Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Boere vertrou en plant nog mielies
’n Opslagsonneblom staan in ’n deurnat land buite Soutpan in die Vrystaat. Net meer as ’n week gelede was dié lande nog te droog om te plant maar ná goeie buie is hulle sopnat – met nog beloftes van reën in die lug. Foto: Charles Smith
Daar is nou hoop – al is die reën laat.

Daar is nou hoop – al is die reën laat. Dit kon ’n nagmerrie geword het as ons geen reën gekry het nie, sê Willie Conradie, ’n boer van Viljoenskroon.

Boere van veral die gebiede waar witmielies geplant word, het verlede jaar in ’n opname gesê hulle sal nie later as 8 Januarie mielies plant nie, maar baie van hulle beplan nou om nog tot volgende week soveel as moontlik mielies in die grond te kry.

Silostrat, ’n landboumaatskappy, het verlede jaar ’n peiling onder boere gedoen om vas te stel hoeveel reën boere nodig het om te plant en tot wanneer hulle mielies en sonneblom sal plant.

Die meeste van die 300 boere (87%) wat aan die peiling deelgeneem het, is van die Sentraal- en Wes-Vrystaat en 55% het gesê hulle wil teen 31 Desember klaar hul mielies geplant hê.

Die meeste boere het gesê hulle sal nie later as 8 Januarie mielies plant nie en dat hulle 30 mm reën nodig het om te kan plant.

Dié gebiede, waar die meeste van die land se witmielies verbou word, het egter eers in die laaste week van Desember en die eerste week van Januarie genoeg reën gekry om te kan plant.

Conradie sê boere moes noodgedwonge aanpas by die reën wat eers baie laat geval het.

“Almal moes aanpas. Van die ouens plant ander kultivars en probeer om so doeltreffend en vinnig moontlik soveel moontlik saad in die grond te kry,” sê hy.

Viljoenskroon se boere kon darem van hul lande geplant kry. ’n Bui reën van 50 mm het Donderdag in die dorp geval, maar op van die plase het dit niks gereën nie. Foto: verskaf

Conradie sê dit het kollerig gereën en terwyl party plase te min reën gekry het, is daar ander boere by wie dit so baie gereën het dat hulle nie betyds in die lande sal kan kom nie.

“Die meeste boere kon darem iets plant,” sê hy.

“Ons weet nie wat ons gaan oes nie, want 120 dae van nou af kan ons al ryp kry.”

Donderdag het dele van die Viljoenskroon-distrik 50 mm reën gekry, terwyl dit op party plekke niks gereën het nie.

Conradie sê hy glo boere wat nie betyds mielies kon plant nie, sal teen volgende week begin sonneblom plant.

Hulle sal miskien volgende week nog so drie dae mielies plant, maar dan is dit verby, sê hy.

Desmond Reed, ’n kontrakteur wat grondvoorbereiding vir boere doen, sê die boere se geloof is sterk.

“Die manne plant dat die biesies bewe,” sê Reed wat meestal vir boere by Wesselsbron, Theunissen en Welkom werk.

Reed sê hy glo daar is nou baie meer hektare geplant as voor Kersfees toe daar in sekere gebiede net 3% van beplande aanplantings gedoen is. Hy het glo gehoor 40% van beplande aanplantings is nou gedoen.

Hy sê boere begin om nou sonneblom te plant omdat dit te laat is vir mielies.

Meer oor:  Viljoenskroon  |  Droogte  |  Boere  |  Mielies  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.