Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Clanwilliam-dam se wal sál verhoog word
De departement van water en sanitasie het Donderdag in Kaapstad diplomate ingelig oor die droogte in Suid-Afrika en wat die regering doen om die impak daarvan te versag. Van links is Trevor Balzer, adjunkdirekteur-generaal van die departement, Pamele Tshwete, adjunkminister van die departement, Gugile Nkwinti, minister, en Rashid Khan, streekhoof in die Wes-Kaap. Foto: Malherbe Nienaber

Die werk om die Clanwilliam-dam se wal hoër te maak “sal gebeur” en probleme in die departement wat vertragings veroorsaak het, word opgelos.

Só het Gugile Nkwinti, minister van water en sanitasie, gesê toe hy Donderdag verteenwoordigers van die nuusmedia ten tyde van Wêreldwaterdag in Kaapstad toegespreek het.

Die departement van water en sanitasie het diplomate van verskeie lande genooi na die geleentheid waar inligting verskaf is oor die stappe wat die regering doen om droogtetoestande landwyd en veral in die Wes-Kaap teen te werk.

Die departement het benadruk dat Suid-Afrikaners meer bewus moet raak dat Suid-Afrika ’n droë land is wat ondergemiddelde reën ontvang in vergelyking met die res van die wêreld en veral deur klimaatsverandering geraak kan word.

Dit sal na raming drie tot vyf jaar se behoorlike reën verg om die Wes-Kaap se waterbronne te hervul.

Nkwinti het sy visie vir ’n “waterdienste-transformasie” verduidelik, wat ’n waterdiensteowerheid en -reguleerder insluit, sowel as ’n waardeketting vir waterdienste wat uiteengesit moet word sodat gewone mense elke stap in die proses kan verstaan. ’n Meesterplan vir water word ook gefinaliseer.

Hy het by navraag oor die werk om die Clanwilliamdam se wal hoër te maak gesê hy wil die “versekering gee dat dit sal gebeur”, maar daar is enkele interne kwessies in die departement wat uitgestryk moet word.

Volgens Nkwinti kom dit voor dat “baie min mense nou oor Dag Zero wil praat”, omdat die regering op nasionale vlak nie weet wat dit beteken nie en dit net raaklees.

Gugile Nkwinti, minister van water en sanitasie. Foto: Lisa Hnatowicz

Die departement het aangedui dat projekte om indringerplante uit opvanggebiede te verwyder uitgebrei moet word as bron van werkskepping in gebiede wat onder droogte ly.

Trevor Balzer, adjunkdirekteur-generaal vir spesiale projekte, sê nog ’n boorgat wat by die Theewaterskloofdam gesink is, word vandeesweek getoets.

Een boorgat is 190 m diep en lewer sowat 93 liter per sekonde, terwyl die ander een 103 m diep is en 65 liter per sekonde kan lewer.

Vandeesweek het die Theewaterskloofdam, die grootste in die Wes-Kaap, se vlak op 10,4% gestaan. Die Clanwilliamdam het slegs 6,7% van sy vermoë.

Die volgende aanvullingsprojek, om water na die Voëlvleidam te herlei, behoort in die boekjaar 2021-’22 voltooi te wees.

Rashid Khan, Wes-Kaapse streekhoof van die departement water en sanitasie, het by navraag oor of geld ook aan munisipaliteite se waterprojekte bestee gaan word, aangedui dat die departement reeds die koste dra om die watervoorsieningstelsel te bedryf en te bestuur.

Vir droogtehulp en noodleniging stel die departement van samewerkende regering en tradisionele sake geld beskikbaar.

“Ons moet onthou geld is nie noodwendig die antwoord nie – dit gaan oor hoe jy dit aanwend.”

Balzer het bygevoeg dat die tesourie R6 miljard aan provinsies vir droogte-noodleniging toegewys het. Dit sal van 1 April af beskikbaar wees. Die departement water en sanitasie evalueer projekte ten opsigte van die besteding van dié geld.

Lees ook:

https://www.netwerk24.com/Nuus/Politiek/komitees-vra-volle-ondersoek-na-water-en-sanitasie-20180227

https://www.netwerk24.com/Nuus/Droogte/zille-het-vrae-oor-clanwilliam-se-dam-20180220

Meer oor:  Dam  |  Waterkrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.