Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Gautengers gevra om water te bespaar

Hoewel die nasionale departement van water en sanitasie sê Gauteng het genoeg water, gaan die Johannesburgse metro voort om waterbeperkings hier strenger toe te pas.

Die departement doen wel ’n beroep op Gautengers om water te spaar.

Netwerk24 het vroeër berig die watervlakke van damme, wat water aan Gauteng verskaf, is aansienlik laer in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar. Boonop word daar tot einde November beplande herstelwerk aan die tonnelstelsel van die Lesotho-hoogland-waterskema (LHWS) gedoen. Die LHWS is een van die Vaalrivierstelsel se grootste waterbronne.

Nico de Jager, lid van die burgemeesterskomitee vir omgewing en infrastruktuur in Johannesburg, sê die metro is bekommerd oor die dalende damvlakke, sowel as oor die LHWS wat nie water sal kan loslaat totdat die herstelwerk voltooi is nie.

Vlak 1-waterbeperkings geld reeds in Johannesburg. Die metro gaan egter nou strenger begin optree teen inwoners wat nie genoeg water spaar nie, sê De Jager.

“Te oordeel aan die huidige vlak van die Vaalrivierstelsel sal daar vir die volgende twee en ’n half jaar water wees. Dit klink dalk na baie, maar ons moet nou water begin spaar om in die toekoms ’n krisis te vermy,” sê De Jager.

Hy benadruk dat die metro self by magte is om te besluit hoe hy waterbeperkings wil toepas.

Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement van water en sanitasie, sê sy departement oorweeg nie nou waterbeperkings in Gauteng nie.

“Ons doen ’n beroep op Gautengers om water te spaar, maar daar is nie ’n waterkrisis op hande wat waterbeperkings noodsaak nie,” sê hy.

Hoewel die Vaaldam tans net 54,7% vol is, is die Vaalrivierstelsel in sy geheel 76% vol.

Ratau sê die herstelwerk aan die LHWS behoort nie ’n te groot invloed op watervlakke te hê nie omdat voorsorgmaatreëls getref is.

“Voordat daar met die herstelwerk begin is, is daar vooraf meer water uit die LHWS losgelaat om die risiko te verlaag. Die herstelwerk is ook só beplan dat dit in die somermaande gebeur wanneer die noorde van die land reën kry,” sê Ratau.

Hy wys verder daarop dat die Vaalrivierstelsel op sowat 14 damme staatmaak om water te verskaf. Die Sterkfonteindam, wat as ’n reserwewaterbron gebruik word, is nog 90% vol.

Anthony Turton, ’n waterkenner, sê die dalende watervlakke kan enersyds aan laer reënval toegeskryf word, maar andersyds ook aan swak bestuur.

“Die groot hoeveelheid rioolvuil wat van aanlegte in die Vaalrivier beland, veroorsaak dat baie van die water nie bruikbaar is nie. Dit is die departement se werk om water in droë tye te kan bestuur omdat droë toestande in Suid-Afrika eintlik die norm is,” sê Turton.

Hy sê water moet reg bestuur word omdat die ekonomie van Gauteng daarvan afhanklik is.

Wayne Venter, weervoorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), sê daar word in die volgende vier maande normale tot bo-normale reënval vir Gauteng en die oostelike helfte van die land voorspel.

* Die waterbeperkings in Johannesburg beteken dat geen tuine tussen 06:00 en 18:00 natgemaak mag word nie. Inwoners mag ook nie plaveisel en opritte met tuinslange skoonspuit nie.

Meer oor:  Gauteng  |  Waterbesparing  |  Droogte  |  Waterkrisis  |  Waternood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.