Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Droogte laat nóg ’n boer knak

Die voortslepende droogte in die Noord- en Oos-Kaap het nóg ’n boer laat knak.

Dr. Imtiaz Sooliman, stigter van die nieregeringsorganisasie Gift of the Givers, het Donderdag, twee weke ná Andries le Roux (38) se selfdood, opnuut om dringende ingryping by die ramp gepleit.

Hy het Le Roux, wat merino- en dorperskape op die plaas, Fortuin, in die Roggeveld naby Matjiesfontein geteel het, as “ ’n hardwerkende en gerespekteerde lid van die gemeenskap en geliefde pa van drie jong kinders” beskryf.

Hy sê Le Roux se vrou, Esti, is verpletter deur haar man se dood.

“Andries was baie betrokke by die gemeenskap en het gehelp om voer af te lewer vir ander boere wat in nood verkeer,” sê Elizabeth Visagie, ’n vrywilliger wat tydens die Knysna-brande die welstand van boere ter harte geneem het.

“Sy dood is ’n ramp en werklik ’n groot verlies. Hy was ’n vrygewige mens met ’n groot en sagte hart en ek vermoed dit het hom geknak om te sien hoe mens en dier weens die droogte ly.”

Andries le Roux en sy gesin. Foto: Facebook

Barries Snijman, ’n boer van die Rietbron-distrik in die Oos-Kaap, het op 11 April ook sy eie lewe geneem.

Visagie sê Le Roux en Snijman se dood is bitterlik hartseer, maar mense moet ook die baie ander boere wat swaarkry in hul gedagtes hou.

“Sommige boere in die Noord-Kaap sukkel nou al drie jaar lank met die droogte, maar die regering is nog besig om wakker te skrik,” sê Visagie.

’n Baal voer op ’n plaas in KwaZulu-Natal wat vir droogtegeteisterde gebiede bestem is. Foto: Verskaf

“Waar is die regering? Wat doen hulle en die staatsinstellings omtrent die situasie? Waar is die hulp, waar is die beplanning, waar is die skure wat veronderstel is om vol voer vir sulke noodsituasies te wees?”

Volgens haar het die boere van die Vrystaat en KwaZulu-Natal hul hart vir diegene in nood oopgemaak en word die meeste van die verspreidingswerk deur die Gift of the Givers en private landsburgers gedoen.

“As die boere op die platteland vou, gaan daar ernstige gevolge wees. Wie gaan kos op die tafel sit as die kommersiële boere ondergaan? Skole, koöperasies en ondernemings sal genoodsaak word om hul deure te sluit.

Daar is niks erger as die geloei en gehuil van ’n bees wat besig is om van die honger te vrek nie . . .
Elizabeth Visagie, vrywilliger
Die gevolge van die ernstige droogte in die Noord-Kaap en Oos-Kaap. Foto: Verskaf

“Daar is niks erger as die geloei en gehuil van ’n bees wat besig is om van die honger te vrek nie; geen mens wil dit hoor nie en as die politici eenmaal voor so ’n dier verbyloop, sal hulle slapelose nagte hê.”

Visagie sê sy het aan Senzeni Zokwana, die minister van landbou, geskryf om die dringendheid van die situasie onder sy aandag te bring.

Sooliman sê intussen hy beplan om binne die volgende paar dae ’n vragmotor en sleepwa te koop om die droogtehulp wat hulle aan desperate boere in die Noord- en Oos-Kaap bied uit te brei.

Dié organisasie het reeds in samewerking met die plaaslike Goeie Samaritane honderde ton veevoer aan droogtegeteisterde gebiede oor die land heen geskenk, maar sê daar is nog baie om te doen.

Enigeen wat betrokke wil raak, kan die Gift of the Givers by 0800 786 911 bel of met Visagie by 082 576 3800 in verbinding tree.

Meer oor:  Droogte  |  Selfdood  |  Voer  |  Boere  |  Gift Of The Givers  |  Droogtehulp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.