Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Dié dorpe se water raak gou op

In ’n week waarin almal gryp na kerse kan Rapport nou bevestig dat ons land se krane ook vinnig besig is om droog te raak . . .

Groot dele van Suid-Afrika se wateraanvraag oorskry tans die beskikbare aanbod en ons is reeds in talle dorpe, stede en gebiede besig om water te gebruik wat vir later gespaar moes word (sien die grafika hiernaas).

Dít blyk uit navorsing oor watersekuriteit wat Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, onlangs voor die parlement ter tafel gelê het.

Die verdoemende dokument van 13 bladsye lys streke, dorpe, stede en munisipaliteite in al nege provinsies waar die aanvraag vir water reeds die huidige aanbod oorskry. Plekke waar die aanbod die aanvraag oor die volgende vyf en tien jaar gaan oorskry, word ook aangedui.

Sisulu het gesê die dokument is die gevolg van “ ’n diepte-analise van beskikbare waterbronne oor die hele Suid-Afrika heen” en al is die navorsing reeds in 2014 gedoen, word die inligting opgedateer in samewerking met die verskeie waterrade en waterdiensverskaffers landwyd.

Sputnik Ratau, departementele woordvoerder, het ook aan Rapport bevestig dat dit die nuutste data in die departement se besit is.

“Ons het die studie gedoen om ’n vooruitskatting te kry van die ergste moontlike toestande wat wag sodat ons na behore kan beplan,” sê hy.

Die studie is gegrond op ’n werkende watersisteem . . . wat nie oral in die land die geval is nie.

Ratau sê dié feit is ook in ag geneem.

Hy sê die algemeenste oorsake van Suid-Afrika se watertekort is:

  • minder reën, asook droogte en klimaatsveranderings;
  • groeiende bevolkings; industriële groei;
  • verouderde infrastruktuur; besoedeling; watervermorsing weens lekplekke by huise, strate en groot wateraanlegte;
  • vandalisme; en
  • onwettige waterverbindings.

Dr. Willem de Clercq van die Waterinstituut by die Universiteit Stellenbosch sê die nuus oor ons groot waternood is al jare algemeen bekend in waterkringe.

“Die harde werklikheid is dat ons by die eindpunt is van ons watervoorraad – ons het die plafon bereik. Soos die huidige situasie met elektrisiteit, gaan mense dringend moet begin kyk hoe hulle op ’n daaglikse basis water kan spaar,” sê hy.

“Die grootste uitdaging is dat bestaande sisteme verander moet word om meer water beskikbaar te stel en te stoor. En daarvoor moet ek vir die departement krediet gee – planne om genoeg water te voorsien is al jare lank gereed, maar dis die uitvoering van die planne wat skipbreuk ly. Die meeste daarvan is nog net op papier terwyl dié idees eintlik nou al resultate moes lewer,” sê hy.

Ratau sê planne waarna die departement kyk, is:

  • Die ontginning van nuwe waterbronne soos riviere waarin daar nie tans damme gebou is nie;
  • Ontginning van beskikbare ondergrondse water;
  • Herwinning en suiwering van gryswater;
  • Opvang van meer reënwater; en
  • Ontsouting van seewater waar moontlik.

Hy kon egter nie sê watter van dié planne al ontwikkel en uitgevoer is nie.

De Clercq sê die groot rede hiervoor is dat die departement nie geld het om die planne deur te voer nie. Die droogte in dele van die land het ook die departement gedwing om op noodmaat­reëls eerder as langtermynbeplanning te fokus.

Ontsouting is, volgens De Clercq, net een van vele projekte wat nou al water moes lewer terwyl daar nog nie eens met bouwerk begin is nie.

Ratau sê die departement gaan binnekort ’n nasionale water- en sanitasie-ingrypingsplan van stapel laat loop. Hulle wag net vir die minister om goedkeuring te gee.

Dr. Anthony Turton van die departement omgewingsbestuur aan die Universiteit van die Vrystaat waarsku egter dat die departement se reddingsplanne dikwels te veel klem plaas op verbruikers wat water moet spaar.

“Dit word oor en oor gesê en hulle klink al soos ’n plaat wat vashaak. Mense moet onthou dat die daaglikse watergebruik, soos drinkwater en water om toilette te spoel, net ongeveer 2% van Suid-Afrika se daaglikse watergebruik uitmaak,” sê Turton.

“Die grootste hoeveelheid water word benodig vir landbou en industriële aktiwiteite. As ons water opraak, gaan dit enorme implikasies hê vir ons land se ekonomiese welstand.”

Hy sê buitelandse beleggers is reeds bang om in Suid-Afrika te belê weens uitdagings soos elektrisiteit. As ons dan boonop ook waterprobleme gaan hê, gaan die risiko net te groot raak

“Daarom is ’n paar kenners tans besig om die South African Business Water Chamber op die been te bring wat saam met die regering die uitdagings die hoof wil bied.”

Meer oor:  Droogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.