Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Kaapse damvlakke styg drupsgewys

Die gemiddelde damvlak in die Wes-Kaap het die derde agtereenvolgende week gestyg, terwyl geen reën tot Vrydag oor die grootste gedeelte van die Wes- en die Oos-Kaap voorspel word nie.

Teen Maandag het die Wes-Kaap se gemiddelde damvlak op 23,6% gestaan nadat dit die vorige week nog 22,8% was, luidens die departement van water en sanitasie (DWS) se jongste statistieke oor damvlakke. Verlede jaar was dit in dieselfde stadium 35,8%.

Die gemiddelde vlak van die ses belangrikste damme wat aan Kaapstad water voorsien, was Maandag 24,8%. Dit is ’n skraal styging vanaf die 24,2% waarop dit vorige week gestaan het, terwyl dit verlede jaar nog 35,8% was.

Die afgelope week het die Benede-Steenbrasdam en die Wemmershoekdam se vlakke met minder as ’n persentasiepunt gedaal, terwyl die Steenbras-,

Voëlvlei-, Bergrivier- en Theewaterskloofdam se vlakke gestyg het.

Die Benede-Steenbrasdam staan tans op 27,9% teenoor 28,3% verlede week en die Wemmershoekdam is 37% vol teenoor 37,6% die vorige week.

Verder is die Clanwilliamdam 19% vol nadat dit verlede week nog 16,3% was. Verlede jaar het dit op 58,2% gestaan.

Oor die afgelope sewe dae is 45,8 mm reën by die Bergrivierdam gemeet, sowel as 19,1 mm by die Wemmershoekdam en 10,5 mm by die Voëlvleidam.

Die Theewaterskloofdam tussen Villiersdorp en Grabouw se vlak het die afgelope week van 18,6% tot 19,24% gestyg. Dit is een van die ses grootste damme wat aan Kaapstad voorsien. Foto: Conrad Bornman

Mooiweer word vir die meeste van die week oor die grootste deel van die Wes- en die Oos-Kaap verwag.

Die Suid-Afrikaanse weerdiens sê temperature rondom

10 °C en koeler word vir Dinsdagoggend voorspel, terwyl gedeeltelik bewolkte weer teen die middag kan voorkom.

Woensdag word mooiweer oor die meeste van die Wes- en Oos-Kaap verwag, met bewolkte weer oor Kaapstad, Langebaan, Malmesbury, Paarl, Hermanus, Grabouw, Mosselbaai en George.

Warmer weer met temperature rondom 25 °C word verwag in die noordelike dele van die Weskus verwag, en dit kan tot byna 30 °C styg.

Teen Donderdag word nog warmer weer voorspel, veral vir die Suid-Kaap en die Oos-Kaapse kus, met temperature op plekke net onder 30 °C.

Die warm weer sal na verwagting Vrydag voortduur en gedeeltelik bewolkte weer kan ook oor groot dele van albei provinsies voorkom.

Intussen geld strenger waterbeperkings (Vlak 4B) sedert 1 Julie in Kaapstad en is inwoners versoek om hul waterverbruik tot 87 liter per dag te beperk.

Die Kaapse stadsraad wil die metropool se waterverbruik tot 500 miljoen liter per dag inkort.

Daarby is die eerste 6 kiloliter water per huishouding nie meer gratis nie, behalwe vir huishoudings wat as behoeftig geregistreer is.

Kaapstad se ses belangrikste damme:

Steenbrasdam – 65,7%

Benede-Steenbrasdam – 27,9%

Voëlvleidam – 20,2%

Bergrivierdam – 35,4%

Wemmershoekdam – 37%

Theewaterskloofdam – 19,2%

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Damvlakke  |  Styg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.