Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Boer slaap op padstal se dak vir droogtehulp

Nie eens ’n koue windjie kan keer dat ’n boer van Beaufort-Wes in die Sentraal-Karoo snags op ’n matras op die dak van sy padstal slaap om geld vir droogtehulp in te samel nie.

Die boer, Johnny Theunissen, het Maandag begin om op die dak van sy padstal, Scheurfontein, sowat 40 km buite die dorp op die N12 na Klaarstroom, te slaap. Hy doen dit om geld in te samel vir die groep Boere in Nood en die mikpunt is minstens R100 000.

Johnny Theunissen op die matras op die dak van die padstal. Foto: Verskaf

Die groep help onder meer om voer aan boere in droogtegeteisterde gebiede te verskaf.

Theunissen het verlede jaar vir dieselfde doel op die padstal se dak geslaap. Saans om 09:00 klim hy met ’n leer op die dak en slaap daar tot 05:00 wanneer hy afklim en sy dagtake begin.

“Dis nogal nie so koud nie,” sê hy. “Die oostewindjie trek maar dis nie so erg nie.”

Hy slaap op ’n matras omdat ’n bed te veel wind vang, voeg hy by.

“Die bonus is natuurlik dat my vrou, Amanda, stilte in die huis het omdat sy sê ek snork.”

Die padstal Scheurfontein tussen Beaufort-Wes en Klaarstroom met die matras op die dak. Foto: Verskaf

Volgens Santie Roux van Boere in Nood is net so onder die R70 000 al ingesamel. “Oral is nood, maar in Limpopo lyk dit baie sleg,” sê sy.

Voerskenkings van die groep Boere in Nood. Foto: Verskaf

Tommie Klopper van Boere in Nood sê ook boere het in plekke soos die Vrystaat en Gauteng onder brande deurgeloop.

Volgens Theunissen besef mense nie dat die droogte werknemers en werkgewers se huishoudings bedreig nie. “Daar is nie voer, weiding of veld nie.”

Hy sê die Karoo-dele van die Noord-, Oos- en Wes-Kaap is reeds tot droogte-rampgebiede verklaar.

Volgens hom maak lede van die publiek hul harte oop, maar die hulp van semi-staatsinstellings soos Eskom is nodig.

“Daar is byvoorbeeld lande lusern wat verder aangeplant en natgelei kon word as Eskom boere net ’n bietjie met die betaling van elektrisiteit tegemoet wil kom,” sê hy.

Volgens hom kan baie boere hul Eskom-verbruik bekostig, maar nie die vastekoste-tarief wat bo en behalwe die verbruik maandeliks gehef word net sodat krag voorsien kan word nie.

  • Mense wat wil help, kan Boere in Nood by hul Facebook-blad besoek.
Meer oor:  Beaufort-Wes  |  Droogtehulp  |  Padstal  |  Boer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.