Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Damvlakke styg ná kouefronte in Wes-Kaap

Damvlakke in die Suidwes-Kaap het die afgelope week ’n geweldige sprong getoon nadat twee kouefronte die provinsie getref het.

Donderdag is daar weer ’n 30%-kans op nog reën oor groot dele van die Wes-Kaap.

Water stroom Sondag in ’n kanaal na die Voëlvleidam, tussen Gouda en Wellington. Foto: Samuel Walters

Die provinsie se gemiddelde damvlak was Maandag op 44,4% teenoor 41,2% ’n week gelede. Verlede jaar dié tyd was dit op 39,4%.

Kaapstad se gemiddelde damvlak het oor die afgelope week van 58,5% tot 62,6% toegeneem, teenoor 52,6% dié tyd in 2019.

Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement van water en sanitasie, sê in ’n verklaring die swaar reën het broodnodige water aan die Wes-Kaap se damme verskaf.

Enkele damme soos die Eikenhofdam, Lakenvalleidam en Stettynskloofdam se vlakke het die afgelope week met meer as vyf persentasiepunte gestyg.

Ratau sê die departement hoop goeie reën duur voort en dat die damvlakke aanhou styg.

“Die 2019-’20-winterreënseisoen is beter as dié van 2016 tot 2018. Dié tydperk is gekenmerk deur voortdurende droogte wat daartoe gelei het dat die provinsie se gemiddelde damvlak tot so laag soos 17% in April 2018 gedaal het.”

Die pomptoring van die Voëlvleidam in die Wes-Kaap, een van die ses groot damme wat water aan Kaapstad verskaf. Die damvlak het die afgelope week van 54,8% tot 57,6% gestyg. Foto: Samuel Walters

Die vlak van die Theewaterskloofdam, die grootste opgaardam in die provinsie, het oor die afgelope week van 55,4% tot 59,3% gestyg teenoor 44,5% ’n jaar gelede.

Die vlakke van ander damme wat water aan Kaapstad verskaf lyk so:

• Benede-Steenbrasdam: 49,3% (48,1% verlede week) met 25,5 mm reën in die voorafgaande sewe dae

• Bo-Steenbrasdam: 100,7% (99,6%)

• Voëlvleidam: 57,6% (54,8%) met 42 mm reën

• Bergrivierdam: 81,2% (73,9%) met 109 mm reën en

• Wemmershoekdam: 50% (43,7%) met 91 mm reën.

In die noordweste van die provinsie het die Clanwilliamdam se vlak van 18% tot 19,9% gestyg, teenoor 16,4% in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Nog reën kan Donderdag oor groot dele van die Wes-Kaap uitsak, nadat twee kouefronte verlede week vir swaar reën en stormwind gesorg het. Foto: Jaco Marais

In die Karoo het die meeste damvlakke effens gedaal en bly baie damme se vlakke nog uiters laag:

• Floriskraaldam naby Laingsburg: 15,9% (16,1% verlede week) met 3,6 mm reën;

• Calitzdorpdam: 50,8% (50,6%);

• Leeu-Gamkadam: 24,2% (25%);

• Gamkadam naby Beaufort-Wes: 30,3% (30,7%) met 1 mm reën;

• Gamkapoortdam naby Prins Albert: 0,17% (0,19%) met 1,2 mm reën;

• Stompdriftdam naby Oudtshoorn: 8,49% (8,53%) met 2,6 mm reën; en

• Kammanassiedam naby Oudtshoorn: 0,1% (0,1%).

In die Suid-Kaap het die meeste damvlakke ook gedaal en is reënval van meestal onder 5 mm die voorafgaande sewe dae gemeet:

• Duivenhoksdam naby Heidelberg: 99,5% (99,9% verlede week);

• Korentepoortdam naby Riversdal: 79,4% (79,2%) met 1 mm reën;

• Wolwedansdam naby Mosselbaai: 60,9% (61,6%) met 5,4 mm reën; en

• Tuinroetedam in George: 91,5% (92,9%) met 3,6 mm reën.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens verwag koel en sonnige tot gedeeltelik bewolkte weer tot Donderdag oor die meeste dele van die provinsie.

Donderdag is daar ’n 30%-kans op reën in Kaapstad, die Paarl, Malmesbury, Ceres, Langebaan, Grabouw, Kaap Agulhas, Riversdal, Mosselbaai en George.

Vir Hermanus word ’n 60%-kans op reën voorspel en vir Plettenbergbaai ’n 30%-kans op buie.

Teen Vrydag word gedeeltelik bewolkte weer oor die grootste deel van die Wes-Kaap verwag, met maksimum temperature van sowat 20 °C.

damvlakke
Meer oor:  Wes-Kaap  |  Damvlakke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.