Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Droogtehulp kom eindelik vir dié N-Kaapse boere
’n Droogtegeteisterde Kleinbegin in die Noord-Kaap.

Al moet hulle langs die pad sonder brandstof gaan staan, sal daar Donderdag voer in die droogtegeteisterde Kleinbegin, suidoos van Upington in die Noord-Kaap, afgelewer word.

Só sê ’n vasbeslote Chris van Beljon, stigter en uitvoerende hoof van Boere Droogtehulp SA NPC.

Dié droogtehulporganisasie stuur Donderdag sowat 25 vragmotors en 15 bakkies met sleepwaens om voer en ander benodigdhede aan 55 boere in die gebied te besorg.

Van Beljon sê Kleinbegin word erg deur droogte geteister en die inwoners kry baie swaar. Volgens hom duur die droogte hier nou al sewe jaar.

“Dis verskriklik. Ek het so ’n tyd terug daar deurgery; daar is niks meer oor nie.

“Die storie is die heeltyd dieselfde. Dit is boere en vroue wat nie meer kan nie. Vroue wat in die dorp moet gaan werk net om vir die vee kos te koop. Kos is daar nie in die huis nie. Vee is daar nie meer oor nie. Boere wat met 5 000 tot 3 000 skape geboer het, het 100 skape oor. Party net 60.”

Van Beljon sê verder die skape kan weens ’n tekort aan voeding nie lam nie en dié wat wel lam, se kleintjies word weggevat omdat die ooie nie melk het nie.

Dié droogtehulporganisasie gaan sowat 600 grasbale van 1,2 m elk, sowat 600 mieliereste van 1,2 m elk, 500 sakke meel van 25 kg elk, en omtrent 70 ton hoendermis aflewer.

Die omstandighede in Kleinbegin in die Noord-Kaap.
Sowat 25 vragmotors en 15 bakkies met sleepwaens sal voer en ander benodighede aan 55 boere in Kleinbegin in die Noord-Kaap besorg.

Benewens die voer sal daar water en kos vir die boere aangery word. Elke boer ontvang ’n geskenkpak met ’n samestelling van die heel nodigste soos kos, toiletware en skoonmaakmiddels. Dié pakke word deur Farmers Aid en Loving Life Community Channel verskaf.

“Die waarde van die voer, kos, water en vervoer sal rondom R1,5 miljoen wees,” sê Van Beljon.

Dit sal volgens hom die organisasie sowat R420 000 kos vir onder meer die vervoer daarheen en terug, verblyf en die drywers se kos. Die organisasie benodig nog dié fondse.

Chris van Beljon

Die organisasie het al voorheen wonderbaarlik geld vir brandstof ontvang toe hulle nie ’n terugrit kon bekostig nie, vertel hy.

“Ons het nou R50 000 in die bank. Ons het nog net tot Dinsdag om ’n klomp geld bymekaar te maak.

“Ek weet nie hoe ons dit gaan regkry nie, maar ons glo en vertrou.”

*Van Beljon, en Marianne van Niekerk, omroeper by die aanlyn radiostasie Jou stasie, het eindelik ook twee matriekmeisies en ’n -seun uit die Noord-Kaap gevind om met hul matriekafskeid by te staan. Netwerk24 het voorheen berig Van Beljon en Van Niekerk wil ’n meisie wat weens die droogte dit nie sou kon bekostig om haar matriekafskeid by te woon nie, se droom bewaarheid.

*Om ’n bydrae te maak tot die droogtehulpfonds, kontak Chris van Beljon by 082 961 6620 of sluit aan by Boere

Droogtehulp SA NPC se Facebook-groep vir meer inligting.

Meer oor:  Droogte  |  Noord-Kaap  |  Landbou  |  Droogtehulp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.