Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Boere vra hulp weens erge droogte in Limpopo

Diere vrek elke dag weens die erge droogte in groot dele van Limpopo waar dit maande laas gereën het.

Die Boere in Nood-groep, ’n organisasie sonder winsbejag, doen ’n beroep op die publiek en boere in ander dele van die land om voer na veral die westelike bosveld van Limpopo te stuur.

Boere in Limpopo moet hul beeste voer weens ’n voortslepende droogte. Foto: VERSKAF

Die Lephalale- (Ellisras), Baltimore-, Marnitz-, Alldays-, Dendron- en Vivo-gebiede word erg geraak.

Beeste en wild moet al geruime tyd gevoer word omdat daar nie weiding is nie.

“Ons vra dringend vir skenkings sodat voer vir wild, beeste en skape by die boere kan uitkom,” lui ’n boodskap van die Boere in Nood-groep op sosiale media.

Die groep het sy eie Facebook-blad waar mense kan aandui of hulle hulp kan verleen.

Die damvlakke in Limpopo is gemiddeld 62,7% vol, vergeleke met 66,8% verlede jaar dieselfde tyd.

Luidens statistieke van die nasionale departement van water en sanitasie is die Glen Alpine-dam bykans dolleeg met die watervlak op net 7,6%. Die dam kry water uit die Mogalakwena-rivier in die Mokopane- (Potgietersrus) distrik van Limpopo.

Inwoners van Tzaneen gaan ook gebuk onder waterbeperkings. Die Tzaneen-dam is 19,7% vol, teenoor verlede jaar in November se 43,9%.

Dit is ook baie droog in die Giyani-gebied in die Mopani-distrik van Limpopo.

Inwoners in klein nedersettings buite Giyani moet water in riviere en strome kry omdat die Giyani-waterprojek, wat water vanaf die Nandoni-dam buite Thohoyandou hierheen sou bring, klaaglik misluk het. Die projek is al in 2014 begin en het reeds R3 miljard gekos, maar die inwoners van minstens 50 nedersettings het steeds nie water nie.

’n Ondersoek na die mislukte projek word deur die nasionale tesourie gedoen.

Brandmaer beeste word in die westelike bosveld van Limpopo gevoer. Foto: VERSKAF
Meer oor:  Droogte  |  Limpopo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.