Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Droogtehulpskema in Noord-Kaap ‘skokkend' bestuur’

Agri SA het Donderdag ’n “skokkende prentjie van blatante gebrek aan goeie beheer- en bestuursbeginsels” geskilder toe hy verduidelik het wat alles met die regering se droogtehulpskema skeefgeloop het.

Dit volg op die droogtehulpskema van R212 miljoen van die departemente van landbou, bosbou en visserye; landelike ontwikkeling en grondhervorming; en water en sanitasie wat onlangs oor die land heen afgehandel is.

Omri van Zyl, uitvoerende hoof van AgriSA Foto: Deaan Vivier

Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA, het op ’n nuuskonferensie in Pretoria bewerings gemaak van oortollige veevoer wat in die Vrystaat gestort is, verkeerde voer wat afgelewer is en hoe verskeie boorgate teen onbehoorlike bedrae geld op dieselfde plek geboor is.

Veevoerpryse is volgens Van Zyl onbehoorlik opgeblaas en amptenare het van die veevoer gevat.

Agri Noord-Kaap reken dat boere in die provinsie sowat 30% minder droogtehulp gekry het weens die drie departemente se aandrang om hul eie verspreiders aan te stel.

Agri SA dring daarop aan dat die portefeuljekomitee, die openbare beskermer en die ouditeur-generaal die toekenning van geld en die aanstel van diensverskaffers vir die droogtehulpskema ondersoek.

“Ten spyte van dringende versoeke van die droogtetaakspan, wat uit Agri SA, die Landbank, Agbiz, die Vereniging van Swart Boere (Afasa), TLU SA, die departement van landbou, bosbou en visserye, die nasionale rampbestuursentrum, SA Grain Milling, die Nywerheidsontwikkelingskorporasie, die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa), Graan SA en ander kommersiële banke bestaan het, het die regering nie aan versoeke gehoor gegee nie.

Ons sou sowat 150 000 boere met die R212 miljoen kon bystaan, terwyl die regering baie minder boere deur die gebruik van eksterne diensverskaffers gehelp het
Omri van Zyl, Agri SA

“Die versoek was dat die droogtetaakspan saam met die regering die voorrade en humanitêre hulp op ’n doeltreffende manier oor die land heen versprei. Die regering het geweier.

“Ons sou sowat 150 000 boere met die R212 miljoen kon bystaan, terwyl die regering baie minder boere deur die gebruik van eksterne diensverskaffers gehelp het.

“Die gevolg was die aanstel van diensverskaffers sonder rekords van vorige dienslewering, of wat geskors is weens swak prestasie, of wat hul diensleweringsplan sonder toestemming verander het, beperkte praktiese hulpverlening deur provinsies, stadige vordering weens gebrek aan gereedheid deur diensverskaffers, onbeskikbaarheid van en veranderende bergingsgeriewe, grootskaalse diefstal van voerpille, ondoeltreffende en foutiewe afleweringsvoertuie, oor- of onderlewering van veevoer, geen hulp aan kommersiële en kleinskaalse boere in sommige provinsies, aflewering van die verkeerde voer, gebrek aan toereikende kommunikasie asook onopgedateerde boereregisters.

Henning Myburgh, hoofbestuurder van Agri Noord-Kaap, sê baie geld het verlore gegaan omdat ’n derde party die veevoer versprei het.

Norman Shushu, LUR van landbou in die Noord-Kaap, in 2015 toe amptenare veevoer aan boere oorhandig het. Foto: Charné Kemp

“Ons sou 30% bespaar het as ons self die veevoer versprei het. Daardie geld kon veral opkomende boere, wat meer op staatshulp staatmaak, ondersteun het.

“Die landbouverenigings het ’n goeie samewerkingsooreenkoms wat die provinsiale departement van landbou doeltreffend deur ’n beproefde verspreidingsnetwerk bestuur.”

Steve Galane, woordvoerder van die nasionale departement van landbou, sê die toekenning van geld is gesentraliseer om die proses te versnel.

“Ons het ’n kort spertyd van die tesourie gehad om die projek binne drie maande af te handel.”

Hy sê hulle is bekommerd oor Agri SA se verslag en sal ’n ondersoek ondersteun.

Meer oor:  Agrisa  |  Omri Van Zyl  |  Bestuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.