Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Gift of the Givers kap na Wes-Kaap oor waterkrisis
Dr. Imtiaz Sooliman, stigter van die ramphulporganisasie Gift of the Givers.

Dr. Imtiaz Sooliman, direkteur van Gift of the Givers, het die Wes-Kaapse provinsiale regering erg gekritiseer nadat hy Saterdag groot hoeveelhede gebottelde water na Laingsburg begin aanry het.

Die provinsie ontken dat daar nie water op die dorp is nie.

Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het Saterdag gereageer en gesê die dorp gaan wel gebuk onder die ergste droogte in 400 jaar, maar dit is nie waar dat daar geen water is nie, soos wat Gift of the Givers beweer.

Bredell meen sulke bewerings het in die verlede “groot skade aangerig en lei tot paniek”.

“Ons het Gift of the Givers al voorheen gevra om nie onverantwoordelike onakkuraathede kwyt te raak nie, omdat dit tot paniek kan lei. Dit is hartseer dat hulle nou weer daarmee kom,” het Bredell gesê.

Gift of the Givers het vroeër gesê hy is telefonies deur die Laingsburg-munisipaliteit ingelig dat Soutklooffontein, die dorp se hoofwaterbron, opgedroog het.

’n Week gelede het die organisasie vragte gebottelde water aan Beaufort-Wes geskenk nadat die droogte sy tol op dié dorp geëis het.

Gift of the Givers laai tonne gebottelde water wat by die Laingsburg-munisipaliteit afgelewer gaan word.Foto: FACEBOOK

Gift of the Givers gryp in

Sooliman sê op sy Facebook-blad vrae moet gevra word oor die voorbereidings wat die Wes-Kaapse regering getref het vir moontlike watertekorte buite Kaapstad.

“Hoekom bel die munisipaliteite Gift of the Givers net wanneer daar ’n krisis is? Glo hulle nie dat hulle self die situasie kan hanteer nie?

"Begin verlede jaar het De Doorns die hulp van Gift of the Givers ingeroep toe hulle in die nood was.

“Ons het dadelik gereageer en vyf boorgate gesink wat 800 000 liter per dag lewer. Verskeie ander boorgate is gesink om te help met water in 'n tyd toe die watervlakke baie laag was.”

Hy sê daarna was dit boere van Laingsburg, Mosselbaai, Albertina, De Vlaktes en ander gebiede, wie se diere op ’n streep gevrek het weens die droogte, wat om hulp gevra het.

Die organisasie het heelwat voer aan dié boere geskenk.

In Januarie verlede jaar het die organisasie 300 vragte gebottelde water op bystand vir die droogtekrisis in Kaapstad gehad.

Sooliman sê ondanks al dié hulp wat Gift of the Givers miljoene rand uit die sak gejaag het, het hulle geen finansiering van die Wes-Kaapse regering gekry nie - selfs ná herhaaldelike beloftes sedert Maart verlede jaar dat hulle dit wel sal kry.

“As die beloftes gerealiseer het, kon ons die huidige waterkrisis op baie gebiede verhoed het.

“Maar elke keer dat Gift of the Givers ingegryp het, of dit gegaan het oor die wateraansluiting by die Karl Bremer-hospitaal in Belville (waar ons binne 45 minute gereageer het), die verskaffing van water aan skole waar krane opgedroog het, die lewering van voer aan honger diere, die verskaffing van noodhulp vir die brande in Khayelitsha en elders, en selfs om water te verskaf aan brandweerstasies vir brandbestryding, het die organisasie net ’n pluimpie en beloftes van finansiering van die Wes-Kaapse regering ontvang,” sê Sooliman.

“Tien maande is verby, en ons wag steeds.”

Hy sê danksy vrygewige Suid-Afrikaners en verskeie maatskappye wat Gift of the Givers met skenkings bygestaan het, kan die organisasie voortgaan om hulp te verleen waar hulp nodig is.

“So, hier is ons weer – ons personeel sal môreoggend (Saterdag) om 09:00 by ons Tygerberg-pakhuis aan diens wees om water vir die mense in Laingsburg af te lewer.

“Ons sal waarskynlik nog ’n dankie kry, ’n pluimpie kry, ’n nuwe, leë belofte van finansiering tot die volgende munisipaliteit in ’n krisis ons inroep omdat hy geen vertroue in sy eie hiërargie het nie.”

Gift of the Givers laai tonne gebottelde water op wat by die Laingsburg-munisipaliteit afgelewer gaan wordFoto: FACEBOOK

‘Vakansiegangers plaas druk op hulpbronne’

Bredell sê die provinsiale regering het noukeurige planne vir die wateruitdagings in die Wes-Kaap.

“Klein dorpe in die Karoo-streek is afhanklik van reservoirs wat water uit boorgate kry. In die vakansiemaande wanneer die dorpe deur toeriste oorval word, loop die reservoirs vinniger leeg as wat hulle volgemaak kan word. Die uiteinde is dat daar soms watertekorte is. Dit word bestuur deur beurtwater toe te pas en deur ander inisiatiewe soos om gebottelde water aan inwoners te verskaf.”

Hy hou vol dat daar tot nou toe nog geen gemeenskap in die Wes-Kaap was wat se drinkwater opgeraak het nie, “al ervaar ons die ergste droogte in 400 jaar”.

Dit is ook die geval in Laingsburg, volgens Bredell.

Hy sê hoewel die nood erger raak, is die feite dat die water bestuur word om te sorg dat daar genoeg water die naweek is wanneer verkeer wat deur die dorp vloei, aansienlik gaan toeneem soos vakansiegangers huis toe keer.

“Dit is nog ’n proaktiewe stap wat die provinsie doen.”

Meer oor:  Droogte  |  Laingsburg  |  Gift Of The Givers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.