Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Gupta-myn erken hy kan nie water gee

Die inwoners van Hendrina in Mpumalanga voel die Guptas se geldprobleme aan eie bas omdat die water wat die dorp van die Guptas se Optimum-myn kry gereeld opdroog.

Belina Kubeka (58) is al gewoond daaraan om water uit die bad te skep as sy moet koskook. Foto’s: Deon Raath

Ingevolge ’n ooreenkoms met die Steve Tshwete-munisipaliteit in 2012 moet die Optimum-myn elke dag tussen vier en vyf miljoen liter water uit die myn se watersuiweringsaanleg aan Hendrina en KwaZamokuhle verskaf.

Inwoners sê hul krane is die afgelope jaar dikwels droog.

Prudence Magutle, die munisipaliteit se assistentdirekteur van kommunikasie, sê al betaal die munisipaliteit getrou sy water­rekening van tussen R900 000 en R1,2 miljoen per maand, is daar gereelde onderbrekings in die watertoevoer van Optimum.

“Ons rekeninge is op datum. Die probleem lê by die myn.

“Sedert die banke opgehou het om sake met die Guptas te doen, kan hulle nie hul kontrakteurs betaal nie,” sê Magutle.

‘Ons rekeninge is op datum.’

Sy sê die munisipaliteit sit nie met die hande gevou nie en het meer as 20 watertenks op strategiese plekke in Hendrina met tien watertenkwaens wat dié tenks volhou. Inwoners soos Annemarie Harms (49) is egter lankal keelvol.

“Ons sukkel al meer as ’n jaar lank so. Daar is vir ten minste ’n week elke maand geen water nie. Ons moes uiteindelik self ’n watertenk vir omtrent R8 000 op ons erf installeer. Ek weet nie hoe maak mense wat dit nie kan bekostig nie,” sê Harms.

Sy en haar gesin het al gewoond daaraan geraak om planne te beraam.

Haar huiswerker, Belina Kubeka (58), sê die inwoners van KwaZamokuhle trek swaar.

Annemarie Harms sê hulle moes ’n eie watertenk kry.

“In Desember het ons niks water gehad nie en daar is ook nie vir ons water aangery nie. Ons moes in die dam bad.”

Die DA-raadslid vir Rietkuil (Hendrina het nie verteenwoordiging nie), Nicky van Zyl (55), is raadop.

“Die regering het net anderdag gesê die boere in die Kaap kan nie aanspraak maak op die water wat hulle vir Kaapstad gegee het nie.

“Die minister het gesê alle water behoort aan die staat. Wat beteken dit dan hier? Is die Guptas die staat?”

Die probleem met watervoorsiening is egter die minste van Optimum se probleme.

’n Ingeligte by die myn het Vrydag aan Jeanne-Marié Versluis gesê daar is “omtrent net een” kontrakteur by Optimum oor wat bereid is om grondverskuiwing vir die Guptas te doen.

Die DA-raadslid vir Rietkuil, Nicky van Zyl, by die grensdraad van die Optimum-myn. In die agtergrond is die myn se watersuiweringsaanleg.

Die ingeligte sê as die laaste kontrakteurs wat grondverskuiwingswerk doen moet stop, sal die Optimum-myn glad nie meer steenkool aan Eskom kan lewer nie.

“Dan is daar ’n probleem.”

Die Optimum-myn het teen druktyd nie op Rapport se vrae gereageer nie, maar die mynbestuurder, Howard Pyoos, het in ’n amptelike brief (wat Rapport se verslagspan onder oë gehad het) aan die Steve Tshwete-munisipaliteit erken dat die probleem met watervoorsiening aan ­

Hendrina by hulle lê.

Hy skryf dat kontrakteurs by die wateraanleg die aanleg op 13 Februarie gesluit het nadat die myn nie sy rekening betaal het nie.

Meer oor:  Hendrina  |  Optimum-Myn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.