Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Graaff-Reinet-gebied boos oor 3 dae sonder water

Gemeenskappe in die Dr. Beyers Naudé-munisipaliteit in die Karoo is vir sowat drie dae sonder water, en dit terwyl die plaaslike munisipaliteit nie watertenkwaens vir dié tydperk voorsien nie.

Water in dorpe soos Graaff-Reinet, Aberdeen, Nieu-Bethesda en Klipplaat se krane was droog tydens ’n geskeduleerde kragonderbreking wat vir Dinsdag aangekondig is vir Eskom om instandhoudingswerk te doen.

Die elektrisiteit was Dinsdag van 06:00 tot 18:30 af en weens die kragonderbreking sal sommige gebiede vir sowat drie dae sonder water in hul krane wees aangesien die pompe nie water na die reservoirs kan pomp nie.

Die munisipaliteit het egter geen reëlings getref om watertenkwaens in dié drie dae aan die gemeenskap te voorsien nie, het Samantha Graham-Maré, DA-LP en leier van die kiesafdeling vir die Dr. Beyers Naudé-munisipaliteit, gesê.

Sy het benadruk dat toegang tot water ’n grondwetlike reg is en daarom het die munisipaliteit misluk in hul mandaat om water te voorsien.

Gevolglik het Graham-Maré Dinsdag die munisipaliteit by die Menseregtekommissie (MRK) verkla.

“Met ’n temperatuur van 34°C voorspel vir (Dinsdag) en geen watertoevoer nie, is daar ’n risiko vir ons armste mense en veral kinders en babas om te dehidreer.”

Ondanks die probleem van watertoevoer gaan die munisipaliteit tans ook gebuk onder ’n droogtekrisis nadat die Nqweba-dam wat water voorsien aan Graaff-Reinet en omliggende gebiede, opgedroog het, en is die inwoners van Graaff-Reinet nou net op boorgate aangewese vir water.

Die Nqweba-dam by Graaff-Reinet wat tans dolleeg is. Foto: Marlee Smith

Graham-Maré sê die waterkrisis wat soms die watertoevoer bemoeilik is verstaanbaar, maar die munisipaliteit moes gebeurlikheidsplanne gehad het aangesien hulle vooraf van die kragonderbreking geweet het.

Die munisipaliteit het op 26 Augustus ’n kennisgewing oor die kragonderbreking uitgereik en weer op 2 September ’n kennisgewing oor die watertoevoer wat weens die kragonderbreking afgesny sal wees.

Wilca Smith, waarnemende woordvoerder van die munisipaliteit, sê die hele Graaff-Reinet is van boorgate afhanklik en water kan nie sonder elektrisiteit na die reservoirs gepomp word nie.

“Dit beteken die gemeenskap het nie water nie. Daar is geen water nie, so watertenkwaens kan ook nie gevul word nie.”

Sy het bygevoeg dat water ’n basiese reg van die mense is en die munisipaliteit kan nie weier om water na die mense aan te ry nie. Sy sê water was aangery totdat die krane droog was. “Maar die kennisgewing wat uitgereik is het duidelik aangedui dat die kragonderbreking ’n tekort aan water of die afsny van die toevoer vir sowat drie dae sal veroorsaak,” het Smith gesê.

Die rede daarvoor is volgens Smith omdat die reservoirs leeggeloop het terwyl die water gedurende die kragonderbreking nie na die reservoirs gepomp kon word nie. Sy sê mense wat wél watertoevoer het, gebruik die water terwyl die reservoirs vol loop en daarom neem dit langer om te hervul.

Maar Graham-Maré meen gegewe die vroeë kennisgewing sou inwoners kon voorsorg tref om water vir ’n dag te stoor, maar daar is baie wat nie die kennisgewings gesien het óf selfs die vermoë het om water te stoor nie.

Meer oor:  Graaff-Reinet  |  Droogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.