Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Beaufort-Wes: Waterperke bly ondanks goeie reën

Ondanks reën van 58 mm bly die waterbeperkings eers van krag in Beaufort-Wes in die Sentraal-Karoo totdat ’n besluit geneem word oor die invloed wat die goeie reën op watervoorsiening in die dorp gehad het.

Reënwater spoel oor ’n pad naby Beaufort-Wes. Die foto is Dinsdag op die Facebook-groep SANParks – Karoo National Park geplaas. Foto: Facebook/SANParks – Karoo National Park

Die Beaufort-Wes-munisipaliteit het Donderdag bekend gemaak dat hy sedert 21 April vir twee dae goeie reën gehad het en die vlak van die Gamkadam tans 36% is. Die dam was verlede week nog net 9,6% vol, volgens die webblad van die departement van water en sanitasie.

Van 21 tot 25 April is 58 mm reën gemeet, sê Kosie Haarhoff, bestuurder van die Beaufort-Wes-munisipaliteit, in ’n verklaring.

“Die reën het groot verligting vir die omliggende plaasboere en hul vee gebring.”

Volgens Haarhoff het die vlakke van die grondwater egter nog nie verander nie.

Die huidige waterbeperkings bly ook toepaslik totdat ’n besluit deur die stadsraad geneem is oor die invloed wat die reën op die watervoorraad gehad het.

Indien beurtkrag weer geïmplementeer sou word, sê Haarhoff, sal dit ’n direkte uitwerking op watervoorsiening hê aangesien alle waterbronne van die Beaufort-Wes-munisipaliteit afhanklik is van elektrisiteit.

Beurtwater vind steeds saans plaas van 19:00 tot 06:00 die volgende oggend.

Reënwater dam op in die omgewing van die Karoo Nasionale Park in Beaufort-Wes. Foto: Facebook/SANParks – Karoo National Park

Volgens Haarhoff word inwoners aangemoedig om water spaarsamig te gebruik omdat die dorp steeds in ’n droogte gewikkel is.

Fayroush Ludick, ’n woordvoerder van die Karoo Nasionale Park in Beaufort-Wes, sê die viertrekroete in die park is nog gesluit, maar alle ander paaie in die park was Donderdag oop nadat dit tydelik gesluit is weens die nat toestande.

Foto’s wat Ludick Dinsdag op die Facebook-groep SANParks – Karoo National Park gedeel het, wys hoe reënwater oor ’n pad in die Beaufort-Wes-gebied spoel. Volgens die Facebook-groep is daar teen Dinsdag 50 mm reën in die Mountain View-omgewing van die park gemeet.

Donderdag was dit mooiweer in Beaufort-Wes volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens, en vir die naweek word sonskynweer voorspel.

Meer oor:  Beaufort-Wes  |  Waterperke  |  Reën
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.