Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Boere uit ‘bloedgeld’ bedrieg
Boere in gebiede wat deur droogte geteister word, is só desperaat om voer vir hul vee te kry dat sommige nou bedrieërs ten prooi val. Foto ter Illustrasie. Foto: Argief

Die meedoënlose droogte en ekonomiese druk skep ’n teelaarde vir swendelaars wat boere uit duisende rande bedrieg as hulle veevoer aanlyn wil koop.

“Een van die verdagtes wat ons ondersoek, is self ’n boer wat ander se desperaatheid so uitbuit,” sê André Niemann, ’n private ondersoeker van Ansec Consult.

Die maatskappy het in die afgelope agt dae reeds drie klagtes van boere vanuit die Noord-Kaap en Noordwes ontvang wat “bloedgeld”, soos Niemann dit beskryf, verloor het.

“Die slagoffers is van plekke waar dit regtig baie droog is, waar die boere en hul diere sukkel om te oorleef,” sê hy.

In al die gevalle praat die bedrieërs aksentlose Afrikaans.

“Hulle noem die boere ‘oom’, sluit gesprekke af met ‘God bless’ en kom die slagoffers so ‘tegemoet’ dat hulle selfs kamma die voer sal aflewer,” sê Niemann.

Hy sê die jongste drie voorvalle is egter nie die werk van ’n sindikaat nie, maar individue.

“Hulle het wel almal dieselfde modus operandi. Hulle adverteer bale voer, soos lusern of tef, op die internet, byvoorbeeld op Facebook of OLX en Gumtree, teen ’n baie goeie prys.

“Die boere is desperaat en is vanselfsprekend op soek na winskope. As jy die bedrieër bel, vertel dié eers dat die aanvraag baie groot is, en hy is nie seker of hy kan help nie, want almal soek daardie voer teen daardie goeie prys,” sê Niemann.

Dit maak die boer paniekerig dat hy nie voer vir sy diere gaan kry nie.

Die “verkoper” paai dan dat hy gaan kyk wat hy kan doen, die boer moet oor so twee uur bel.

“As die boer weer bel, vertel die ‘verkoper’ dat hy van die voer eenkant kan hou mits die boer binne die volgende uur ’n deposito van 50% inbetaal,” sê Niemann.

Daar is geen vooruitsig dat die droogte binnekort gaan eindig nie. Dit skep ’n teelaarde vir hierdie bedrieërs.
André Niemann

Die geld word in ’n bankrekening oorbetaal.

“Van die transaksies was byvoorbeeld R250 000. Dit is bloedgeld vir iemand wat in dié ekonomiese landboutye probeer oorleef,” voeg Niemann by.

Die skelm verduidelik dat dit 24 uur sal neem voordat die geld in sy rekening wys, maar dat hy intussen met reëlings vir aflewering sal begin.

As die boer ná 24 uur bel, bestaan die telefoonnommer nie meer nie.

Niemann-hulle se ondersoeke het gevind dat die simkaart wat die bedrieër gebruik, vernietig word sodra die geld inbetaal is.

Die bankrekeninge is met gesteelde identiteitsdokumente geskep.

“In al drie gevalle het ons die persone wie se ID-nommer aan ’n rekening gekoppel is, opgespoor. Hulle almal se dokumente is vroeër tydens ’n huisbraak of diefstal uit ’n motorvoertuig gesteel,” sê Niemann.

Die voorvalle is by die polisie aangemeld en Ansec Consult verwag dat hulle ondersoekwerk binnekort gaan vrugte afwerp.

“Daar is egter geen vooruitsig dat die droogte binnekort gaan eindig nie. Dit skep ’n teelaarde vir hierdie bedrieërs. Boere moenie oordeelsfoute maak omdat hulle desperaat is nie. Voor jy enige geld oorbetaal, laat iemand gespesialiseerd eers die verkoper verifieer,” maan hy.

Meer oor:  André Niemann  |  Droogte  |  Bedrog  |  Voer  |  Boere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.