Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Droogtehulp kom vir Moutse ná betogings
Van die watertenks wat deur die nasionale regering aan inwoners van die Moutse-streek in Limpopo geskenk is. Foto: Kenny Mathivha

Die regering het meer as R100 miljoen in tydelike droogtehulp vir die dorre Moutse-streek in Limpopo geskenk nadat inwoners die gebied met gewelddadige betogings onregeerbaar gemaak het omdat hulle nie water het nie.

Lindiwe Sisulu, minister van water en sanitasie, en Stanley Mathabatha, premier van Limpopo, het die Groblersdal- en Moutse-gebied Vrydag besoek.

Sisulu het toe aangekondig dat haar departement R143 miljoen aan die gebied gaan skenk om tydelike verligting vir die inwoners te bring.

“Ek wil die inwoners om verskoning vra omdat julle so lank sonder water oor die weg moes kom. Ek belowe julle dat alle inwoners water sal kry,” het Sisulu op ’n vergadering met die gemeenskap gesê.

Vyf swaar vragmotors met watertenks sal water in die Sekhukhune-distrik van Limpopo versprei. Foto: Kenny Mathivha

Bejaardes, skole, die polisie en die Philadelphia-hospitaal sal voorkeur geniet wanneer water versprei word.

Sisulu het met vyf swaar vragmotors met watertenks by die vergadering opgedaag. Daar is ook 20 watertenks, waarin derduisende liters water geberg kan word, aan die gemeenskap oorhandig.

Sisulu sê daar sal binnekort nog watertenks na die Moutse-gebied gestuur word. Sy kon nie sê wanneer dit sal gebeur of hoeveel watertenks geskenk sal word nie.

Die watertenkwaens wat Vrydag aan die inwoners van Moutse in die Sekhukhune-distrik in Limpopo geskenk is. Foto: Kenny Mathivha

Die Lepelle Northern Water-raad is aangestel om die R143 miljoen te bestuur. Die geld moet gebruik word vir die verskaffing van water en om boorgate te sink. Die bestaande boorgate in die omgewing moet ook met die geld opgeknap en in stand gehou word.

Sisulu het dit duidelik aan inwoners gestel dat die nasionale departement ingegryp het om water te verskaf, maar nie verantwoordelikheid sal aanvaar vir die plaaslike regering se pligte nie.

Die departement van water en sanitasie sal in samewerking met die waterraad en die Sekhukhune-distriksmunisipaliteit werk om blywende oplossings vir die watertekorte in die gebied te kry.

Lindiwe Sisulu, minister van water en sanitasie, het die inwoners van Moutse in Limpopo Vrydag om verskoning gevra omdat hulle al jare sonder water oor die weg moet kom. Foto: Verskaf

Meer oor:  Lindiwe Sisulu  |  Droogtehulp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.