Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Boervrou skryf oor droogte ‘wat dik in jou keel sit’

Hulle praat nie meer daaroor nie, want die Noord-Kaapse droogte sit dik in almal se keel. Elke boer en boervrou in die omte wurg, veral in die stof.

Maar wanneer iemand, soos ’n verkeerskonstabel by ’n padversperring, net vriendelik vra hoe dit gaan, bars ’n boervrou skoon in trane uit.

Trane in oorvloed, waar daar geen oorvloedige reëndruppels is nie.

Sy is ’n boervrou van Loeriesfontein, wat nie haar naam wil laat publiseer nie. Sy het in ’n brief (sien kassie) aan Die Burger hul daaglikse oorlewingstryd, nie net op die veld nie, maar in die huis en met die bankrekening, beskryf.

Die versengende droogte, wat volgens Agri Noord-Kaap al meer as sewe jaar duur, eis sy tol op die omgewing en veral op sy inwoners. Daar is nie korttermyn-verligting op die horison nie, al kry iemand êrens ’n veevoerskenking wat dalk twee weke hou.

“Ons is nie meer jonk nie, oor die sestig. En ons plaas is ’n woestyn wat niemand sal koop nie.

“Regeringshulp soos veevoer is skaars en ’n langdradige, frustrerende proses. Intussen moet ons steeds rente, werkloosheidsversekering en die ongevallekommissaris betaal. Kan die regering dit nie liewer subsidieer nie?”

Die droogte in Boesmanland duur volgens sommige boere al langer as ’n dekade. Foto: Charné Kemp

Sy weet nie hoe haar man blymoedig kan bly nie, want sy kan nie. Nie as hulle nie geld het om lone te betaal en hul werkende kinders dit vir hulle moet gee nie. En die seun wat op die plaas was, sy heil elders moes gaan soek nie.

Sy is dankbaar dat sy ’n werk het, al is dit net om die mediese fonds en broodnodige uitgawes soos motorlisensies te betaal. In die week bly haar man alleen op die plaas terwyl sy op ’n ander plaas 300 km weg werk.

“Gelukkig hou die werk my gedagtes elders besig. Genadiglik.

Ons kan nie eers meer die lappie lusern wat ons altyd met reënwater kon voer, hier in die Hantam Karoo aan die gang hou nie

“Ek praat nie meer oor die droogte nie, maar hy weet, my man weet wat in my aangaan. Ons het R1 miljoen nodig net om die agterstand in te haal, wat nog te sê van vorentoe kyk.

“En net 20 km van ons is die droogte nie so erg nie. Hier is mense wat nie besef hoe erg dit werklik gaan nie. Ons kan nie eers meer die lappie lusern wat ons altyd met reënwater kon voer, hier in die Hantam Karoo aan die gang hou nie.

“Die winter, ons reënseisoen, is verby . . . ’n Buurman het 1 November vir homself as spertyd gestel voordat hy sal opgee; sy spertyd is verby. Die fluitjie het geblaas, maar ons hoor dit nie.”

Jare gelede sou sy haarself nooit kon indink dat ’n mens so oorstelp oor ’n koekie seep of tandepasta kan wees wat iemand jou gee nie.

“Waar moet ons die streep trek?”

Boervrou se brief

Ek stuur hierdie briefie net om my gemoed weer skoon te kry.

Ek het Die Burger van 30 Oktober gekoop omdat ek Woensdag op die dorp was.

Die berig oor die ambulans wat te laat was, het my die brief laat skryf. Dalk voel ek hierna ’n bietjie beter.

Ek kan geen normale gesprek meer met iemand voer nie – wil net in trane uitbars.

Ek weet dat baie foto’s van die droogte die ronde doen en ek besef dat mense simpatie het en omgee, maar weet hulle dat ek vandag nie lonegeld het om my mense te betaal nie?

Weet hulle dat ek vandag nie geld het vir hondepille en voer en diesel of enigiets anders nie?

Weet hulle op 1 November gaan debietorders deur en daar is nie genoeg geld in die bank nie? Dit is net my bakkie en die assuransie daarvan, en dit kan nie gebeur nie.

Almal voel jammer en almal probeer help, maar daar was in jare nog geen hulp van die Noord-Kaapse regering nie. Vorms word oor en oor ingevul. Dit moet oorspronklik wees en in kleur gedruk. Hoekom? Net die landswapen en die groen streep daaronder is in kleur.

Ons het nie eens krag op die plaas nie; wat nog te sê ’n kleurdrukker. Is dit nie al veel groter as ’n provinsiale krisis waarvan die provinsie se geld gedurig weg is nie?

Is dit nie al ’n nasionale ramp nie? Die ambulans het nog nie aangekom nie. En ek wil sê dat dit waarskynlik te laat is. Ek moet ook byvoeg dat die Wes-Kaapse regering

projekte en hulp bestuur wat werk.

Die bank neem eerste sy rente en bankkoste – ek het dit nou net gaan kyk – en stuur dan die res terug. Kan iemand nie help dat rente en bankkoste eers ’n bietjie op ys geplaas word nie?

Kan die werkloosheidsversekering en die ongevallekommissaris se bydraes nie gesubsidieer word nie?

Ons wil nie ons werkers laat gaan nie, maar ek kan hulle nie vandag betaal nie.

Kan iemand nie begin dink hoe om te help behalwe net voer vir diere nie?

Wat gaan ons volgende maand doen? Ek kan nie die bank betaal nie, die bank gaan steeds sy rente eerste gryp en die sneeubal raak al groter.

Niemand wil die plaas hê nie; dis ’n woestyn.

En as ek vanoggend my oë oopmaak, is my eerste gedagte dat niks verander het nie; alles lyk nog soos gister.

Ja, ons bid en ons glo en ons hoop, en my man is baie dapperder as ek, maar om dit dag ná dag ná dag te beleef

en te leef en te dink en te ervaar, is eintlik bomenslik. Dit is al waaraan jy dink, waaroor jy worstel en wat belangrik is.

Ek is 60, ek is swakker as toe ons ’n leeftyd gelede met baie moed begin boer en geglo het dat ons dinge sal

kan laat werk.

Wat is die uiteinde? Waarvan leef ons vandag? En môre? En oor nog vyf jaar?

Gaan my trane altyd net ’n oogknip ver wees? Hoeveel terneergedruktheid kan ’n mens se gemoed dra?

Ek weet nie. Mag God help!

Meer oor:  Noord-Kaap  |  Loeriesfontein  |  Brief  |  Boervrou  |  Droogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.