Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Dis moeilikheid, sê voorspeller oor reën wat wegbly

Met net enkele wolke wat Woensdag in die binneland saamgepak het, maar geen reën gebring het nie, sal die hittegolf nou eers Vrydag sy tasse pak.

“Ons is in die moeilikheid,” sê Michael Nethavhani, weervoorspeller in die Bloemfonteinse weerkantoor.

Vir die volgende 14 dae sal daar volgens hom geen reën in die oostelike dele van die Vrystaat en Noordwes val nie.

Met net enkele wolke wat Woensdag in die binneland saamgepak het, maar geen reën gebring het nie, sal die hittegolf nou eers Vrydag sy tasse pak. Foto: Mlungisi Louw

Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou, meen goeie reën is wel op pad aan die einde van Januarie.

“Dit lyk tog asof die weer verbeter vir die laaste paar dae van Januarie en die eerste week van Februarie.”

Planttyd is egter verby vir omtrent alle somergewasse, selfs sonneblomme. Dít wat nou in die grond is, moet lewend bly.

“Om die situasie te stabiliseer is nou noodsaaklik. As die reën kom, gaan dit baie help, maar potensiaal moet behoue bly.”

Opvolgreën is ook krities, veral in die helfte van Maart, as die meeste somergewasse in die reproduksiestadium is, sê Van den Berg.

“As daar dán steeds ’n droogte is, kan ernstige skade voorkom.”

Hy sê die boere in die Noordwes-Vrystaat word deur ernstige risiko’s in die gesig gestaar as die ryp voor April vanjaar kom. Die kans is volgens hom 40% dat ligte ryp voor 10 April in die distrik Bothaville kan voorkom.

“Die gewasse gaan net doodryp of die gehalte van die plant word beïnvloed.”

’n Mielieland buite Bloemfontein smag na reën.Foto: Mlungisi Louw

Martin Stols, ’n graanboer van die plaas Braklaagte buite Bothaville, sê hulle het Maandag 90% van hul gewasse geplant nadat hulle kort voor die nuwe jaar eers begin plant het.

“Ons vat ’n helse kans, maar ons hoop vir die beste. My pa sê hy het nog nie so ’n jaar gesien nie.”

Stols sê daar is 250 ha droë grond op die plaas wat hulle anders as gewoonlik moes benader.

Dekgewas, ’n kombinasie van verskillende soorte voerspesies, is ’n soort plan B om die grond se gehalte te verbeter.

Dit bou volgens Stols koolstof in die grond op.

“Maar dit bou moeilik op in hierdie gebied. Ons wil die dekgewasse ook gaan bewei en kyk of ons met die beeste nog ’n inkomste kan bewerkstellig.

“ ’n Ander plan is om die lande te laat oorlê en dit skoon te hou vir die seisoen en so die vog te bewaar vir die volgende jaar, maar ons is bang vir erosie.”

Met net enkele wolke wat Woensdag in die binneland saamgepak het maar geen reën gebring het nie, sal die hittegolf nou eers Vrydag sy tasse pak.Foto: Mlungisi Louw

In die meer oostelike gedeeltes van die land lyk dit asof die meeste van die beplande oppervlak aangeplant is.

Luan van der Walt, ekonoom by Graan SA, sê die westelike dele van die land (dit sluit die Sentraal- tot Noordwes-Vrystaat en die Noordwes-provinsie in) is waar die groot probleem rakende die aanplantings is.

“Vir die produsente is die grootste risiko’s produksie en prys. Die vorige droogtejaar was daar baie produksierisiko, waarna dit vir twee seisoene weer in ? prysrisiko-situasie ingegaan het. Hierdie seisoen heers daar weer ’n groot produksierisiko-situasie.”

Die afgelope twee tot drie jaar was moeilike jare vir saaiboere, veral in die westelike produksiegebiede, wat dit ’n lang siklus maak. Dit het reeds ’n groot negatiewe finansiële uitwerking op die produsente gehad, sê Van der Walt.

Dit sal volgens hom ’n uitsonderlike produksiejaar en goeie prysjaar moet wees vir saaiboere se finansiële posisie om te herstel.

“Hierdie twee aspekte gaan nie hand aan hand nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.