Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Boere op hul knieë weens droogte

Die ergste droogte in meer as 100 jaar in groot dele van die land het boere op hul knieë.

Die ergste droogte in meer as 100 jaar op verskeie plekke in die land het baie boere op hul knieë gedwing. Foto: Conrad Bornman

Dit sluit dele van die Oos-Kaap, die noordwestelike hoek van die Wes-Kaap, die Noord-Kaap en die westelike dele van die Vrystaat en Noordwes in.

Die vernietigende droogte het ook sy kloue in Zimbabwe, Lesotho en Mosambiek ingeslaan.

Die toestand van weiding en vee wissel landwyd tussen taamlik goed tot swak en die damvlakke het die laaste paar maande gedaal.

Vlakke in die Wes-Kaap het wel gestyg danksy reën die afgelope winterreënseisoen, sê die departement van landbou, bosbou en vissery.

Hy waarsku in ’n verklaring minder as die normale reënval sal in die laatlente oor die sentrale en suidoostelike dele van die land uitsak.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê op sy beurt die gevaar van veldbrande is groot in die westelike dele van Limpopo, Mpumalanga, Noordwes, die noordooste van die Noord-Kaap en die sentrale en noordoostelike dele van die Vrystaat.

Christo van der Rheede, uitvoerende adjunkdirekteur van Agri SA, sê die droogte het ’n baie negatiewe invloed op die gemoedstemming van die boere en ander mense in dié gebiede.

“Ons het vandag (Woensdag) weer terugvoering gekry van ons lede oor die droogte-situasie. Dit is nie ’n mooi prentjie nie.

’n Finansiële krisis soos min staar ons boere in die gesig. Boere, hul gesinne en werkers word tot die uiterste toe beproef.”

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, skets ook ’n somber prentjie. “Die situasie in sekere streke van die land is so erg dat dit uit die boere se hande is.

“Op van dié plekke is daar geen vermoë oor om die veekuddes (wat nog oor is) aan die lewe te hou nie. Genoeg reën is al wat sal help. Dit sal ’n geruime tyd neem voordat ons weer sal kan praat van landbouproduksie in die volle sin van die woord,” sê Van Zyl.

Dit sal ’n geruime tyd neem voordat ons weer sal kan praat van landbouproduksie in die volle sin van die woord.

“Die uitwerking van insetkoste sonder ’n noemenswaardige oes het baie boere ook op hul knieë gedwing. Die dilemma wat ons het, is dat wanneer hierdie boere hul grond verloor, soos wat nou gebeur, daardie grond baie moeilik weer in produksie gebring sal kan word.”

Maar daar is ’n silwer randjie om die donker droogtewolk: Die weerprofete bly hoopvol die reën is op pad.

Johan van der Berg, ’n landbouweerkundige van Santam Landbou, het Woensdagmiddag gesê korttermynvoorspellings vir die sentrale, maar veral die oostelike, dele van die land verbeter van Donderdag af. Dinge lyk ook positief vir die laaste twee weke van Oktober.

Hy meen die vooruitsigte vir reën in die westelike dele is beter in die tweede helfte van die somerreënval-seisoen. Tradisioneel begin die reënseisoen in daardie dele van die land eers later.

Van den Berg sê die winderige toestande die laaste paar weke, tesame met die wind wat dikwels uit ’n

oostelike of noordelike rigting waai, dui moontlik op reën wat op pad is.

Hy sê boere moet hul beplanning op feite grond, maar hy besef dit is baie moeilik om in hierdie toestande kalm te bly en nie emosionele besluite te neem nie.

Die departement waarsku boere om konserwatief te wees en die plantseisoen versigtig te benader.

Die departement van landbou, bosbou en visserye haal in sy verklaring aan uit die SA Weerdiens se jongste klimaatverslag wat lui goeie reën is wel in die vroeë en middelsomer in dele van die land moontlik.

Dit is egter nie gewaarborg nie omdat die toestande onseker bly.

Die departement waarsku boere om konserwatief te wees en die plantseisoen versigtig te benader.

Droëland-boere word aangeraai om eers te plant wanneer daar genoeg vog in die grond is.

Dié wat besproei, word gevra om die lae vlakke van damme en die hoë temperature in gedagte te hou en waterbeperkings in hul betrokke gebiede te gehoorsaam.

* Boeta du Toit, uitvoerende hoof van Agri Noordwes, sê somerreën is dringend nodig in dié provinsie om veldbrande te demp en sodat die produksieseisoen kan begin.

Paul Kruger moet eers verjaar

Die ou mense het altyd gesê in die noorde van die land moet dit nie reën voordat oudpres. Paul Kruger verjaar nie.

Hulle het geglo as dit voor 10 Oktober daar reën, sal dit nie ’n goeie reënseisoen wees nie.

Donderdag ís dit die oudpresident se verjaardag.

Die SA Weerdiens sê daar is ’n 60% kans op reën in Gauteng en dele van Limpopo en Mpumalanga.

Die weerdiens waarsku donderbuie met swaar neerslae kan in Gauteng voorkom wat kan lei tot kitsvloede in die metrogebiede van Pretoria, Johannesburg en Ekurhuleni, asook in die Lesedi-munisipaliteit in Heidelberg se omgewing.

Die kans op reën Donderdag in die Vrystaat en Noordwes is skraal.

Daar was teen Woensdagmiddag ’n kans op goeie reën in die noordooste van KwaZulu-Natal en langs die kusgebied van dié provinsie. Nog reën word Donderdag verwag.

Dele van die Oos-Kaap kan dalk ook reën kry.

Landbouweekblad berig reën het vroeër vandeesweek oor dele van die Oos-Kaap uitgesak met sowat 20 mm wat op sosiale media by Fort Beaufort aangemeld is.

Goeie neerslae is ook by Karoo-dorpe soos Graaff-Reinet en Beaufort-Wes, oor dele van KwaZulu-Natal en in die Oos-Vrystaat aangemeld. 

Meer oor:  Noord-Kaap  |  Wes-Kaap  |  Noordwes  |  Oos-Kaap  |  Vrystaat  |  Boere  |  Droogte  |  Landbou  |  Droogtehulp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.