Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Damvlakke in Limpopo daal tot 55,8%

Groot kommer heers oor die voortslepende droogte in Limpopo wat die provinsie se damvlakke vandeesweek tot 55,8% laat daal het.

Sputnik Ratau, woordvoerder van die nasionale departement van water en sanitasie, sê dit is veral die sentrale deel van Limpopo, sowel as die Giyani-omgewing, wat erg geraak word.

Die Middel-Letaba-dam wat etlike klein nedersettings in Giyani van water moet voorsien, is dolleeg. Luidens die departement van water se nuutste statistieke is die damvlak amptelik 0,7%.

Die Doorndraaidam wat Mokopane van water voorsien, het slegs 8,4% water. Inwoners van Mokopane sukkel al langer as twee jaar met erge watertekorte weens die droogte.

Ratau sê die Glen Alpine-dam in die Mogalakwena-rivier het slegs 5,7% water.

“Die dam moet verskeie dorpies in die Waterbergstreek van Limpopo van water voorsien. Ons hoop die reën wat vir die volgende paar dae voorspel word, kan die vlak van die dam laat styg.”

Die Ebenezerdam buite Polokwane in Limpopo het slegs 16,5% water. Foto: Rudzani Tshikororo

Inwoners van Polokwane gaan ook gebuk onder erge watertekorte met die Ebenezerdam in Haenertsburg wat slegs 16,5% water het. Die Polokwane-munisipaliteit het reeds vroeër vanjaar beurtwater vir die stad ingestel en watertoevoer na groot gedeeltes van die stad word elke aand toegedraai.

Inwoners van Seshego buite Polokwane het Maandag boomtakke aan die brand gesteek en paaie versper omdat hulle krane al etlike dae droog is. Hoogliggende woonbuurte word ook deur die watertekorte geraak.

Dit is net die Oos-Kaap se damvlakke wat laer (51%) as dié van Limpopo is.

Ratau sê goeie reënval in die Oos-Kaap het damvlakke effens laat styg. “Reën word vir die volgende week voorspel wat hopelik die provinsie se damvlakke tot 55% kan laat styg.”

Die afgelope paar weke se deurdringende reën het ook damvlakke in Gauteng vanaf 91,7% verlede week tot 96,1% vandeesweek laat styg.

Die damvlakke in die Wes-Kaap het van 77,2% verlede week tot 76% vandeesweek gedaal.

Ratau sê dit is egter steeds ’n groot verbetering as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar toe die provinsie se damvlakke 16% laer was.

Die Theewaterskloofdam se vlak is vandeesweek 97,3% teenoor die 69,5% wat dit verlede jaar in Desember was.

Die Vrystaat se damvlak is luidens die nuutste inligting van die departement van water en sanitasie 72,4%. Die Vanderkloofdam is 79% vol.

Mpumalanga se damvlakke het danksy goeie reënval van 63,4% verlede week tot 64,4% vandeesweek gestyg.

Ratau sê wydverspreide reënval in KwaZulu-Natal is ’n welkome verligting vir veral die droë Umkhanyakude-streek. Die provinsie se damme is 54,1% vol.

Die Noord-Kaap se damvlakke het van 87,7% verlede week tot 93,5% vandeesweek gestyg.

Die gemiddelde vlak van damme in Noordwes is 64,1%.

Meer oor:  Limpopo  |  Damvlakke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.