Die westelike dele van die Oos-Kaap wat die afgelope sewe jaar in die greep van ’n nypende droogte gewikkel is, het gelei tot die versoek om die provinsie as ’n droogterampgebied te verklaar.
Die DA in die provinsie het dié versoek gerig aan die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, tydens ’n onlangse sitting van die wetgewer.
Retief Odendaal, skadu-LUR vir landelike ontwikkeling in die provinsie, sê die sewe jaar lange droogte het ’n negatiewe uitwerking op boere en in munisipaliteite waar water skaars is.
Dit is veral die kommersiële en opkomende boere in die Sarah Baartman-, Chris Hani- en Amatole-distrik wat sukkel.

Retief Odendaal Foto: Argief
“Sonder water gaan alles misluk.”
Hy meen ’n bekwame staat sal alles in sy vermoë doen om seker te maak dat maatreëls in plek is om die droogte te bekamp.
Odendaal sê die droogte het die potensiaal om te lei tot ’n humanitêre krisis in munisipaliteite soos Dr Beyers Naudé,
Ndlambe, Kouga en Nelson Mandelabaai.
Die Kougadam, een van die grootste opgaardamme in die provinsie, is tans 6,4% vol.
Dit is die laagste wat die watervlak al ooit was sedert die dam in die 1960’s gebou is.
“Gegewe die moontlike rampspoedige gevolge wat die droogte vir die nagenoeg twee miljoen mense in die Oos-Kaap kan inhou, doen die DA ’n beroep op die premier om die bal aan die rol te kry om die provinsie tot rampgebied te verklaar.
“Indien die provinsie as ’n droogterampgebied verklaar word, kan hulle aansoek doen vir geld vanaf die nasionale regering,” sê Odendaal.