Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Dag Zero: Burgemeester haaks met Gift of the Givers

Daar is ontsteltenis omdat die organisasie Gift of the Givers Dinsdag gesê het daar is “geen drinkwater” in die Breedevallei, Drakenstein en die omliggende gebiede nie.

Dié organisasie het ook gesê hy is onderweg met 120 ton drinkwater en dat die “riviere en die damme basies droog is”.

In dié verklaring is genoem dat die uitvoerende burgemeester van die Breedevallei, Antoinette Steyn, een van die mense is wat die vragmotors sou ontvang.

Daar is géén manier dat ek nie sou weet as my mense nie water het nie.

“Daar is géén manier dat ek nie sou weet as my mense nie water het nie,” het Steyn gesê.

“Ek weet van elke pyp wat bars, al is dit om middernag. Niemand hier is sonder drinkwater nie.

“Dit het my nou so kwaad gemaak, want die mense dink nou ons weet nie wat ons doen nie. Mense bevraagteken nou hoe ons ons water bestuur, en ons bestuur dit goed.

“Daar is nou paniek en daar is géén, maar géén rede tot paniek nie. Ons het nou vlak 2-waterbeperkings. Wat my kwaad maak, is my naam is op ’n mediaverklaring en daar is nooit eens daaroor met my gepraat nie. Ek het nooit gevra vir water nie, want ons het dit nie nodig nie.”

Volgens haar het sy gehoor daar is boere wat gevra het vir water vir hul werkers. “Maar ons het oral water.”

Volgens Gift of the Givers is daar boere en plaaswerkers wat nie drinkwater het nie. Die organisasie het gehelp om twee boorgate op De Doorns te sink, maar die gehalte van die water moet nog getoets word.

Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het by navraag gesê dit is nie waar dat daar mense sonder water is of dat Dag Zero aangebreek het nie. Almal, ook boere, wat bekommerd is oor drinkwater, word versoek om hul plaaslike owerheid of die Wes-Kaapse rampbestuursentrum te bel, van waar alles behoorlik bestuur word.

Ons versoek mense om hul inligting na te gaan, het hy gesê.

Imtiaz Sooliman, van Gift of the Givers, het by navraag volgehou dat boere sonder water is en dat die rampbestuurowerhede die organisasie gekontak het. “As mense sonder water is en vir water vra, dan is dit Dag Zero vir hulle. Skole en ander mense vra ons elke dag vir water. Maak nie saak wie sê wat nie.”

Hy het bygevoeg twee vragmotors met water het reeds in “die Paarl en Wellington aangekom, omdat daar mense langs die Bergrivier is wat nie water het nie”. Dit is vir boere en hul werkers, want daar is “op baie plekke sedert Februarie nie drinkwater nie”.

Luidens die verklaring van Gift of the Givers sou hulle ook Dinsdag begin het om 42 vraghouers met gebottelde water te laai in hul logistieke sentrum in Bramley. Dit sal na Durban se hawe geneem word en daarna per skip tot in Kaapstad.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.