Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Donker prentjie oor boerdery, wild in SA geskets

As dit nie gou begin reën nie, kan net 5% van die wild in die Noord-Kaap oorbly, en al hoe meer boere in die droogtegeteisterde gebiede begin hul vee slag omdat hulle nie meer voer kan bekostig nie.

In die oostelike mieliegebiede van die land is daar net enkele dae oor om te plant, en tot 66% van melkboere in die Vrystaat is op die punt om die handdoek in te gooi.

Plattelandse ekonomieë word erg deur die droogte geraak.

Baie werkgeleenthede gaan verlore en die vrugtebedryf ly ook skade.

Dié bedryf verloor al hoe meer markte omdat die bedryf nie genoeg vrugte kan lewer nie.

Die Wes-Kaap, een van die broodmandjies van die land, se landbou-uitvoer het met 25% gedaal.

Jannie de Villiers (regs), uitvoerende hoof van Graan SA, en Willem Symington, visepresident van Agri Noord-Kaap op Agri SA se mediakonferensie in Centurion. Foto: Sarel van der Walt

Dit is van die skokkende feite wat Dinsdagoggend in Centurion op ’n mediakonferensie van Agri SA oor die droogte-ramp in die land gegee is.

Ander lande in Suider-Afrika gaan ook gebuk onder die droogte, wat beskou word as die ergste in ’n honderd jaar.

Almal wat aan die mediakonferensie deelgeneem het, het gesê dit is dringend noodsaaklik dat die regering moet ingryp en die land se boere moet help.

Daar moenie net hulp vir opkomende boere wees nie, maar ook aan die kommersiële boere wat ’n groot rol speel in voedselsekerheid.

Dr. Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO), sê die droogte in die Noord-Kaap het daartoe gelei dat talle boere net sowat 30% van hul kuddes oor het. Hy beskryf die droogte hier as ’n “humanitêre ramp”.

Schutte sê die positiewe is dat die Suid-Afrikaanse veebedryf die vermoë het om by klimaatsverandering aan te pas.

Willem Symington, adjunkpresident van Agri Noord-Kaap, het die droogte wat al die laaste ses jaar al hoe feller word, as ’n “klimaatsramp” vir die landbou beskryf.

Groot dele van die land moes volgens hom ’n jaar gelede al tot rampgebiede verklaar gewees het.

Jannie de Villiers (regs), uitvoerende hoof van Graan SA, en Willem Symington, visepresident van Agri Noord-Kaap op Agri SA se mediakonferensie in Centurion. Foto: Sarel van der Walt

, uitvoerende hoof van Agri SA, sê klimaatsverandering beïnvloed alles.

“Die hele voedselketting is in gevaar. Hierdie droogte is ’n Suid-Afrikaanse krisis en die hele land moet nou saamwerk om die probleem te takel,” sê hy.

“Voedselsekerheid is ’n nasionale prioriteit. Die volgende jaar sal bepalend wees.”

Christo van der Rheede, adjunk- uitvoerende hoof van Agri SA, sê die publiek kan help deur skenkings aan Agri SA se rampfonds te maak om die land se boere te help.

Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, sê wat die graanbedryf betref is dit nog nie ’n nasionale ramp nie, maar dit kan een word as dit nie voor die einde van Desember goed reën in die mieliegebiede nie.

“In die oostelike gebiede moet die boere teen Vrydag plant omdat die kans bestaan dat ryp teen April groot skade aan die oeste kan aanrig. In die westelike dele, wat warmer is, kan die boere nog tot die einde van Desember plant,” sê De Villiers.

“Bewaringslandbou is nou die wagwoord.”

Adri Kitshoff-Botha, wat die Suid-Afrikaanse wildbedryf op die mediakonferensie verteenwoordig het, sê wildgetalle in die Noord-Kaap het al met sowat 80% gedaal en kan nog verder tot net 5% daal.

“Die koopmark (vir wild) het gekrimp en so ook toerisme en die jagbedryf. Niemand wil ’n dier skiet wat op sy laaste bene is nie,” sê sy.

“Dit ruk jou as jy in ’n groot wildplaas ry en jy ruik die dooie karkasse en sien die aasvoëls sirkel.

“Navorsing wys tot 80% van toeriste wat die land besoek, wil ’n wild-ervaring hê. Ons bydrae tot die ekonomie word nadelig geraak.”

Wiehan Victor, wat die vrugtebedryf verteenwoordig het, sê weens die droogte is die vrugtebedryf ook onder groot druk. “Ons verloor markte omdat ons nie vrugte kan lewer nie. Vrugtebome is ook weens die droogte onder stres en dit raak die gehalte van vrugte.”

Meer oor:  Omri Van Zyl  |  Agrisa  |  Landbou  |  Droogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.