Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
‘Droogte van Sutherland tot Steytlerville benard’
Maer skape in die Sutherland-distrik.

Die droogtesituasie van Sutherland in die Noord-Kaap tot Steytlerville in die Oos-Kaap is benard, sê Hester Obermeyer van Sutherland se droogtekomitee. Op plekke in die distrik het dit skaars 5 mm gereën.

“Ons somerreënvaltyd is verby. Sutherland is bekend as die koudste dorp in die land en ons is rasend van bekommernis oor die winter wat voorlê. Ons soek dringend voerskenkings.”

Volgens Obermeyer wys foto’s van boere in die distrik brandmaer skape en hongersnood. “Dit breek ’n mens se hart,” sê sy.

Die landbougemeenskap het nou self ingespring om met droogtenoodfondse te help.

Die Steytlerville-landbouvereniging en die organisasie Save the Sheep bied ’n jagpakket-kompetisie aan waarmee 15 koedoes en 40 springbokke gewen kan word. Kaartjies kos R100 en vir elke kaartjie wat verkoop word, ontvang Save the Sheep R25. Die sluitingsdatum is 31 Mei. Vir meer inligting, besoek hul Facebook-blad.

Steytlerville beleef reeds sedert 2016 ’n droogte wat bestempel word as die ergste in jare. Luidens die Steytlerville-landbouvereniging-noodfonds se Facebook-blad is die laagste reënvalsyfers in 108 jaar op plekke aangeteken.

Intussen het dit in dele van die distrik gereën, maar die suidelike deel het min tot geen reën gehad. Die veld is droog en bied geen kos meer vir die diere nie. Vee moet gevoer word en baie boere kan nie meer die voer bekostig nie. Daar word staatgemaak op skenkings van ander streke. Verskeie organisasies het al gehelp met voerskenkings en die vervoer van die voer na Steytlerville.

Dit kos R18 000 tot R22 000 om een vrag voer te vervoer. Teen hierdie agtergrond het die Steytlerville-landbouvereniging ’n noodfonds op die been gebring ter ondersteuning van die boere/lede in tye van nood. Die hoof-fondsinsameling is die wildkompetisie.

Volgens Obermeyer sal enige voer of skenkings waardeer word om die ysige wintermaande te oorleef. “Dis die tyd wanneer ons vee selfs meer voer as normaalweg nodig het om te oorleef. Die skape is reeds maer en die komende koue kan nog vrektes tot gevolg hê,” sê sy.

Meer oor:  Droogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.