Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Bothma wil met boeke hoop bring in dorre Boesmanland
Die karkasse van dooie diere lê die leë vlaktes van Boesmanland vol. Foto: Louis Bothma

Die Bloemfonteinse skrywer Louis Bothma se suikerwater vir die boere, wat in ’n skoktoestand is weens die droogte, is sy boeke. Bladsye wat hopelik ’n oomblik se genot sal bring, sê hy.

Tussen die plaas Beenbreek, by Springbok in die Boesmanland, tot Bloemfontein se suburbs moes dié militêre geskiedskrywer al baie hoede dra.

Die oudsoldaat, -dosent en -plaasbestuurder het al tien boeke die lig laat sien en het pas 284 kopieë daarvan in bokse gepak en dit aan die boere van die Boesmanland geskenk.

Elk van hierdie boeke uit sy pen het hy met liefde self vir die boere verpak en gaan aflewer.

Louis Bothma en sy seun, ook Louis (12), op ’n klip waarin Louis se pa, F.C. Bothma, sy naam op 27 Januarie 1967 ingekap het. Die klip is op die plaas Kammasoas by Springbok waar sy pa geboor het vir water. Louis sr. was in 1967 agt jaar oud.Foto: Verskaf

Hy vroetel sy kraaghemp reg. Maak die koffie met groot sorg. Woorde wat vloei en vloei is dié strorieman se afdak.

Seun van ’n boorman van Boesmanland: Dís die hoed wat die beste pas.

Dit is immers Filippus Cornelius, sy boormanpa, se diep spore wat die dryfkrag agter sy skryfwerk was.

“In daardie tyd was die boorman belangriker as die dominee.”

As kind het hy grootgeword met ’n daaglikse soeke na en afwagting op water.

“Ons gesin het in ’n woonwa en tent in die veld gebly. Ons het nie geweet wat dit is om ’n kraan oop te draai en water te kry nie.”

Louis Bothma en sy jare lange vriend Pantser, oftewel Joubert Martins, in die droogtegeteisterde Boesmanland. Toe Bothma sy boeke vir die boere van die Boesmanland geneem het, het Pantser ook ’n bydrae gelewer en pekanneute aan die boere uitgedeel. Foto: Verskaf

Die lesse wat hy deur sy pa se beroep geleer het en die dinge wat hy as kind gesien het, was die dryfveer agter sy boeke.

“Ek assosieer myself met die mense van Boesmanland. Toe ek nou weer daar in die niksheid staan, het ek saam met hulle die seer gevoel wat die droogte veroorsaak.”

Sy liefde en deernis vir dié streek en sy mense lê diep gewortel.

Die idee om die boere van die Boesmanland se lewe te gaan verryk is gebore uit ’n brief van Joubert Martins, ’n jare lange vriend, of soos hy hom ken, Pantser. Martins boer naby Gariepdam.

284 boeke vir 284 boere in die Boesmanland, gereed vir aflewering as bakens van hoop in ’n bittere droogte. Elke boek is deur Louis Bothma geskryf, gedruk en vervaardig.Foto: Louis Bothma

“Môre, Louis. Ek het ’n plan. Kom ek vat jou na daai plek in die Boesmanland waar dit nou vir ses jaar nie gereën het nie. Dan laat jy daai manne lag en weer sin vir die lewe gee. Dan praat jy ’n Vrydag op Springbok. Dan kom ons terug. Dis my en jou bydrae in hulle ellende. Wat sê jy?”

Bothma dink toe verder en vandaar die besluit om vir elk van die boere ’n boek te gee.

“My pa kon destyds vir hulle water aanwys en oop boor, maar ek kan dalk vir hulle ’n verskil maak met ’n boek.

“Ek het dag in en dag uit gesien hoe my pa water soek. Ek het gesien hoe die angstigheid oor ’n boer se gesig groei as daar nie ’n druppel uitloop nie. Hoe daardie angstigheid dadelik met vreugde vervang word wanneer die water begin loop.”

Al die veld is vrolik in die Boesmanland in die jaar 1961. Dié kleurvolle blomme bedek die lande nadat dit reën gekry het ná 'n lang droogte. Foto: Van’s Foto’s in Springbok

Dit is juis oor dít wat hy gesien het en die omstandighede waarin hy grootgeword het, dat hy dalk ’n beter begrip vir die waarde van water het.

“Wat dit beteken om ten nouste gemoeid na water te soek en te hunker.”

Ongekende kommer heers tans oor die ramptoestande wat al vir ses jaar, of selfs langer, elke minuut van elke dag voortsleep.

“Wanneer jy op ’n ongelukstoneel kom en jy gee vir iemand suikerwater vir die skok, vra jy nie of hulle dit waardeer nie, jy gee dit vir hulle, want dis al wat jy op daardie oomblik het om te gee om hulle te help.

“Die suikerwater los nie die probleem of skoktoestand waarin daardie mens is op nie, maar dit help darem om die simptome te verlig.”

Ná 61 jaar, op sy verjaardag, keer Bothma terug na Springbok, sy “komvandaan”, en volg hy in sy pa se voetspore. Ook hy is nou ’n boorman vir Boesmanland se boere. ’n Boorman van hoop.

Dieselfde veld wat vol blomme was in 1961 op 6 Desember 2019. Al wat oorgebly het, is 'n droë landskap en wolke van hoop aan die hemel. Foto: Louis Bothma


Bothma se seun, ook Louis (12), het saamgegaan op die uittog na die Boesmanland.

“Ek wou gehad het hy moes dié wêreld ook beleef. My pa het vir my ’n nalatenskap gelos; deur die boeke doen ek dit vir my seun ook.”

Nog ’n doel met die boeke is om Afrikaans geanker te hou.

“Afrikaans is onder beleg en word uitgerangeer.”

Hy wil sover gaan om te sê dat Boesmanland nog die “Afrikaansste deel” van die land is.

“Op ’n manier is die boeke my rebellie om te sê dat die taal nie so maklik uitoorlê sal word nie, nog minder sy sprekers.”

Om Afrikaans uit te wis, is dit nie die taal wat doodgemaak sal moet word nie, maar die mense wat dit praat, sê hy.


Meer oor:  Boesmanland  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.