Vermeulen en Erasmus spesiale mense.

“Hier is so baie mense vanaand. Dit wys jou net hoeveel lewens het hulle geraak en watter impak hulle op die wêreld gehad het.

“Hulle het ’n groot passie vir die lewe gehad – vol liefde, vol glimlagte, vol pret en geluk.

“Jy kon nie anders as om hulle te wou wees nie.”

Hy het gesê Vermeulen en Erasmus weet dat hul geliefdes nou hartseer is.

“Maar dit is hul begeerte dat julle moet leef. Volg jul drome.”

Hy het dié wat agterbly daaraan herinner dat hulle aan God se liefde moet vashou sodat hulle só getroos sal word.

“God se liefde is ongelooflik! Laat dit jul trooster wees. Sy liefde maak jou van alles vry.”

Vermeulen en Erasmus wil nie hê dat hul geliefdes moet ophou leef nie, het Wilson gesê.

“Wees gelukkig en wees lief vir die mense om jou. Dit is wat hulle wou gehad het.”

Wilson sê hy glo Vermeulen en Erasmus is veilig in die teenwoordigheid van God.

“En dit is die wonderlikste ding.”


Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.