Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Dag Zero-vrese skok Kapenaars tot aksie

Bangmaakstories oor ’n naderende Dag Zero het gehelp om dié dag in Kaapstad af te weer, het navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) en die Universiteit van Kaapstad (UK) bevind.

Die navorsing, wat in die aanlyn weergawe van die vaktydskrif Water Research gepubliseer is, toon waarskuwings oor droë krane op Dag Zero het ’n veel groter impak as waterbeperkings op Kapenaars se waterverbruik gehad.

“Ons het data van slim watermeters vergelyk met kostedata van die Kaapse metroraad. Dit toon ’n merkwaardige sukses aan die kant van inwoners om hul waterverbruikspatrone oor ’n relatief kort tydperk te verander,” sê prof. Thinus Booysen, een van die navorsers, van die departement elektriese en elektroniese ingenieurswese aan die US.

Booysen het die navorsing saam met Martine Visser van die UK se skool vir ekonomie en Ronelle Burger van die US se departement ekonomie gedoen.

“Ons bevindings wys hoewel bangmaakstories ’n riskante strategie vir die Kaapse metroraad was, was dit moontlik die suksesvolste ingryping om Kapenaars se watergebruiksgedrag te verander.”

Kapenaars staan in lang toue om waterbottels vol te maak. Foto: Morgana Wingard/Getty Images

Die navorsers het gekyk na die volgorde van gebeure wat tot waarskuwings oor Kaapstad se “Dag Zero” gelei het.

Hulle het gevind daar was ’n toename in waterverbruik ná die eerste week van September 2017 toe vlak 5-beperkings van krag geword het en weer ná 31 Januarie 2018 toe vlak 6B-beperkings ingestel is.

In daardie stadium het huishoudings met slim watermeters 250 liter water per dag gebruik. Dit is gelykstaande aan 7,5 kiloliter per maand (Kaapstad se gemiddelde was 300 liter per dag). Aan die einde van die September-skoolvakansie het verbruik tot meer as 350 liter per dag (of 10,5 kiloliter per maand) toegeneem.

Navorsers het ook reaksie in die hoofstroommedia en op sosiale media oor aankondigings van die owerhede ontleed. Volgens Booysen wou hulle verstaan hoe Kapenaars die stortvloed kennisgewings en nuus tydens die krisis gehanteer het.

“Ons ontleding van die reaksie toon dit was die grootste toe ’n driefase-rampplan aangekondig is en nie toe beperkings of tariefverhogings ingestel is nie.

“In die week voor die daling in waterverbruik was daar ’n toename in reaksie wat met paniek oor die droogte verband gehou het. Daar was ’n afname in die gebruik van terminologie oor vlak 5-beperkings. Skerp stygings in die frekwensie van woorde wat met paniek oor die droogte verband hou, het egter nie met die aankondiging oor vlak 5-waterbeperking op 3 September oorvleuel nie.”

Booysen sê dié stygings skep die indruk dat die aankondiging van strenger waterbeperkings moontlik ’n kleiner uitwerking gehad het as die mediawaansin en bangmaakstories wat op die bekendmaking van die rampplan vir kritieke watertekorte gevolg het.

Dié plan het gefokus op die risiko van droë krane, die moontlikheid dat mense by versamelpunte in rye sou moes staan vir waterrantsoene, en die verhoogde bedreiging van brande en siektes in digbewoonde nedersettings.

Bangmaakstories het Dag Zero help voorkom

• Kapenaars reageer sterker op waarskuwing van leë krane as op waterbeperkings

• Soundbite beskikbaar.

Waarskuwings oor krane wat op Dag Zero leeg sou loop, het ’n veel groter impak op Kapenaars se waterverbruik gehad as waterbeperkings.

“Ons bevindinge dui daarop dat Kapenaars sterker op die waarskuwing van leë krane as op waterbeperkings gereageer het. Ons slim watermeter-data gekombineer met kostedata van die Stad Kaapstad dui op ’n merkwaardige sukses aan die kant van inwoners om hul verbruikspatrone oor ‘n relatief kort tydperk te verander,” sê een van die navorsers prof Thinus Booysen van die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese aan die US. Booysen het die navorsing saam met Martine Visser van die UK Skool vir Ekonomie en Ronelle Burger van die US se Departement Ekonomie gedoen.

“Uit ons studie blyk dit dat hoewel bangmaakstories ‘n riskante strategie vir die Stad Kaapstad was, dit moontlik die mees suksesvolle intervensie was om Kapenaars se gedrag rakende waterverbruik te verander.”

Booysen sê hulle het die warmwater-verbruik in Kaapstad met dié van Mpumalanga en Gauteng vergelyk, want hoewel hierdie provinsies nie deur droogte geaffekteer is nie, het hulle baie van dieselfde dryfvere vir verandering as Kaapstad ondervind.

Hy voeg by dat aangesien huishoudings met Geasies en Dropulas hoofsaaklik uit die hoogste inkomstegroep kom, en waarskynlik meer ingelig is en op bewaringsboodskappe reageer, het hulle hul bevindings geverifieer deur hul data te vergelyk met dié van die Stad Kaapstad se huishoudelike gebruikers se totale waterverbruik, sowel as dié in die hoogste inkomstegroep onder die Stad se waterverbruikers. Booysen wys daarop dat hierdie huishoudings ook die meeste water gebruik.

'n Verdere vermindering het gevolg op die implementering van vlak 6B-beperkings op 1 Februarie, waarna waterverbruik 'n plato bereik het en effens toegeneem het met die aankondiging op 22 Februarie dat Dag Zero tot Julie uitgestel is.
Prof Thinus Booysen van die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese aan die US.

Hy sê hul studie toon daar was ‘n toename in waterverbruik ná die eerste week van September 2017 toe vlak 5-beperkings geïmplementeer is en ná 31 Januarie 2018 toe vlak 6B-beperkings ingestel is.

Wat die verskil in waterverbruik tussen Kaapstad en die twee ander provinsies betref, sê Booysen dat dit vanaf middel Augustus 2017, ná die bekendstelling van die Water Resilience-plan, gedaal het, maar ná die tweede week van September tot ‘n verskil van 9 liter per dag gestyg het.

Hy meen drie gebeure in die eerste twee weke van Augustus kan moontlik die oënskynlike afplatting en die daaropvolgende afname in die laaste gedeelte van Augustus verklaar: die nasionale regering het die Stad Kaapstad gekritiseer oor sy trae reaksie op die droogtekrisis; die Stad het gedreig om waterbeperkingstoestelle te installeer vir diegene wat baie water gebruik; en die jaarlikse blommeskou aan die Weskus is weens die droogte gekanselleer.

Booysen sê ‘n week ná die aankondiging van die rampplan op 4 Oktober 2017, het die verskil tussen die streke begin toeneem en is 21 liter per dag bereik in die eerste week van November, wat op ‘n aansienlike vermindering in Kapenaars se waterverbruik dui.

“ 'n Week nadat vlak 5-beperkings ingestel is, het die warm waterverbruik in Kaapstad aansienlik toegeneem en die verskil tussen die twee groepe het in die daaropvolgende vier weke vinnig tot 2 liter per dag verminder. Dit dui op verminderde besparings na die implementering van vlak 5-beperkings.

“Ná die vakansie, wat met die implementering van vlak 6-beperkings saamgeval het, het die verskil tussen die groepe geleidelik toegeneem en is 33 liter per dag bereik in die laaste week van Januarie 2018, aangesien Kapenaars minder water gebruik het in reaksie op die dreigende krisis en die instelling van vlak 6B-beperkings.”

Booysen sê die koue waterverbruik van huishoudings met Dropulas was soortgelyk aan die van die Stad Kaapstad.

“Maar na die tweede week in Januarie was daar 'n geleidelike toename in verbruik tot vlakke hoër as voor die vakansie. Dit was ooreenstemming met ‘n toename in die huishoudelike data van die Stad Kaapstad. Hierdie toename het 'n piek bereik kort nadat die Stad vlak 6B-beperkings aangekondig het. 'n Verdere vermindering het gevolg op die implementering van vlak 6B-beperkings op 1 Februarie, waarna waterverbruik 'n plato bereik het en effens toegeneem het met die aankondiging op 22 Februarie dat Dag Zero tot Julie uitgestel is.”

Booysen sê dié stygings skep die indruk dat die aankondiging van strenger waterbeperkings moontlik 'n geringer effek gehad het as die mediawaansin en bangmaakstories wat op die vrystelling van die rampplan vir kritiese watertekorte gevolg het.

Hoofstroommedia en sosiale media

Die navorsers het ook reaksies in die hoofstroommedia en op sosiale media op aankondigings van die regering ontleed deur te kyk na uitdrukkings wat met waterbeperkingsvlakke en die vrees vir die droogte en sy gevolge verband gehou het.

Hulle het gesoek vir woorde soos “Vlak 5 of Vlak 5-beperkings of Vlak 5-waterbeperkings of waterbeperkings”, “versamelpunte”, “ramp”, “krisis”, “Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag”, “gebottelde water” en “boorgat”.

“Ons wou aspekte rondom die groeiende toename in die publiek se omgang met die waarskuwing van leë krane identifiseer ten einde te verstaan hoe Kapenaars die stortvloed kennisgewings en nuus tydens die krisis gehanteer het,” sê Booysen.

Hy voeg by dat hulle hul soektogte tot Augustus 2017 en Oktober 2017 beperk het omdat hul data daarop gedui het dat daar in hierdie tydperk ‘n sterk en konstante afname was in waterverbruik in huishoudings wat deel van hul steekproef was.

“Ons ontleding van die terme wat gedurende hierdie tydperk gebruik is, toon die reaksie was die grootste toe ’n driefase-rampplan wat oor die rampspoedige gevolge gewaarsku het, aangekondig is en nie toe beperkings of tariefverhogings ingestel is nie.”

“Gedurende die week voor die daling in waterverbruik was daar ‘n toename in uitdrukkings wat met paniek oor die droogte verband gehou het. Daar was ‘n afname in terminologie oor vlak 5- beperkings. Skerp stygings in die frekwensie van woorde rakende paniek oor die droogte het egter nie met die aankondiging oor vlak 5-waterbeperking op 3 September oorvleuel nie.”

Booysen sê dié stygings skep die indruk dat die aankondiging van strenger waterbeperkings moontlik 'n geringer effek gehad het as die mediawaansin en bangmaakstories wat op die vrystelling van die rampplan vir kritiese watertekorte gevolg het. Dié plan het gefokus op die risiko van krane wat leeg sou loop, die moontlikheid dat mense by versamepunte in rye sou moes staan vir waterrantsoene, en die verhoogde bedreiging van brande en siektes in digbewoonde nedersettings.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.