Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
6 trokke met water kom aan in Laingsburg

Ses trokke met sowat 35 000 liter water het die naweek op Laingsburg in die Karoo aangekom, waar ’n ernstige tekort aan water ondervind word.

Met waterbronne in die Wes-Kaapse Karoo-streek wat tans onder geweldige druk is, is inwoners van Laingsburg, Beaufort-Wes en Prins Albert almal erg bekommerd dat hul water opraak.

Teen Sondag was Laingsburg se hoofreservoir slegs 5,6% vol en loop dit vinniger leeg as wat dit volgemaak kan word.

Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning by ’n werker in die rampbestuur-pakkamer. Foto: Verskaf

Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het inwoners gemaan om nie paniek te saai nie.

“Tot op hede het die water nog op geen dorpie in die provinsie weens die droogte opgedroog nie.

Bredell sê die water is Saterdag by die provinsie se rampbestuur-pakkamers by Tygerberg-hospitaal, opgelaai en na Laingsburg vervoer.

“Trokke van die provinsiale regering asook van die humanitêre organisasie Gift of the Givers het die water in Laingsburg besorg, waar dit aan huishoudings uitgedeel is.

Die water is skenkings wat vroeër reeds deur ’n wye verskeidenheid organisasies en van ons vennote gestuur is. Sedertdien is die voorraad in die rampbestuur-pakkamer gehou vir ’n noodsituasie,” het Bredell gesê.

Volgens die LUR het die provinsiale regering noukeurige planne vir die wateruitdagings in die Wes-Kaap en werk saam met nasionale en plaaslike strukture om die krisis te pak.

’n Taakspan wat geohidroloë insluit, bekyk tans maniere om die waterkrisis in dorpe soos Laingsburg, Beaufort-Wes en Prins Albert op te los.

Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning saam met ’n verteenwoordiger van Gift of the Givers. Foto: Verskaf

“Ons is in die kloue van die ergste droogte wat al opgeteken is en ons sit koppe bymekaar om ons waterbronne te beskerm,” het Bredell gesê.

“Dorpe in die Karoo maak al jare grootliks staat op grondwater om aan behoeftes te voorsien. Die dorpe gebruik reservoirs wat staatmaak op boorgate. In tye van groot aanvraag word reservoirs vinnig leeg en dan ontstaan watertekorte. Dit is tans die geval in Laingsburg,” het Bredell gesê.

Intussen het inwoners van die dorp op hul Facebook-webblad gesê hulle is dankbaar vir die water.

Verskeie mense wou weet hoeveel bokse water elke huishouding kan kry, omdat sekere huishoudings glo meer as ander kry. “Oral is daar onregverdigheid so ook met die uitdeel van water . . . Waar trek ons die streep. Dankie Gift of the Givers vir jul onbaatsugtige diens, maar net ’n vriendelike versoek dat julle volgende keer self die water aflewer om seker te maak dat regverdigheid geskied,” het een inwoner op Facebook geskryf.

’n Ander inwoner wou weet wat die kontrakteur wat maande aan die waterpyp van Soutkloof na Laingsburg se reservoirs gewerk het, nou eintlik gedoen het.

“Steeds is daar ’n waterkrisis. My vraag is onomwonde wat het hulle dan regtig aan die waterleiding kom doen. Lig my as belastingbetaler en dienstebetaler in. So kan geld darem regtig nie vermors word nie . . . en snaaks genoeg . . . as jy een maand jou diensterekening laat oorstaan, word jou krag afgesit,” het ’n ander inwoner geskryf.

Meer oor:  Gift Of The Givers  |  Anton Bredell  |  Laingsburg  |  Waterkrisis  |  Droogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.