Terwyl die aankondiging van ’n provinsiale droogteramp in die Noord-Kaap op die vooraand van die ANC se 108ste verjaardagviering in Kimberley deur die DA verwelkom is, blyk die verbintenis om ramphulp van R300 miljoen te verskaf, niks meer as ’n rookskerm te wees nie.
Só sê Reinette Liebenberg, DA-woordvoerder oor landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming in die Noord-Kaap.
Dit kom nadat Nomandla Bloem, LUR van landbou in die Noord-Kaap, aangekondig het dat geen van die droogtehulp vir veevoer vir boere gebruik sal word nie.
Volgens Liebenberg gaan slegs R82 miljoen van die bedrag vir die boor van boorgate vir boere gebruik word, terwyl die oorblywende R218 miljoen in die munisipaliteite gepomp sal word – wat oor die jare heen versuim het om hul waterinfrastruktuur in stand te hou.
Dit sluit in wanfunksionele munisipaliteite soos die Kareeberg-munisipaliteit wat vier jaar later nog nie ’n oplossing gevind het vir sy waterprobleme in Van Wyksvlei nie.
“Met die plaaslike verkiesings om die draai, lyk dit asof die regering so laag gedaal het dat hulle rampfinansiering vir ander doeleindes gaan gebruik.
“Met ander woorde die ANC-regering stel nie regtig daarin belang om die uitwerking van die droogte op boere, plaaswerkers en die groter landelike gemeenskappe te verlig nie. In plaas daarvan gaan dit oor stemme en om aan die bewind te bly.”
Liebenberg sê hulle wag steeds op antwoorde van die regering oor hoe die rampfonds gebruik gaan word.