Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
12 Oos-Kaapse opgaardamme se vlak nou onder 20%

Minstens 12 van die Oos-Kaapse opgaardamme se watervlakke is onder 20%, maar die provinsiale regering het nie planne om die provinsie tot ’n droogterampgebied te verklaar nie.

Die Oos-Kaapse damme se gesamentlike watervlak het vandeesweek met byna 2% tot 49,1% gedaal.

In die ooreenstemmende tydperk in 2019 het dit op 53% gestaan, terwyl die provinsie ’n droogterampgebied was.

Oscar Mabuyane, premier van die Oos-Kaap, se woordvoerder, Mvusiwekhaya Sicwetsha, het by navraag gesê hoewel sommige munisipaliteite hul geld bestee het, is baie van die geld wat bewillig is vir droogtehulp nie volledig bestee nie en maak dit nie sin om dit onmiddellik weer tot ’n rampgebied te verklaar as die geld nie gebruik word nie.

Tog het die nasionale departement van water en sanitasie verlede week besoek afgelê in die Nelson Mandelabaai-metro, een van die gebiede wat gebuk gaan onder waterprobleme, en aangekondig die departement sal oor die volgende twee maande R50 miljoen in droogtegeteisterde gebiede van die provinsie bestee. Die geld sal hoofsaaklik gebruik word vir die verskaffing van watertenks en watertenkwaens vir die aanry van water.

Die Oos-Kaap se waterprobleme word hoofsaaklik toegeskryf aan die afgelope vyf jaar se ondergemiddelde reënval, het Sputnik Ratau, ’n woordvoerder van die departement, aan Netwerk24 gesê.

Dit is egter nie ’n vreemde verskynsel nie, omdat die Oos-Kaap volgens Ratau geneig is tot droogte, wat verskeie siklusse ervaar met natter jare wat gevolg word deur droër jare.

damme

Hoewel die min reën ’n groot oorsaak van die watertekort is, sê Ratau swak bestuur en instandhoudingswerk, asook elektriese en meganiese probleme, vandalisme, onwettige waterverbindings en waterbeperkings wat verontagsaam word, speel ’n beduidende rol in die toenemende waterskaarstes.

Volgens die departement se inligting word die westelike helfte van die provinsie die hardste getref deur die droogte. Gebiede soos die Nelson Mandelabaai-metro, die Sarah Baartman-distriksmunisipaliteit en veral die Kouga-, Koukamma-, Dr. Beyers Naudé-, Makana- en Ndlambe- plaaslike munisipaliteit trek die swaarste.

In die Amothole-distrik se sentrale en oostelike munisipaliteite van Mnquma, Mbhashe en Raymond Mhlaba word ook waterprobleme ervaar.

In die Mnquma-munisipaliteit is die watervlak van die Xilinxadam 0,5% en die Gcuwadam 1,7%, terwyl die Nuwejaarsdagdam by Alicedale in die Makana-munisipaliteit op 7,4% staan en ook nie meer water aan inwoners kan verskaf nie.

Die Nqwebadam by Graaff-Reinet in die Dr. Beyers Naudé-munisipaliteit, wat verlede jaar opgedroog het en inwoners wat van boorgatwater afhanklik was, het weer 17% water. Maar opknappingswerk aan infrastruktuur moet eers voltooi word voordat water weer uit die dam onttrek kan word.

In die Nelson Mandelabaai-metro is die opgaardamme se gesamentlike watervlakke 18,27%, waarvan die Impofudam, een van die grootse damme wat water aan die metro verskaf, se vlak op 18% staan. Sodra die watervlak van die Impofudam onder 16% daal, is die watervlak onder die inloop van die Elandsjagt-watersuiweringsaanleg by die dam.

“Die regering ontwikkel ander waterbronne, veral boorgate en die toerus van boorgate, en ons moedig die gebruik van bogrondse water en grondwater aan, veral in hierdie gebiede. Waar waterbronne afneem, word waterbeperkings en selfs beurtwater aangemoedig om die beperkte hulpbron se lewe te verleng tot die volgende reënseisoen verwag word,” sê Ratau.

Verskillende waterbeperkings heers in onderskeie munisipaliteite, met die metro wat in September aangekondig het dat vlak 8-waterbeperking voortaan sal geld. Die strenger beperkings het gekom nadat verskeie inwoners se krane vir bykans ’n week lank opgedroog het.

Mongameli Bobani, burgemeesterskomiteelid van die metro se komitee vir infrastruktuur en ingenieurswese, het toe gesê die beskikbare daaglikse watertoevoer is heelwat laer as die metro se daaglikse aanvraag, terwyl kragprobleme by die watersuiweringsaanleg die situasie vererger het.

Bobani het ook teenoor Netwerk24 erken dat van die R233 miljoen wat in die 2018-’19-boekjaar vir droogtehulp aan die metro toegeken is, is nog net R35 miljoen bestee.

Hy sê die res van die geld is reeds vir die Coegakop Wellfield-projek geoormerk, maar die metro wag vir goedkeuring dat die geld na die volgende boekjaar oorgedra kan word voordat konstruksie sal hervat.

Deur dié projek sal sowat 26 megaliter water per dag vanuit vyf boorgate onttrek word en ’n nuwe watersuiweringsaanleg aangebou word.

Benewens dié projek beoog Bobani om op Vrydag se geskeduleerde raadsvergadering ’n item in te dien vir oorweging oor die aanbou van ’n ontsoutingsaanleg, wat ná die eerste fase sowat 15 megaliter water per dag kan verskaf.

Die metro ontvang reeds sowat 60% van sy watertoevoer uit die Nooitgedacht-waterskema, wat water uit die Gariepdam in die Vrystaat aan die metro verskaf. Die finale fase van dié waterskema sal na verwagting teen Junie 2021 voltooi wees, waarna die watertoevoer van 170 megaliter tot 210 megaliter per dag sal styg.

Indien al dié bogenoemde planne van die metro in werking tree, sal hulle net meer as 250 megaliter water per dag kan verskaf, sonder om aan die kwynende opgaardamme se water te raak. Maar dié totaal is steeds heelwat laer as die metro se huidige waterverbruik wat op 298 megaliter per dag staan en sal daar dus steeds op die opgaardamme gesteun word.

Bobani het erken een van die grootste probleme is steeds waterlekke, wat hy meen hoofsaaklik weens verouderde infrastruktuur veroorsaak word. Hy het in September gesê sowat 30% van die metro se verwerkte water gaan verlore nog voordat dit inwoners se krane bereik.

Hy sê bykomende loodgieters en sowat R120 miljoen word benodig vir daadwerklike ingryping.

Sicwetsha het ook gesê die metro’s mag van hul ontwikkelingstoelae vir stedelike huisvesting (USDG) vir die oplossing van waterprobleme gebruik.

Hy sê die nasionale rampbestuursentrum moedig ook nie droogterampverklarings aan nie, weens die mening dat die probleem nie opgelos sal word deur heeltyd geld te bewillig nie.

“Droogte is ’n stadige verskynsel wat betyds vasgestel kan word. Die klem val op die ontwikkeling van strategieë en planne vir veerkragtigheid en aanpassing, want dit is duidelik Suid-Afrika is ’n waterskaarsland en daarom kan ons nie vir ewig in ’n krisis verkeer en vir ewig (’n ramp) verklaar nie.”

Retief Odendaal, DA-woordvoerder oor landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming, het sy skok oor die regering se reaksie uitgespreek en gesê deur ’n droogteramptoestand te verklaar, kan munisipaliteite wat geraak word van die rompslomp omseil vir noodverkrygingsprosesse vir droogtehulp.

“Tweedens, en belangriker, ’n provinsiale ramptoestand sal die provinsie die geleentheid bied om meer befondsing te bekom vir infrastruktuurprojekte vir droogtehulp, sowel as droogtehulp vir boere.

“Ons het letterlik honderde boere wat deur groot veeverliese in die gesig gestaar word omdat hulle nie meer voer kan bekostig nie.”

Die weerkantoor in Port Elizabeth het vandeesweek gesê die seisoenale vooruitsig vir die streek lyk belowend vir die res van die jaar met bogemiddelde reënval wat voorspel word.

Meer oor:  Oscar Mabuyane  |  Oos-Kaap  |  Damvlakke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.