Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Droogtehulp: ‘Fokus eerder op één dorp’

’n Gemeenskap kan nie die droogte makliker maak nie, maar hulle kan een dorp identifiseer en só ’n verskil maak.

Die droogte het behoorlik sy tande in die Karoo ingeslaan. Hier op die plaas Veepos buite Fraserburg lê vee wat van hongerte gevrek het. Foto: Verskaf

Dit was die redenasie van die inwoners van Smithfield wat die Adopt a Town-projek begin het om een van die dorpe wat met die droogtehulp “aan die agterspeen suip” te help.

Fraserburg in die Karoo is as die gelukkige dorp geïdentifiseer en Saterdagaand word ’n “regte plattelandse paartie” gehou om geld vir dié dorpie in te samel.

Johan Neethling jr., ’n boer van Smithfield, sê as dit kom by droogtehulp in die Karoo is dit meestal dorpe “langs die teerpad” soos Beaufort-Wes en Sutherland wat hulp ontvang.

Maar dan is daar dorpe wat afgeskeep word en waar die boere elk net twee of drie sakke mielies kry wat skaars ’n paar weke hou.

“Die droogte is so wyd. Daar is duisende hektaar wat onder die droogte gebuk gaan.”

As jy een dorp oormerk, kan jy die 30 of 40 boere daar werklik help, sê hy.

“Dan weet jy ten minste waarheen die droogtehulp gaan.”

Party mense gee voer, ander weiding, ander kontant.

“Geldelike bydraes is die beste, want dit is makliker om te beheer.”

Die plaas Veepos buite Fraserburg gaan gebuk onder erge droogte. Foto: Verskaf
CP van der Merwe van die plaas Veepos, 50 km buite Fraserburg, voer sy skape wat in die knellende droogte swaarkry. Foto: Verskaf

Die Smithfield-ondersteuningsfonds het reeds R8 500 ingesamel.

Soné Joubert van The Voice South Africa, Antoon Lombaard en Jacobus Silwer gaan Saterdagaand op die dorp se gholfbaan musiek maak. Die kaartjies kos R130 elk en 150 is reeds verkoop.

Organisasies en instansies van die dorp gaan ook almal ’n bydrae maak.

“Ek het in my hart gesê ek hoop ons kan R100 000 vir die mense stuur.”

Daar is mense in die Karoo wat nie kos in die huis het nie; ouers wat hul kinders uit die koshuis moet haal omdat daar nie geld is nie.

“Dit gaan rêrig taai.”

Diegene wat die Smithfield-gemeenskap wil help om Fraserburg by te staan kan ’n betaling aan die Smithfield-ondersteuningsfonds maak. Die besonderhede is: Standard Bank; Tjekrekeningnommer: 10123768673.

* Agri SA gaan Dinsdag om 08:00 sy plan bekend maak om boere in die droogte te ondersteun.

’n Advertensie na die geselligheid Saterdagaand op Smithfield. Foto: Verskaf

Meer oor:  Droogte  |  Droogtehulp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.