Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
G’n Dag Zero vir Kaapstad vanjaar en in 2019

Dag Zero is vir vanjaar en volgende jaar in Kaapstad afgeweer, maar daar is nog geen aanduiding wanneer die superhoë-tariewe verslap sal kan word nie.

Ian Neilson, onderburgemeester van Kaapstad, het Donderdag op ’n spesiale nuuskonferensie gesê Kaapstad is nou, halfpad deur die winterreënseisoen, in ’n baie sterker posisie as wat die stad aan die einde van die winter in 2017 was.

Dag Zero is nie net vir 2018 afgeweer nie, maar ook vir 2019. Donderdag was Kaapstad se opgaardamme 43% vol, met nog meer as twee maande waarin winterreën kan uitsak.

Ek wil weer alle Kapenaars bedank vir die enorme spanpoging om te verseker dat ons die somer oorleef het sonder dat die water opgeraak het.

Neilson sê die winterreën het vroeg gekom en daar was reeds ses weke van goeie reën. Daarom, en indien inwoners hou by die streng waterbeperkings, is daar geen vooruitsig van ’n Dag Zero in 2019 nie.

“Ek wil weer alle Kapenaars bedank vir die enorme spanpoging om te verseker dat ons die somer oorleef het sonder dat die water opgeraak het.” Neilson het ook die landbousektor bedank wat in die somer hul waterverbruik verder ingeperk het.

Die Kaapstad-metro hoop om waterbeperkings en die meegaande hoë watertariewe “in die nabye toekoms” te verslap, maar volgens Neilson hang dit af van wanneer die nasionale departement van water en sanitasie die waterbeperkings lig.

Volgens Neilson kan watertariewe wat reeds in ’n boekjaar aanvaar is, nie verander word nie. Vir elke vlak van waterbeperkings is daar ’n stel tariewe. Indien daar van die huidige vlak 6B na ’n ligter vlak van waterbeperking soos vlak 5 oorgeskakel word, is daar goedkoper tariewe wat ingestel kan word.

Die nasionale departement van water en sanitasie bepaal gewoonlik jaarliks teen einde Oktober die damvlakke en wat die waterbeperkings daarvolgens moet wees. Indien die damvlakke teen einde Oktober 85% is, sal die waterbeperkings afgeskaf kan word.

Neilson sê die Kaapstad-metro wil by die nasionale departement hoor of daar nie ’n tussentydse stelselmatige verslapping van die waterbeperkings kan wees nie, sodat die watertariewe trapsgewys verlaag kan word eerder as om te wag tot einde Oktober en dan die beperkings eensklaps af te skaf.

Neilson het verduidelik hoe naby Kaapstad aan Dag Zero gekom het waar daar geen water in die krane sou wees nie en noodmaatreëls getref sou moes word.

“Aan die begin van die jaar was ons vasgevang in die nagevolge van ’n vernietigende en ongeëwenaarde droogte wat net vererger het. Die reënval was vir drie jaar in ’n ry aansienlik laer as in vorige jare en in 2017 is die laagste reënvalsyfer in die geskiedenis aangeteken,” het Neilson gesê.

Hy sê die damvlakke was slegs 7% bo die vlak waar menslike waterverbruik tot slegs 25 liter per persoon per dag gesny sou moes word.

Ons moet onthou dat die landbousektor werkgeleenthede skep en met uitvoer geld in die land inbring.

Volgens Neilson het hy ’n ontmoeting aangevra met Gugile Nkwinti, minister van water en sanitasie, om nuwe planne te maak om te verseker dat Kaapstad in die toekoms beter toegerus is om ’n waternood te keer.

Noudat die nood verby is, wil die Kaapstad-metro die kennis wat in die tyd van die waterkrisis opgedoen is, gebruik om ’n toekomsplan uit te werk en te bepaal watter waterbronne gebruik moet word en hoe dit moet werk.

“Ons het met die droogtekrisis besef watter leemtes daar is met die waterstelsel. Ons moet baie mooi dink oor ons langtermynbeleggings, veral ten opsigte van permanente ontsouting, die gebruik van boorgatwater, asook die herwinning van water,” sê Neilson.

Die Kaapstad-metro en die nasionale departement van water en sanitasie moet om ’n tafel sit om ’n toekomstige droogteplan uit te werk wat doeltreffend is en die kleinste impak moontlik het op die ekonomie en die welsyn van die publiek.

Volgens Neilson moet die strategie vir die voorsiening van water verander. Een van die lesse wat met die droogte geleer is, is dat daar ook net soveel boorgatwater is. Die ondergrondse watertafel moet ook die geleentheid hê om te herstel. Boorgatwater moet net soos damwater bestuur word.

Janine Myburgh, voorsitter van die Kaapse Kamer van Koophandel en Nywerheid, sê die term Dag Zero was ’n paniekerige reaksie op wat duidelik ’n langtermynprobleem is en dit het skade aan die toerismesektor berokken.

Nou moet die boodskap aan die wêreld oorgedra word dat Kaapstad weer sake doen. Verder moet Kaapstad dink hoe om die landbousektor te bedank, wat groot opofferings gemaak het. Die beste manier om dít te doen, is om minder afhanklik te wees van damwater en aan te hou om water te bespaar.

“Ons moet onthou dat die landbousektor werkgeleenthede skep en met uitvoer geld in die land inbring,” sê Myburgh.

Meer oor:  Dag Zero  |  Kaapstad  |  Droogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.