Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Duisende liter water aan Oudtshoorn geskenk

Meer as 21 000 liter water is aan Oudtshoorn geskenk danksy die Dis-Chem-stigting en Dis-Chem-apteek.

Oudtshoorn se stadsraad het vroeër vandeesmaand die dorp tot rampgebied verklaar weens ’n waterkrisis.

Op 9 Augustus was die vlak van die Raubenheimerdam slegs 30,7%. Woensdag het die Oudtshoorn-munisipaliteit aangekondig strenger waterbeperkings is tans van krag in Oudtshoorn en ’n moratorium is geplaas op alle besproeiing van munisipale eiendom. Die waterkrisiskomitee, wat verlede week op ’n spesiale raadsvergadering gekies is, sou ook Woensdag vergader oor hoe om die waterkrisis vorentoe te hanteer. Die komitee bestaan uit raadslede en senior bestuurslede van die Oudtshoorn-munisipaliteit.

Op die oorhandiging van die water is van links Cobus Louw (Dis-Chem Mosselbaai), Denver Bosman (Dis-Chem George), Stanley Heyns (Dis-Chem: drywer, Kaapstad-verspreidingsdepot), Noluthando Mwati (Oudtshoorn se onderburgemeester), Murray-Wayne Konnie, (bestuurder van brand- en rampbestuur by die Oudtshoorn-munisipaliteit), Bob Stuurman (Dis-Chem George), Corrie Mei (Dis-Chem George), Regene Jacobs (Dis-Chem George) en Gert Jansen van Vuuren (Dis-Chem: beampte gemoeid met verliese in Kaapstad). Foto: Verskaf

Volgens die Oudtshoorn-munisipaliteit is 21 600 liter water verlede week by Oudtshoorn se brandweerstasie afgelaai.

Volgens Gert Jansen van Vuuren, ’n werknemer van Dis-Chem in Kaapstad, het ’n kliënt van Oudtshoorn af gebel om hulp te vra met water. Dis-Chem het toe besluit om die water aan Oudtshoorn te skenk.

Die water is verlede week oorhandig aan Murray-Wayne Konnie, bestuurder van brand- en rampbestuur by die Oudtshoorn-munisipaliteit.

“Ons is baie dankbaar teenoor Dis-Chem en die Dis-Chem-stigting wat hul hart vir Oudtshoorn oopgemaak het en wys dat hulle omgee,” het Konnie gesê.

Noluthando Mwati, Oudtshoorn se onderburgemeester, het Dis-Chem ook bedank vir sy hulp.

Op sy Facebook-blad vra die Oudtshoorn-munisipaliteit werklose en afgetrede gekwalifiseerde loodgieters om op die munisipale databasis te registreer vir sy veldtog “Oorlog teen lekkasies”. Die Oudtshoorn-munisipaliteit het vroeër gesê spesiale aandag sal gegee word aan die herstel van lekkasies in die groter Oudtshoorn tydens die waterkrisis.

Ingevolge die veldtog sal ’n aantal gekwalifiseerde loodgieters in elk van die 13 wyke aangestel word.

Dié loodgieters sal eerste uitgeroep word wanneer die publiek lekkasies aanmeld omdat die aanmeldings geprioritiseer moet word.

Mense wat registreer, sal na ’n inligtingsessie genooi word waarvan die datum later bekend gemaak sal word.

Aansoekvorms is beskikbaar by Jason Solomons, bestuurder van kapitaalprojekte by die Oudtshoorn-munisipaliteit, by jason@oudtmun.gov.za of skakel 044 203 3954.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.