Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Boere gaan onder sonder staat se hulp in droogte

Boere in die Noord-Kaap hoop nie net dat die reën gou sal kom nie, maar veral ook dat die nasionale regering met finansiële steun ’n uitkoms gaan bied.

’n Droogtehulptoer wat GWK saam met Agri Noord-Kaap georganiseer het, het lig gewerp op gevolge van die droogteramp wat meer as 70% van die Noord-Kaap getref het.

Frank du Toit (62) boer al sedert 2013 op Kranshoek buite Griekwastad. Weens die droogte het hy geen inkomste nie en sy kinders onderhou hom. Foto: Mlungisi Louw

Hulle het Griekwastad aangedoen nadat boere in die Dorsland by Vanwyksvlei die eerste dag besoek is. Daar is toestande haglik met dooie wild soos koedoes wat in die veld lê.

Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, sê elke soort boerdery, hetsy ’n kommersiële, klein- of familieboerdery, hoop nie net op reën nie, maar ook op finansiële steun van regeringskant.

“Die droogte eis sy tol op elke boer. As ons net ’n bietjie hulp van die regering kan kry om ons deur die drif te help, sal ons weer tot die ekonomie kan bydra.”

Die karkas van 'n koedoe wat in die kaal en dorre veld buite Griekwastad in die Noord-Kaap lê. Foto: Linkie Bessinger

Frank du Toit (62) boer al sedert 2013 op die plaas Kranshoek buite Griekwastad. Hy is al sedert 1988 ’n boer, maar kry nou baie swaar. Kranshoek is as deel van ’n grondhervormingsprojek aan hom gegee.

Hy boer met bonsmara-beeste, vanrooyen-skape en boerbokke.

“Die grond is die laaste ding wat ek van die regering gekry het,” sê Du Toit.

“Ek het nie ’n inkomste nie, so my kinders gee elke maand vir my ’n geldjie sodat ek die boerdery kan onderhou. Dit is vir my sleg, want hulle het hul eie lewens.”

Alles op Du Toit se plaas ly onder die effek van die gebrek aan finansiële ondersteuning.

“Ek kan nie my werkers die salarisse betaal wat hulle toekom nie en ook nie my diere voer wat hulle moet eet nie.”

As daar nie teen Maart reën of ’n finansiële uitkoms is nie, sal Du Toit sy plaas moet verlaat.

Jansen verduidelik verder dat die regering se grondhervormingsprojek geen waarde sal hê as bestaande boerderye weens ’n gebrek aan finansiële steun tot niet gaan nie.

“Ons het boere soos Frank met kennis en ervaring, maar sonder geld gaan alles tot niet.”

Meer oor:  Noord-Kaap  |  Regering  |  Droogtehulp  |  Reën  |  Droogte  |  Boere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.