Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Droogtehulp: Vat vyf vir Vrag 400!

’n Jaar gelede wou Burre Burger sy eie lewe beëindig oor die swaarkry wat Kaapse boere so ry. Gister het die einste Burger en medewerkers die 400ste vrag voer aan hulpbehoewende boere afgelewer.

Burre Burger (regs) ná nog ’n aflewering van noodvoer by Willie van den Heever, ’n boer van Eksteenfontein.

Boere in Gamoep, suidoos van Springbok, het gister bale hooi uit Hoopstad, Douglas en Migdol ontvang.

Burger is ’n groot verspreider van groente in die Matzikama-distrik.

Burger se epiese werk het op 3 Maart vanjaar wortel geskiet toe hy tenkwaens vol water aangery het uit Vredendal en Citrusdal na Calvinia.

‘Ons sien hoe groot God vir ons is.’

Daarna het hy koers gevat Oos-Kaap toe en noodvoer in Aberdeen, Klipplaat en Graaff-Reinet gaan aflewer. Toe ry hy met sy hulp na Beaufort-Wes, Carnarvon en tot so ver as die Richtersveld.

Frans Jacobs koördineer vanuit die Vrystaat die vragte mielies. Verlede week is sowat R7,5 miljoen se mielies op 36 vragmotors in Hoopstad gelaai.

“Ek’s nou by my vierde bakkie van kilometers opvreet soos ek rondry op soek na behoeftige boere. Gelukkig word ek nou met ’n goeie bakkie geborg,” sê Burger. Die fonds ‘Droogtehulp met Burre’ is ook gestig.

“Ons sien hoe groot God vir ons is. ‘Ons’ is ek en die hele Suid-Afrika.

“Jy sal nie glo wat die projek vir die boere doen nie. Hulle kry weer lewe, buurmanne praat weer met mekaar, vat hande.”

’n Oproep in tye van nood.

Dolf van Vuuren van Rietbron in die Oos-Kaap het 44 hoëgehalte-grasbale gekry en is getref daardeur dat verspreiders ver en op “swak paaie” tot by die plase gery het. “Elke baal wat hier afgelaai is, help ’n boer om op sy plaas te bly.”

Vir Burger was 2016 ’n “donker jaar”.

Welkome aflewering op Rietbron in die Oos-Kaap.

“Ek het elke dag te doen met boere, hul klagtes oor die droogte en wanhoop. Ek het pille gesluk. Ek het oorleef. Toe ek uit die diep slaap wakker word, het ek vir die Here gesê: ‘Hier is ek, Burre Burger. Gebruik my’.

“Ek het begin deur oor naweke ’n vraggie hier, ’n vraggie daar aan boere wat sukkel te neem.

“Ons is dankbaar! Nou die dag het ons 8 mm reën hier gekry, toe gaan hou ons ’n biddag vir daai 8 mm.

“Ons kap op ons eie aan. Dit help nie ons wag nie, die regering gaan nie help nie. Die nood is nou!”

“Ons het nou ’n stewige infrastruktuur vir verspreiding opgebou. Dit loop soos ’n goed geoliede Toyota-bakkie.”

Angorabokke vreet aan noodvoer in Aberdeen in die Oos-kaap. Foto: Verskaf

Burger werk veral nou saam met Gift of the Givers, Afrika se grootste noodlenigingsorganisasie.

Dr. Imtiaz Sooliman beskryf Burger in ’n brief as ’n man met “uithouvermoë, vasberadenheid en toewyding”.

Honger skape in die dorre Gamoep, suidoos van Springbok in die Noord-Kaap.

Sooliman vra dat die publiek brandstof skenk vir 100 vragmotors waarmee hy en Burger volgende maand in ’n konvooi voer in die droogtegebiede wil aflewer.

Elizabeth Visagie, ’n koördineerder van Gift of the Givers, het aan Rapport gesê swaarkry kan lei tot moedeloosheid en breekpunt, maar belangstelling, bemoediging en betrokkenheid gee die boere hoop en moed om voort te gaan.

“Elke landsburger het ’n boer drie maal per dag nodig: hulle noem dit ontbyt, middag- en aandete. Landsburgers soos Burre Burger wys dat gewone mense saam ’n groot verskil kan maak in droogtegeteisterde gebiede.”

  • Kontak Burger by burre@two brothers.co.za of 082 970 9219.
Meer oor:  Droogte  |  Gift Of The Givers
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.