Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Droogte in Beaufort-Wes knel steeds ondanks reën
Reën val Sondag in Uniondale. Foto: Facebook/Ina Scholtz/Reënval in SA

Die knellende droogte in Beaufort-Wes en Oudtshoorn in die Sentraal- en Klein Karoo duur voort ondanks wydverspreide reëns wat die naweek tydens ’n koue front oor die gebied en elders in die Suid-Kaap uitgesak het.

Maandag was die Gamkadam in Beaufort-Wes steeds dolleeg ondanks ligte reën wat oor die gebied geval het. Die vlakke van die dorp se drie reservoirs was onderskeidelik 13,4%, 24,5% en 0% (die grootste van die drie).

“Die reën het geen verskil gemaak nie,” sê Marlene Hendricks, ’n munisipale woordvoerder van Beaufort-Wes wat met water gemoeid is.

“Dit het Saterdag gereën, maar nie by die opgaardam waar ons dit die nodigste het nie. Die situasie in die dorp bly dus dieselfde.”

Volgens haar word huishoudings in die dorp van Dinsdag tot slegs tien kiloliter water per dag beperk. “Beurtwater kan ook moontlik in die volgende paar dae ingestel word.”

Volgens Hendricks kan Beaufort-Wes binnekort ook dalk tot ’n droogterampgebied verklaar word. ’n Spesiale raadsvergadering gaan binnekort gehou word waar die watersituasie bespreek sal word, sê sy. “Vlak 5-beperkings is tans van krag.”

Volgens haar hoop die Beaufort-munisipaliteit minstens 2 000 mense sal ’n biddag vir reën bywoon wat op 16 September om 15:00 by die Rustdene-sportterrein gehou word.

“Ons doen weer ’n beroep op mense om asseblief water te bespaar,” sê Hendricks. Die dorp se droogtekomitee sou weer Maandagaand vergader.

Ntobeko Mangwengqwe, ’n munisipale woordvoerder van Oudtshoorn, sê Oudtshoorn het die naweek 5 mm reën gekry en by die Raubenheimerdam is 7 mm reën gemeet. “Die Raubenheimerdam se vlak het met 0,4% gestyg en is tans 31,54%.”

Die stadsraad het verlede maand Oudtshoorn tot ’n droogterampgebied verklaar.

Die stadsraad het verlede maand Oudtshoorn tot ’n droogterampgebied verklaar.

Volgens Reënval in SA se Twitter-blad het hael ook plek-plek Sondag in Oudtshoorn geval en donderweer voorgekom. Volgens die Oudtshoorn-munisipaliteit was die gemiddelde aanvraag na water per dag verlede week 9,76 megaliter in die dorp.

Die Klein-Karoo gaan gebuk onder een van die ergste droogtes in jare wat al vier jaar lank voortduur, sê Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri-Wes-Kaap (AWK). “Alle landboubedrywighede is so te sê deur die droogte tot stilstand gedwing en op honderde hektare het daar die afgelope twee jaar geen landbouproduksie plaasgevind nie as gevolg van die gebrek aan water.

“Die grootste gedeelte van die Hessequa-gebied (Albertinia, Riversdal en Heidelberg) se saaigebied is steeds kritiek droog en graanprodusente het al skade gely. Baie produsente het hulle vee in hul graanlande ingejaag.

“Die Sentraal-Karoo is ook steeds kritiek droog en het baie reën nodig. Die Beaufort-Wes-omgewing het die naweek sowat 14 mm en hael gehad.”

By die Schoongezicht-toevlugsoord vir wild tussen Uniondale en Oudtshoorn is Sondag 30 mm reën gemeet.

By die Schoongezicht-toevlugsoord vir wild tussen Uniondale en Oudtshoorn is Sondag 30 mm reën gemeet.

In Riversdal in Hessequa is 9,4 mm reën gemeet, sê Susan Geldenhuys, ’n munisipale woordvoerder van Hessequa. In Stilbaai is 16 mm reën gemeet van Sondag 08:00 tot Maandagoggend 08:00.

Volgens Geldenhuys was die Korentepoortdam in Riversdal Maandag 36,1% vol, die Duivenhoksdam in Heidelberg 64%, die Olive Grovedam in Stilbaai 81% en die Jongensfonteindam 100%.

By Hoekwil tussen George en Sedgefield is slegs 3 mm reën gemeet. In Heatherlands in George is Sondagoggend 8 mm gemeet, volgens die Facebookblad Reënval in SA, en by Hoekwil naby Wildernis net onder 3 mm reën. Tot 08:00 Maandagoggend is 4 mm reën 10 km vanaf Vanwyksdorp op die R327 in die rigting van Ladismith in die Kannaland-distrik gemeet. Na verneem word het goeie reën ook in Knysna en Plettenbergbaai geval.

Meer oor:  Oudtshoorn  |  Klein Karoo  |  Beaufort-Wes  |  Water  |  Droogte  |  Waterskaarste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.