Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Givers ‘sal van geld terugkry’

Mense het met skok en afgryse gereageer op Gift of the Givers wat glo uitgeskop is uit Makhanda sodat ander verskaffers betaal kan word vir dieselfde wateroplossings. Antoinette Slabbert het eerstehands gaan vasstel wat die feite is.

Die katedraal van St. Michael en St. George in die middedorp van Makhanda. Voor die geskiedkundige kerkgebou is ’n bord van Gift of the Givers opgerig om aan te dui hulle “bring water vir die inwoners”. Foto’s: Antoinette Slabbert

Die strydbyl tussen Gift of the Givers en die tuisdorp van die Rhodes-Universiteit is oënskynlik begrawe, maar die water is troebeler as ooit tevore.

Die munisipaliteit van Makhanda en Gift of the Givers het ooreengekom dat die humanitêre organisasie, wat wyd geprys is vir hul hulp, minstens gedeeltelik vergoed sal word vir sy werk.

Dr. Imtiaz Sooliman, stigter van die organisasie, het Vrydag aan Rapport gesê hy sal tevrede wees as hulle minstens ’n derde van die R15 miljoen terugkry wat hulle in Makhanda in die Oos-Kaap bestee het aan onder meer boorgate. Hy hoop dat dit binne die volgende week of twee sal gebeur.

Riana Meiring, waarnemende munisipale bestuurder, het aan Rapport bevestig hulle gaan Gift of the Givers gedeeltelik vergoed.

Pres. Cyril Ramaphosa se kantoor het gebel.

Maar dis hier waar die partye se ooreenstemming eindig en Gift of the Givers gaan steeds aan die universiteitsdorp onttrek.

Gift of the Givers het op 12 Februarie in Makhanda aangekom ná ’n noodoproep van die munisipaliteit. Teen daardie tyd was inwoners al sowat twee weke sonder water.

Makhanda het twee waterbronne. Die een het heeltemal opgedroog weens die droogte en die ander het water gehad, maar die suiweringsaanleg het ingegee en die water kon nie gebruik word nie.

Die organisasie het dadelik ingespring en miljoene liter gebottelde water uitgedeel, 15 boorgate gesink, die watergehalte laat toets en behandel sodat dit drinkbaar is en sowat 40 tenks opgerig met waterpunte waar die publiek kon kom water haal. Dit het onmiddellike verligting gebring vir die inwoners, waaronder die 8 400 studente en die personeel van die Rhodes-Universiteit. Sowat 4 000 van die studente woon in koshuise en die dorp het ook verskeie skoolkoshuise.

Kontrakteurs van Gift of the Givers werskaf Woensdag by van die tenks wat die organisasie by die Ntsika Senior Secondary School in Makhanda opgerig het.

Verlede week het Sooliman egter ’n knuppel in die hoenderhok gegooi met sy aankondiging dat Gift of the Givers summier aan die dorp onttrek. Sooliman het te midde van omvattende mediadekking beweer dat ander kontrakteurs betaal is vir noodlenigingswerk wat sy organisasie onder groot druk gedoen het, terwyl Gift of the Givers droëbek moes toekyk. Hoewel hy spesifieke bedrae genoem het wat glo aan drie kontrakteurs betaal is, kon Sooliman Vrydag weinig besonderhede gee.

Sy aankondiging het groot reaksie uitgelok, met selfs ’n oproep van pres. Cyril Ramaphosa se kantoor om te hoor wat aangaan.

Meiring sê dis bloot nie waar dat ander kontrakteurs aangestel is om Gift of the Givers te vervang nie.

Van die R23 miljoen aan droogtehulp wat die munisipaliteit einde Maart by die provinsie gekry het, moes R11 miljoen aangewend word vir waterbesparing en aanvraagbestuur as voorwaarde vir die hulp­finansiering. Daarvoor is die konsultantegroep MBB aangestel. Die oorblywende R12 miljoen is beskikbaar vir beste-ding in verband met ondergrondse waterbronne, op voorwaarde dat die munisipaliteit ’n konsultant aanstel om die ondergrondse waterbronne te dokumenteer. Die konsultante Gibb is daarvoor aangestel.

Meiring sê Gibb se werk is onder meer om alle boorgate in die omgewing aan te teken en aanbevelings oor bykomende boorgate te maak. Maar sy sê dit is nié ’n duplisering van die werk wat Gift of the Givers gedoen het nie. Sy sê Rhodes se Instituut vir Waternavorsing het reeds die grondslag gelê en dié werk is vroeër ook aan Sooliman se span beskikbaar gestel. Sy sê Gift of the Givers het geweet hulle werk op eie risiko toe hulle begin het, want die munisipaliteit het gesê dis onseker wanneer en hoeveel geld hulle sou kry.

Sooliman betwis dit nie.

Wanneer die departement van water en sanitasie sy taksering van Gift of the Givers se uitgawes afgehandel het, sal die droogtehulpfondse gebruik word om die organisasie te vergoed vir van sy uitgawes, sê Meiring.

Dit is egter duidelik dat die paaie van die hulporganisasie en die plaaslike munisipaliteit gaan skei. Die afgelope week het rolspelers vergader en verklaar dat die waterkrisis op die dorp vir eers verby is. Die rolspelers sluit in Gift of the Givers, die munisipaliteit, die nasionale en provinsiale departemente, die Rhodes-Universiteit en Amatola-water.

Gift of the Givers se uitstekende werk het die regering die geleentheid gegee om die suiweringswerke reg te maak sodat die grootste waterbron weer water kan lewer. Gift of the Givers gaan nie die oorblywende werk om die boorgatwater met die Waainek-suiweringswerke te verbind klaarmaak nie en gaan waarskynlik sy filtreerstelsel by die Ntsika Senior Secondary School buite die dorp verwyder.

Volgens dr. Iain L’Ange, Rhodes se uitvoerende direkteur vir infrastruktuur, bedryfsake en finansies, is die universiteit al sedert 2012 ten nouste betrokke by regeringspogings om te verseker dat die dorp genoeg water het. Saam met die presidensiële infrastruktuurkoördineringskomitee is planne van stapel gestuur om water te verseker vir die bykomende studentebehuising wat die universiteit opgerig het.

Hoewel daar vordering gemaak is, was daar ook haakplekke, onder meer toe Amatola omstreeks 2017 onttrek het weens die versuim van die munisipaliteit om hulle te betaal.

Verskeie mense het aan Rapport gesê die James Kleynhans-watersuiweringswerke, wat noodsaaklik is vir die lewering van water aan die oostekant van die dorp, het teen dié agtergrond agteruitgegaan. Instandhouding het agterweë gebly en dit is nie reg bestuur nie.

Die aanleg suiwer water uit die Oranje-Vis-waterskema, wat die een groot bron van water vir die dorp is.

Sedertdien is James Kleynhans weer in bedryf gestel. Die verbintenis tussen die oostelike deel van die dorp en die westelike deel se waterstelsels is versterk sodat water van James Kleynhans af ook daar gelewer kan word aan die deel wat tradisioneel sy water van die Setlaarsdam kry.

Hoewel Gift of the Givers se boorgate gehelp het toe die nood op sy hoogste was, is die krisis dus nou vir eers verby.

Cindy Deutschmann by haar bakkie waarmee sy vullis verwyder het.

Vrou-alleen verwyder sy vullis

Grahamstad, soos baie inwoners van Makhanda steeds na hul blyplek verwys, is glad nie meer so ’n lekker plek om te bly nie, sê Cindy Deutschmann, wat reeds meer as ’n dekade daar woon.

Buiten die gesukkel met water wat inwoners in Februarie twee weke in droogte gedompel het, het munisipale vullisverwyderaars terselfdertyd begin staak, glo weens ’n gebrek aan beskermende klere.

Dit het twee maande lank aangehou.

Wetende dat duisende studente op pad was om by Rhodes te kom inskryf, het die organisasie Makhanda Revive ingespring om die dorp op te ruim.

Hulle het Cindy se hulp gevra om die middedorp skoon te hou.

Aanvanklik het sy werkers gehad om te help, maar kort voor lank was dit net sy, haar bakkie en soms darem die geselskap van haar twee honde. Op een dag het sy 491 sakke vullis verwyder. Dit was ook nie net dié van die middedorp nie, want inwoners van elders het sommer hul eie vuilgoed ook gebring. Sy moes self sorg dat die stortingsterrein met ’n stootskraper gelyk gestoot word.

Sy doen dit, “want dit moet gedoen word”, sê Deutschmann.

Daar is ’n magstryd in die munisipaliteit aan die gang, sê sy. Diegene wat wil konkel en dié wat teen korrupsie is, meet kragte en tussenin probeer die inwoners oorleef met die minimum dienste.

Daar is waterbeperkings op die dorp, maar die munisipaliteit lees nie die meters nie en daar is geen gevolge vir oortreders nie.

Meer oor:  Riana Meiring  |  Cindy Deutschmann  |  Imtiaz Sooliman  |  Makhanda  |  Droogte  |  Water  |  Gift Of The Givers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.