Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Droogte in land nog lank nie gebreek
Dele van die land is steeds weens die droogte in n wurggreep. Foto: Facebook.

Die droogte wat groot dele van die land in sy wurggreep het, is nog allesbehalwe gebreek, sê hulporganisasies en weervoorspellers.

Michael Methavhani, voorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens in Bloemfontein, sê ’n mens kan rofweg ’n lyn van suid na noord deur die land trek.

Die grootste krisis is wes van dié lyn wat van Queenstown in die suide verby Aliwal-Noord en Bloemfontein loop tot by Mahikeng in die noorde.

Vooruitsigte vir dié gebiede is ook nie baie goed in die komende twee weke nie, sê Methavani.

“Die stelsels wat ons nou het, is nie gunstig vir die weste nie, maar wel vir die oostelike dele,” sê hy.

Tommie Klopper van Boere in Nood sê daar is streke in Suid-Afrika waar dit al ses jaar lank droog is.

“Boere op Williston, Calvinia, Prins Albert en Sutherland se geld is op. Die Roggeveld het wel ’n bietjie reën gekry, maar dit lyk baie sleg hier,” sê hy.

Boere in veral die westelike dele van Suid-Afrika maak staat op voerskenkings om vee aan die lewe te hou. By Tosca in die Noordwes kom grootskaalse veevrektes weens die droogte voor. Foto: Facebook.

Volgens hom is tot 60% van skaapkuddes in die gebied al geslag.

“Omdat die skape hoofsaaklik mielies eet, slyt hul tande baie vinniger weg as op die veld. Waar ooie tot nege jaar gehou kan word, is hul tande nou op ses jaar reeds weggeslyt.”

Boere van die suidelike Karoo sê dit is ’n woestyn in hul omgewing. Bome in die gebied vrek al weens die langdurige droogte.

Die boere wat die meeste hulp nodig het, is in dié gebied en dan in die Noord-Kaap en Noordwes by Fraserburg, Tosca, Kathu, Vorstershoop en Vryburg.

Klopper sê mense moet onthou die droogte raak ook die klein dorpies op die platteland. Plaaswerkers word afbetaal en boere doen al die plaaswerk saam met hul vroue omdat hulle nie meer iemand kan betaal nie.

“Boere dra as ’n reël die dorpe se ekonomie,” sê hy.

Boere in Nood ontvang steeds skenkings, maar die grootste koste is vervoer. “Brandstof is baie duur en vervoermaatskappye trek op die oomblik self swaar.”

Op die Facebookblad Landbou Sosiaal sê boere van Glencoe en Dundee in KwaZulu-Natal dat dit by hulle ook nog droog is. Van die ander dorpe waar dit volgens die blad nog droog is, is Grahamstad, Willowmore, Rietbron, Fullarton, Steytlerville, Leeu-Gamka en Stella.

Hoewel dit die afgelope week in die Vrystaat en dele van Noordwes gereën het, was daar nie genoeg dat al die boere kon begin plant nie.

Meer oor:  Suid-Afrikaanse Weerdiens  |  Landbou  |  Droogte  |  Waterskaarste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.