Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
‘Ons kan nie nog boere verloor’
‘Die land sit op ’n kruitvat’
Foto: Vida Booysen

Suid-Afrika sit op ’n kruitvat weens die landwye droogte, die regering se verdelende uitsprake en geweldmisdaad teen boere en plaaswerkers.

So het Johannes Möller, president van Agri SA, Woensdag ­gewaarsku.

“Die landwye droogte is die grootste natuurramp in 30 jaar en gaan gepaard met werkverliese, verdere ekonomiese verval en maatskaplike onstabiliteit.

“Armoede en voedselonsekerheid is onderliggend aan hierdie uiters desperate situasie wat ­alle Suid-Afrikaners raak.”

Möller het in ’n verklaring ­gesê die regering moet dringend aandag gee aan geweldmisdaad op plase. “Die regering kan nie net toekyk hoe landelike gemeenskappe, boere en plaaswerkers vasgevang word in hoë vlakke van geweld nie. Iets sal moet meegee indien die huidige misdaadsituasie voortduur.”

Agri SA het Dinsdag met Senzeni Zokwana, minister van landbou, bosbou en visserye, in Pretoria vergader om die droogte te bespreek.

Hulle het aan hom gesê as die regering nie iets drasties aan die droogte doen nie, kan dit die landbou, die ekonomie en voedselsekerheid op lang termyn in ’n geweldige krisis dompel.

Die organisasie samel tans landwyd inligting oor die droogte in en sal einde vandeesmaand ’n volledige verslag oor die uitwerking daarvan en aanbevelings oor wat op hoë vlak daaraan gedoen moet word, aan die departement voorlê.

Tussen R15 miljard en R20 miljard is na raming nodig vir droogtehulp.

Bomikazi Molapo, Zokwana se woordvoerder, sê die departement hou Vrydag nog ’n vergadering oor die droogte en sal daarna verdere stappe bekend maak.

Ons moet op grond van die ergste scenario te werk gaan.

Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA, het Woensdag gesê die aanvanklike doel van die vergadering was om die regering in te lig oor die uitwerking van die droogte op Suid-Afrika en die landbousektor.

Nog twee provinsies kan binnekort weens die droogte tot rampgebiede verklaar word. Vyf is reeds.

Van Zyl sê die droogte kan langtermyngevolge hê as daar nie nou genoeg gedoen word nie.

“Ons kan nie bekostig om boere te verloor nie omdat hulle op lang termyn kos moet produseer. Die landbou is die slagaar van die ekonomie en as die regering nie daarna kyk nie, sal dit ’n impak op die hele ekonomie en voedselsekerheid hê. Dit is baie ernstig en ’n nasionale probleem.”

Hy sê daar kan nie meer gehoop word vir reën om die droogte te beëindig nie.

“Ons moet op grond van die ergste scenario te werk gaan.”

Volgens Van Zyl het Agri SA dit duidelik aan die departement gestel dat Suid-Afrika in die moeilikheid is.

“Dit is ’n saak van nasionale belang. Subsidies en finansiële hulp word vir die hele waardeketting in die sektor benodig om die situasie te beredder.

“Die regering moet ingryp omdat dit nie net ’n landbouprobleem is nie, maar ’n voedsel­sekerheidsprobleem.”

Meer oor:  Droogte  |  Boere  |  Landbou  |  Plaaswerkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.