Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Droogte verslap nie wurggreep op dié dele van die land

Die erge droogte in die Oos- en Noord-Kaap en groot dele van die Wes-Kaap, het nog nie sy wurggreep verslap nie.

Jannie Strijdom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê ondanks verspreide buie wat op plekke voorgekom het, is dit steeds baie droog in die Sentrale en Klein-Karoo, asook die Weskus-streek.

Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, het die droogte vroeër as ’n “nasionale klimaatramp” beskryf.

Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, sê reën het tot dusver dié seisoen “baie geïsoleerd” in die Noord-Kaap geval.

“Op baie plekke kry nie eens ’n hele plaas of distrik reën nie.

“Die reën is nie van so ’n aard dat ons enigsins op sommige plekke ons hulpverlening kan laat verslap nie.

“Ons gaan steeds voort met fondsinsameling, hulpverlening en humanitêre hulp,” sê Jansen.

“Maar, ons bly hoopvol dat meer reën op pad is.”

Die plaas Kouberg in die Boesmanland waarop Theresa Kennedy en haar man, John, boer.Foto: Verskaf

Doug Stern, president van Agri Oos-Kaap, wat naby Graaff-Reinet met skape en beeste boer, sê in die 60 jaar dat hy by boerdery betrokke is, is dit loshande die ergste droogte tot nog toe.

“As dit nie voor die einde van die maand reën nie, sal ons in nog groter moeilikheid wees. Daar is nie meer weiding en water nie. Ons glo die reën is op pad.

“Ons het verlede jaar net 120 mm gehad – dit is ’n derde van die gemiddelde reënval van 350 mm. Die vorige vier jaar het ons net 60% van die gemiddelde reënval gehad,” sê Stern.

Theresa KennedyFoto: Verskaf

Christo van der Rheede, adjunkhoof van Agri SA, sê dié organisasie se droogtehulpfonds het die laaste ruk sowat R2 miljoen aan boere in droogtegeteisterde provinsies uitbetaal.

“Die provinsiale kantore van Agri SA werk ten nouste saam met die provinsiale departemente van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling en samewerkende regering en tradisionele sake,” sê Van der Rheede.

Boeta du Toit, uitvoerende hoof van Agri Noordwes, sê dit het oor die westelike dele van dié provinsie waar dit baie droog is “redelik gereën”.

In Limpopo is dit in die Capricorn-, Sekhukhune- en Mopani-distrik nog baie droog.

Deirdre Carter, uitvoerende hoof van Agri Limpopo, sê hoewel die reën “redelik” in dié provinsie geval het, is die damvlakke nog baie laag en baie boere trek swaar omdat die riviere in hul omgewing nie meer loop nie.

Die departement van water en sanitasie sê hy werk ten nouste met die nasionale rampbestuursentrum, ander staats- en provinsiale departemente en die private sektor saam om die invloed van die erge droogte te verminder.

In die omgewing van onder meer Butterworth in die Oos-Kaap is spesiale planne gemaak om mense van drinkwater te voorsien.

Die landbou-organisasies TLU SA en Saai sê die regering werk nie met hulle saam nie.

“Ons weet nie van boere wat hulp van die staat af ontvang nie,” sê dr. Theo de Jager, voorsitter van Saai.

Dié organisasie help gevestigde kommersiële boere en nuwe toetreders.

Die hulp kom uit die private sektor “en dit is meestal boer-tot-boer-hulp van boere in ander provinsies”.

“Ons grootste uitdaging is om dit van die boere wat genoeg het na boere in nood te bring.

“Vervoer is ’n baie groot faktor en selfs daar kry ons geen hulp van die staat nie.”

De Jager sê hoewel dit op plekke in die Noord-Kaap gereën het, “reën dit nie gras nie”.

Dit neem tyd vir die veld – en nog langer vir ’n boerdery – om te herstel.

Die organisasie Gift of the Givers het ook al miljoene rande bestee om droogtehulp aan gemeenskappe in droogtegeteisterde gebiede te verleen.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê daar is geen formele skakeling van die regering se kant af met dié organisasie oor droogtehulp nie.

“Die neiging tot dusver was dat die staat grootliks opkomende boere gehelp het.”

En dié hulp was in die verlede nie van veel waarde nie.

“Die manier hoe die sogenaamde hulp geskied, bly kommerwekkend.

“Ons het al by herhaling sonder sukses vir die departement gesê hy moet organisasies soos Agri SA en TLU SA by die verspreiding van droogtehulp betrek.

“Baie boere het al ’n punt bereik dat hulle aanvaar dat die staat nie regtig kan of sal help nie,” sê Van Zyl.

‘Die Boesmanland sal weer opstaan’


Dit sal weer reën en die boere van die Boesmanland sal opnuut uit die as uit opstaan.

“Ons moet net eers weer aarde toe kom en op ons knieë gaan en bid.”

Só skryf Theresa Kennedy, ’n boervrou van die Boesmanland, in ’n hartroerende brief oor die knellende droogte in die Noord-Kaap.

Sy skryf die droogte gee haar hoendervel, nie die lekker soort nie, maar die benoude soort. Die soort wat jou bang maak en jou hare laat regop staan.

“Hoe gaan mens en dier hierna herstel? Dit is die groot vraag wat ons elke dag vra,” skryf Kennedy.

Sy en haar man, John, boer op die plaas Kouberg sowat 80 km van Springbok af op die Gamoep-pad.

“In die 16 jaar wat ek met boerdery te doen het, is dit die ergste droogte nog.

“Elke dag glo ons ons is ’n dag nader aan die reën. Geloof is ons anker en hoop die seile wat ons moet span. Die liefde is al wat ons aan mekaar kan bied.

“Ons kan nie reën koop nie, ons kan dit nie maak nie.

“Ons is moedeloos, ons is moeg.”

Tog, skryf Kennedy, die Here sorg op die wonderlikste maniere – soos Hy beloof het.

“Ons ontvang skenkervoer, water om te drink, kospakkies, bederfbokse, skryfbehoeftes vir die kinders en baie meer,” sê Kennedy, wie se man voorsitter van die Boesmanland-boerevereniging is.

“Dit is so lekker om dié geskenke aan die lede (van die boerevereniging) te oorhandig en die nuwe moed en hoop in hul oë te sien.

“Ons is opreg dankbaar vir elke skenker, groot en klein.

“Die Here werk op ’n wonderlike manier agter die skerms. Sy engele op aarde se harte is goed.

“Die mensdom leer weer om saam te staan en om die son op mekaar te laat skyn,” skryf Kennedy.

“Soms moet ’n boervrou soos ek ook help om die diere te voer.

“Ons sleep maar die sak, of deel hom in die helfte en gooi hom oor die skouer, want help moet ons help.

“Die diere kom na die bakkie aangehardloop, want hulle is honger. Die veld is net klip en sand of sommer net pikswart daar waar daar nog ’n bossie is.

“Opgee is nie ’n oorweging nie. Liewe Jesus wil hê dat ons totaal en al afhanklik van Hom moet wees.

“Ons is trots daarop om boere te wees, want dis ons wat die nasie moet voer.” – Sarel van der Walt


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.