Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Jagters roep droogtehulp in ná skoktonele in Kalahari

’n Groep vriende se jaguitstappie het in ’n noodverligting-missie ontaard nadat hulle op skoktonele in die Kalahari afgekom het waar die knellende droogte boer en dier op hul knieë het.

Melvyn Stephens (30) en sy vriende, almal van Christiana in Noordwes, is verlede Woensdag na Abraham de Klerk se plaas Kolonkwanen, 22 km buite Van Zylsrus teen die Botswana-grens, vir hul eerste jagtog van die jaar.

’n Landskap vol karkasse is die gevolg van die ongenaakbare droogte in die Kalahari. Abraham de Klerk staan by die oorblyfsels van ’n bok wat weens hongerte gesterf het.

“Daar het ons die ontnugtering van ons lewens gekry.”

Om die diere te sien wankel en omslaan van die honger is wat hom en sy vriende lank sal bybly.

“ ’n Mens besef eers wat hongerte is as jy ’n koedoebul sien neerslaan en vir drie tot vyf minute op sy knieë waggel om sy voete te vind.”

Boere in dié distrik reël jagtogte om ’n inkomste te genereer en om die veld “ligter” te maak sodat meer diere kan vreet.

Hoewel 30 mm reën oor die Paasnaweek op Van Zylsrus gemeet is, het ’n skamele 10 tot 15 mm op sy plaas geval.

“Dis maar 2 mm die een dag, 5 mm die volgende,” sê De Klerk.

Dit is nadat 260 mm in Februarie verlede jaar hier gemeet is.

Hy sê elke keer wat hy ’n brandmaer koei wat bly lê moet skiet, “rol die trane oor ’n man se wang”.

Met hul terugkeer huis toe het Stephens en sy vriende, Hardus Cruywagen, Sven en Keenan Viljoen en Corné Mc Cabe oproepe na boere by Christiana gemaak om te hoor of hulle voer kan skenk.

Veeboere se hoop is in skerwe met beendere en velle wat ophoop in die knellende droogte in die Kalahari.

Met slegs drie oproepe het hulle genoeg aartappels en lusern bymekaargemaak om twee groot vragmotorwaens te stuur.

Die eerste vrag voer is Woensdag na De Klerk se plaas waar hy dit ook aan buurplase uitgedeel het.

Die wild in die Kalahari word swaar deur die knellende droogte getref.

Vrydag is nog ’n vrag van 250 tot 300 lusernbale en aartappels in Christiana gelaai sodat dit Saterdag weer daar afgelewer kan word.

De Klerk sê hy het nie gedink daar is mense met sulke goeie harte nie. Ook sou hy nooit kon raai dat ’n Kalaharibees aartappels met soveel oorgawe sal vreet nie.

“Ons vertrou dat dit beter sal gaan, maar die winter is amper hier en die tyd raak min.”

Stephens sê hulp stroom nou uit alle oorde in, van aartappelboere by Christiana en Ventersdorp tot uit die Kaap. Hulle het ook ’n hulpfonds gestig om die vervoer te betaal, nie net om voer by Van Zylsrus uit te kry nie, maar ook by Kuruman, Kathu en Dibeng.

“As jy niks het (om by te dra nie), sak op jou knieë en vra ons Hemelse Vader vir genade op die diere en die boere wat dit moet aanskou.”

Die oorblyfsels van diere wat in die droogte gevrek het agter op ’n bakkie.
’n Hoop horings van wildsbokke wat weens honger in die droogte gevrek het.
’n Groep jagters van Christiana het ’n wekroep aan boere in dié distrik gerig om voer te skenk. Alle verwagtinge is oortref met die derde vrag wat Saterdag ’n plaas by Van Zylsrus sal bereik.
Boere van Christiana het onder meer aartappels geskenk as voer vir vee in droogtegeteisterde dele van die Kalahari. Die derde vrag bereik Saterdag ’n plaas by Van Zylsrus.
Kalaharibeeste wankel as hulle moet opstaan weens erge hongerte as gevolg van die droogte in dié gebied.
Meer oor:  Kalahari  |  Droogtehulp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.