Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Droogte in N-Kaap dreig om ‘algehele ramp’ te word
Koos van Niekerk van Vyandsvlei, noord van Heilbron, het dié foto geneem van landerye wat gereed is om beplant te word. Hy sê boere hier is bekommerd maar nog nie moedeloos nie.Foto: Verskaf

Die droogte in die Noord-Kaap kan ’n algehele ramp word wat ingryping wat die nasionale regering sal noodsaak om ’n beduidende ekonomiese insinking in die gebied af te weer.

En in die Vrystaat is boere hoopvol vir reën sodat hulle kan plant, maar bekommerd omdat hulle nie meer genoeg weiding het nie.

Foto’s wat ene HJ, ’n boervrou tussen Upington en Olifantshoek, van die droogte in dié omgewing op Facebook geplaas het. Foto: Boks vir ’n Boervrou - Wellington VLV/Facebook

Lenings

Nicol Jansen, president van Agri-Noord-Kaap, sê terwyl hulle in gesprekke met die nasionale regering oor droogtelenings is, onderhandel hulle ook met die banke.

“Intussen samel ons geld en skenkings in vir humanitêre hulp, soos kospakkies aan sowat 4 600 plaaswerkers, opkomende en kommersiële boere.

“As dit teen Desember nie in die somerreënvalgebied reën nie, gaan die seisoenale droogte in ’n ramp ontaard. Dit beteken die nasionale regering sal R688 miljoen aan die provinsie aan droogtelenings moet toestaan om ’n ekonomiese ramp te voorkom. Die regering het die aansoek reeds geverifieer, maar die proses moet nou deurgevoer word. Dit is al wat die ekonomie gaan stimuleer en boere kan laat oorleef totdat die reën kom.

“Intussen onderhandel ons met die banke om boere se skuld te herstruktureer sonder dat die banksektor gedestabiliseer word. Die droogte strek oor 70% van die provinsie.”

Die ramphulp van R30 miljoen wat onlangs deur die staat goedgekeur is, word in die vorm van koepons vir veevoer in al vyf Noord-Kaapse distrikte aan boere uitgedeel. Die projek sal teen die middel Desember afgehandel wees.”

Die stof en droogte oorheers die Kalahari-streek tussen Upington en Olifantshoek. Foto: Boks vir ’n Boervrou - Wellington VLV/Facebook

Voerbanke

Voer word ook van die departement van landbou se voerbanke na boere versprei.

Sommige besproeiingsboere het op 22 Oktober 100% rypskade aan hul koringoeste gehad. Dié koring is in 5 000 bale gebaal.

“Hoewel dit nie baie voedingswaarde het nie, is ons dankbaar. Dit moet ons deurdra totdat die mielieoeste in Junie volgende jaar as veevoer gebruik kan word.”

Jansen sê boere se insetkoste het gestyg, terwyl vleispryse 25% laer as ’n jaar gelede is weens die swak ekonomie. Die oorskot vleis en wol kan ook weens die uitbreking van bek-en-klouseer nie uitgevoer word nie.

“Dit is ’n perfekte storm.”

Te min weiding

Hoewel daar nog genoeg tyd is vir saaiboere in die westelike dele van die Vrystaat om te plant, is boere bekommerd omdat hulle nie meer genoeg weiding het nie.

In die Oos-Vrystaat loop die tyd vir plant nou vinnig uit.

Koos van Niekerk, ’n boer van Vyandsvlei, noord van Heilbron, sê hy het nog tyd tot 16 Desember om mielies, sojabone en sorghum te plant.

Foto van maer beeste wat ene HJ op Boks vir ’n Boervrou se Facebook-blad van die droogte geplaas het. HJ sê hulle boer naby Witsand tussen Upington en Olifantshoek. Foto: Boks vir ’n Boervrou - Wellington VLV/Facebook

As die reën laat kom, plant hy net sonneblom.

Van Niekerk sê die veld is by hom spierwit gebrand en weens die hitte pomp hy baie water na veesuipings.

Hy sê dit reën baie plek-plek in die Heilbron-omgewing en daar is boere wat nie meer genoeg weiding het nie.

“Die boere wat nog bale voer het, raak nou bang om die ander te help, want jy weet nou nie meer wat voorlê nie,” sê hy.

Daan van den Heever, wat tussen Senekal en Marquard op die plaas Spaarveld boer, sê dinge lyk sleg in die gebied.

Hy sê dit is een van die droogste lenteseisoene tot nog toe.

Veeboere in die Vrystaat is bekommerd omdat weiding besig is om baie skaars te raak. Hierdie foto is op Koos van Niekerk se plaas naby Heilbron geneem. Foto: Verskaf

Hy het reënvalsyfers wat sedert 1925 aangeteken is en daar is net enkele jare waar dit vanaf Mei tot November so min gereën het soos vanjaar.

Vanjaar is die eerste keer tot dusver dat geen reënval vanaf begin Junie tot einde Oktober geval het nie, terwyl dit in November net 37 mm gereën het.

Normaalweg kry boere hier in September, Oktober en November al reën.

Van den Heever sê 1945 bly nog die droogste jaar wat tot nog toe op die plaas aangeteken is toe dit net 331 mm gereën het. In 2015 was dit ook baie droog, met 352 mm.

Tot dusver het dit vanjaar 588 mm gereën, waarvan 288 mm in April.

Meer oor:  Noord-Kaap  |  Ramp  |  Droogtekrisis  |  Droogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.