Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Dam by Bloem droog op

Mockesdam, een van die damme wat water aan die noorde van Bloemfontein voorsien, is dolleeg en het weens die versengende hitte heeltemal opgedroog. Duisende visse het ook reeds gevrek.

Dr. Tseliso Ntili, Vrystaatse hoof van die departement van waterwese en sanitasie, het bevestig dat die Mangaung-metro, wat die watersuiweringsaanleg by Maselspoort beheer, ’n versoek tot Bloemwater gerig het om water uit die Rustfonteindam vry te laat waarvoor Mangaung onderneem om te betaal.

Die kurkdroë Mockesdam by Bloemfontein. ’n Groot volume water word Donderdagaand en Vrydagoggend vroeg uit die Rustfonteindam vrygelaat vir dié leë dam. Foto: Louw Mlungisi

’n Groot volume water, na raming 1,5 miljoen kiloliter, word Donderdagaand en Vrydagoggend uit die Rustfonteindam vir Mockesdam vrygelaat, wat langs Maselspoort is.

Rossouw Botes, DA-raadslid belas met watersake, het bevestig dat Mockesdam dié week dolleeg geraak het, maar nou weer water vanuit die Rustfonteindam ontvang.

Botes sê Mockesdam is hoofsaaklik daar om Maselspoort van water te voorsien sodat die Maselspoortaanleg daaruit water kan onttrek en suiwer. Van die aanleg af word 31% van Bloemfontein se water voorsien, hoofsaaklik aan inwoners van die noordelike voorstede.

Hy sê inwoners het hom Dinsdagaand ingelig hoe sleg die situasie by die feitlik dolleë Mockesdam is waar gevrekte visse oral op die oewers lê.

Die leë Mockesdam ontvang Donderdagaand en Vrydagoggend water uit die Rustfonteindam.Foto: Mlungisi Louw

Volgens Botes staan die Rustfonteindam se vlak nou op 25,4%. Water kan uit die Knellpoortdam na die Rustfonteindam oorgepomp word. Die Knellpoortdam se damvlak is 70,3%.

“Hoewel Maselspoort self nog voldoende water het om te suiwer en aan die gemeenskap van Bloemfontein te kan lewer, bestaan kommer oor sekere noodsaaklike instandhoudingswerk wat by Maselspoort gedoen moet word.”

Botes sê hy gaan ook die gesondheidsrisiko wat die dooie visse inhou met die betrokke provinsiale en munisipale departemente opneem.

Dooie visse lê orals aan die kante van die Mockesdam.Foto: Mlungisi Louw

Hy sê Bloemfonteiners moet onthou dat vlak 3-waterbeperkings steeds geld en dat hulle die bepalings daarvan moet nakom.

Qondile Khedama, hoofbestuurder: kommunikasie van die metro, het die inligting bevestig en gesê die situasie word fyn dopgehou.

Hy sê die groot hoeveelheid rouwater wat vrygelaat sal word, behoort vir eers genoeg te wees om die Maselspoort-watersuiweringsaanleg te voed.

Dooie visse dobber op die klein poeletjie water wat in die Mockesdam by Bloemfontein oor is. Foto: Mlungisi Louw
Meer oor:  Mangaung-Metro  |  Bloemwater  |  Rossouw Botes  |  Bloemfontein  |  Droogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.