Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Fase 2 draai Lesotho-sluise na SA verder oop
Lindiwe Sisulu, Suid-Afrika se minister van water en sanitasie, en Samonyane Ntsekele (links), haar eweknie van Lesotho, kyk uit oor die gebied waar die Polihali-dam ontwikkel word. Foto: Simon Sonnekus

Suid-Afrika behoort ondanks kritiek in Lesotho oor sewe jaar meer as 60% meer water uit die Lesotho-Hoogland-waterskema te kry wanneer die jongste fase in dié stelsel afgehandel is.

Dié land sal dan nog 490 miljoen kubieke meter water per jaar na sy buurstaat laat vloei wanneer fase 2 van die projek voltooi behoort te wees.

Lindiwe Sisulu, minister van water en sanitasie, en Samonyane Ntsekele, haar ampsgenoot van Lesotho, het Woensdag in Malingoaneng in dié bergkoninkryk se Mokhotlong-distrik die nuwe fase bekend gestel.

Dit behels die bou van die Polihali-dam, waarvan die dammuur 165 m hoog sal wees en wat omstreeks 2026 voltooi sal wees. Dit sal deur ’n tonnel van 38 km verbind word met die Katsedam, wat reeds sowat 27% van die water in die Vaalrivierstelsel bydra.

Lindiwe Sisulu, Suid-Afrika se minister van water en sanitasie.Foto: Simon Sonnekus

“Die Polihalidam sal water toevoeg tot die stelsel wat reeds 780 miljoen kubieke meter water per jaar aan Gauteng, Mpumalanga, die Vrystaat en Noordwes voorsien. Van die water sal ook aan Eskom verskaf word vir kragopwekking. Die hoop is dat ons nog baie meer water as deel van die projek sal kry,” het Sisulu by die bekendstelling gesê.

Sy sê sodra fase 2 voltooi is, sal die Lesotho-Hoogland-waterprojek altesame 1 270 miljoen kubieke meter water per jaar aan Suid-Afrika verskaf.

Sisulu het beklemtoon dat Suid-Afrika dié water by Lesotho koop en dit nie gratis van sy buurland kry nie.

Lindiwe Sisulu, Suid-Afrika se minister van water en sanitasie, en Samonyane Ntsekele (links), haar eweknie van Lesotho.Foto: Simon Sonnekus

“Miljarde rand verwissel hande in die transaksie en ek weet die minister (Ntsekele) het aangedui dat hulle die hulpbronne wat Suid-Afrika gee, wil gebruik vir kragopwekking. Dit klink vir my na ’n goeie ruiltransaksie . . .” het Sisulu gesê.

Nie almal in Lesotho deel egter in die geesdrif oor die Lesotho-Hoogland-waterprojek nie.

“Daar is mense (tot in die kabinet) wat kla en sê Lesotho het ’n gebrek aan water en nou gee ons water aan ’n ander land,” het Ntsekele aan Newzroom Afrika gesê.

Ntsekele sê egter ondanks dié negatiewe reaksie vind Lesotho wel baat by die projek, veral ten opsigte van vaardigheidsontwikkeling.

“Dit is belangrik dat albei lande baatvind. Dit is ook belangrik dat die mense van Lesotho voel dat hulle uit die tweede fase van die projek voordeel trek. Buiten die kragopwekking sal daar ook bykans 3 000 werkgeleenthede wees vir burgers, hul vaardighede sal geslyp word en dit sal infrastruktuur verbeter,” het Ntsekele gesê.

Meer oor:  Droogte  |  Waterkrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.