Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Droogte skets droewe prentjie – ‘álle provinsies geraak’

Alle provinsies word deur die droogte geraak en die toestand van die veld en vee het in die meeste plekke versleg.

Werksverliese, sou die situasie voortduur en geen verdere bystand ontvang word nie, word in die Noord-Kaap alleen op 60 000 beraam.

Verder word die 2019-’20 plantseisoen ook in sekere provinsies deur die droogte beïnvloed.

Dít was Dinsdag die boodskap aan LP’s op die parlementêre portefeuljekomitee oor landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling oor die stand van die huidige droogte wat die land in ’n wurggreep het.

Dr. Ikalefeng Kgakatsi, adjunkdirekteur-generaal vir klimaatsverandering en rampbestuur in die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het in sy voorlegging gesê álle provinsies word deur die droogte geraak.

’n Versoek is reeds deur die Noord-Kaap op die tafel om tot ’n rampgebiede verklaar te word weens die droogte. Dié provinsie benodig bedrag van R600 miljoen in droogteverligting, terwyl die Oos-Kaap R395 miljoen, Noordwes R157 miljoen, die Wes-Kaap R123 miljoen, Gauteng R30 miljoen en Limpopo R28 miljoen in verligting vereis.

Sekere provinsies, soos die Wes-Kaap en Noord-Kaap, het volgens Kgakatsi “verligting in sekere dele gekry” met verwysing na reën.

“In sommige gebiede is die vee en veld ’n bietjie beter, maar in die meeste provinsies het die omstandighede versleg. Vrektes het in sekere provinsies voorgekom. Die damvlakke neem ook af. Dit is dalk net in die Wes-Kaap waar een of twee damme ’n toename getoon het,” het Kgakatsi gesê.

Willem Symington, hoof van AgriSA se rampbestuursentrum, het voorbrand gemaak vir die opstel van ’n deeglike rampbestuursplan asook vir die stigting van ’n rampfonds waarin alle rolspelers bydraes kan maak.

Hy het gesê die Noord-Kaap veral gaan gebuk onder erge droogte. Sowat 15 000 plase, wat sowat 20 miljoen hektaar beslaan en meer as 600 000 stuks vee word geraak.

“Die huidige berekening van wat benodig word om die impak van die droogte in die Noord-Kaap te verlig en die mense en plaaslike ekonomie te help is tussen R400 en R600 miljoen. Sonder enige verdere bystand en as die droogte voortduur kan tot 60 000 mense hul werk verloor. Soos ons weet is die Noord-Kaap die yl bevolkste provinsie en 60 000 werksverliese in só ’n provinsie sal ’n groot impak op die plaaslike ekonomie hê.”

Hoewel die Wes-Kaap verligting gehad het ná die winterreëns en daar minder bekommernisse is oor die damvlakke en die beskikbaarheid van drinkwater, ondervind sekere dele dieselfde toestande as in die Noord-Kaap.

“Die Oos-Kaap is in presies dieselfde situasie. Die provinsie het die hoogste vlakke van armoede en dus meer kwesbaar in ’n droogte,” het Symington uitgewys.

Tshianeo Mathidi, direkteur van die landbou-organisasie Afasa, het gesê die “droogte wat die organisasie gedink het sou afneem, is tans aan die toeneem.”

“Ons sien meer skade oral oor die land. Die meeste van die terugvoer wat ons ontvang het van die Noord-Kaap, KwaZulu-Natal, Oos-Kaap en die Vrystaat – nie dat die ander provinsies nie regtig geraak word nie, is dat die ramp op sy ergste is. Ek het een plek by Makua (in Limpopo) besoek... daar is geen gras nie, geen blare nie vir die vee nie, net grond.”

Boere ly erg weens die gebrek aan reën. “Waar daar geen reën is nie, het boere besluit om geen groen gewasse te plant nie. Niemand plant of ploeg die grond nie. Die grond lê braak.”

Meer oor:  Noord-Kaap  |  Droogtehulp  |  Droogte  |  Werksverliese  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.