Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Bejaarde ‘swaeltjies’ help N-Kaapse boere

’n Groep goedhartige bejaardes van Kaapstad het van hul pensioengeld gebruik om boere in die Noord-Kaap te help.

Die gebreide en gehekelde klere wat bejaardes aan die Noord-Kaapse boere in nood gestuur het. Foto: Drienie Visser

Die groep van die Welverdiend-aftreeoord in Bellair het op eie koste onder meer gebreide en gehekelde klere, kos, toiletware en sowat R1 300 aan boere in Garies, suid van Springbok, geskenk.

Die sowat 12 bejaardes, wat tussen 70 en 80 jaar oud is, noem hulself “die swaeltjies” omdat dié voëltjies altyd in ’n swerm saam vlieg en die groep saamwerk om die skenking moontlik te maak.

Volgens Esme Marais, die stigter van die “klein projek”, is die bejaardes baie gelukkig as hulle kan help.

“Dit is absoluut ’n fees om te sien hoe die ou mense aan die projek deelneem. Hulle is gelukkig en dit skep ’n positiewe atmosfeer tussen hulle,” sê Marais.

Marais se skoonma is ook in dié aftreeoord.

Hulle het die skenking in April aan die Daisy Donkey 4 Drought-projek in Garies, wat boere in nood met kos en diesel help, gestuur.

“Ons wil graag iets teruggee in die droogte. Ons kry soms goedkoper voer of iemand borg die diesel. Ons het besluit om iets hier in ons omgewing te doen en toe die projek geloods. Ons maak produkte om te verkoop om so geld in te samel sodat ons boere wat so swaarkry, kan help,” sê Drienie Visser, wat deel is van die projek.

“Toe ek die pakkie oopmaak, het my hart geswel van trots en my oë was vol trane,” sê Visser.

Volgens Marais is dié skenking maar ’n drumpel aan die emmer en beoog hulle om nog meer te help.

“Ons is besig om nog wol te koop en kry maklike breipatrone vir die oumense. Ons bekommer ons net oor hoe die items vervoer sal word,” sê sy.

Meer oor:  Boere  |  Liefdadigheid  |  Skenking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.