Meer as 800 inwoners van Kenhardt naby Upington in die Noord-Kaap, onder wie boere, plaaswerkers en hul families, gaan in Februarie baatvind by ’n noodledigingsprojek van die organisasie SA Water Warriors.

’n Onbekende man met twee dooie lammers op die plaas Kurees in die Kenhardt-distrik.
Die projek vind op 8 Februarie plaas wanneer SA Water Warriors se konvooi onder meer kruideniersware en veevoer in Kenhardt sal aflaai.
“Ons benodig die publiek, sakeondernemings en vervoermaatskappye se ondersteuning met finansies, veevoer, kruideniersware, water en vervoer,” sê Pieter du Plessis van SA Water Warriors in George.
Onder die hulpbehoewendes is 166 boere van Kenhardt, en in geheel sal 859 mense daar gehelp word, volgens hom.
Du Plessis sê die boere in Kenhardt is wanhopig en hul vee vrek weens die droogte.
“Die publiek is welkom om hulle as vrywilligers by ons konvooi aan te sluit om eerstehands te ervaar wat in die droogtegeteisterde gebiede aangaan. Alles wat ons kry en doen word gratis aan die boere en plaaswerkers gegee,” sê hy.
Volgens Du Plessis is SA Water Warriors ’n organisasie sonder winsbejag. Sy vyf lede is gesteld op deursigtigheid en 18A-belastingsertifikate word aan skenkers uitgereik.
In Desember het meer as 300 boere, hulle gesinne en diere in die omgewing van Prins Albert en Leeu-Gamka ook hulp van SA Water Warriors ontvang.
Besoek SA Water Warriors se Facebookblad of bel Du Plessis by 076 844 6435.