Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Kaapstad beplan 30 jaar vooruit vir water

Beplanning vir Kaapstad se waterbronne strek 30 jaar vooruit en die Kaapse metroraad sê dit is juis as gevolg van “goeie beplanning” dat hy in die posisie is om noodwaterskemas te kan uitvoer waar nodig.

Ten spyte daarvan kon die omvang van die huidige droogte in die Wes-Kaap nie verwag word nie en sal Kapenaars moet aanvaar dat waterskaarste die “nuwe normaal” is.

Die Voëlvleidam naby Tulbagh in die Wes-Kaap is een van Kaapstad se ses belangrikste waterbronne. Teen Maandag was dié dam 20,5% vol, teenoor 19,9% die vorige week. In die ooreenstemmende tyd verlede jaar was die damvlak op 38,9%. Foto: Bruce Sutherland

Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid vir informele nedersettings, nutsdienste en energie, het Woensdag gesê daar moet met alle toekomstige waterbeplanning aanvaar word dat Kaapstad in ’n droogtegeteisterde gebied lê.

“Voor die droogte het die stad reeds heelwat minder as die toegekende hoeveelheid water van die nasionale regering gebruik. Al het ons bevolking sedert 1996 byna verdubbel, het die wateraanvraag betreklik stabiel gebly.”

Volgens Limberg is die huidige droogte die “hardnekkigste in onlangse heugenis” en kon die erns daarvan beslis nie vooraf voorspel word nie.

Gedurende strategiese beplanning met die departement van water en sanitasie (DWS) in 2016, is daar aangedui dat die Bergrivier-Voëlvlei-aanvullingskema die volgende waterprojek is wat aangepak sal word. Dit behels dat oortollige winterwater van die Bergrivier in die Voëlvleidam oorgepomp word en die departement het by vorige geleenthede aangedui hy gaan die projek bespoedig.

Noodprojekte soos die gebruik van ontsouting, grondwater en stormwater is ook toe al voorgestel om die Wes-Kaap se waterbronne aan te vul. Dit sal oor die volgende 20 tot 30 jaar uitgevoer word.

Die stadsraad sê sy beplanning is daarby aangepas en die ontginning van water uit die Tafelberg-groepwaterdraer word vir tussen 2022 en 2026 beplan, nadat die werk by die Voëlvleidam voltooi is.

Limberg wys egter daarop dat oppervlakwater oor medium- tot lang termyn steeds die grootste waterbron sal bly en beperkings steeds gedurende droogtes nodig sal wees.

Volgens haar het die DWS aangedui dat daar eers teen 2021 ’n behoefte vir aanvullingskemas met alternatiewe waterbronne sal wees.

Die Kaapse metroraad sê ook hy wil met die private sektor saamwerk om ’n noodwatervoorraad op kort termyn te skep. Hy het ’n versoek om inligting aan organisasies gerig wat daarin belang stel om aanlegte op te rig en te bedryf.

Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid vir informele nedersettings, nutsdienste en energie, het Woensdag gesê daar sal met alle toekomstige waterbeplanning aanvaar moet word dat Kaapstad in ’n droogtegeteisterde gebied lê en dat waterskaarste die “nuwe normaal” is. Hoewel die Kaapse metroraad sy waterbeplanning 30 jaar vooruit doen, kon die omvang van die huidige droogte en die uitwerking op waterbronne nie voorspel word nie, sê Limberg.

Kaapstad se watervoorraad is 97% tot 98% seker oor 100 jaar, wat beteken daar kan moontlik twee of drie jaar wees waarin daar nie in die wateraanvraag voorsien sal kan word nie.

Die Kaapse metroraad het reeds in 2000 ’n “aggressiewe program” vir waterdrukbestuur, die instandhouding van infrastruktuur en bewusmaking begin om waterbesparings te bewerkstellig.

“Ons was nog altyd voor met die instel van waterbeperkings as ’n proaktiewe stap om water in ’n streek soos Kaapstad te bestuur,” sê Limberg.

Weens die uitgerekte droogte en die waarskynlikheid van onvoorspelbare reënvalpatrone, het die stadsraad ’n “veerkragtige benadering” aanvaar sodat noodwaterskemas vinniger voltooi en uitgebrei kan word.

In 2007 is ’n tienjaarstrategie vir die bestuur van die wateraanvraag goedgekeur as deel van die stadsraad se ooreenkoms met die DWS om die nuutgeboude Bergrivierdam te benut.

Limberg sê dit was hoogs suksesvol en het “sonder twyfel” die uitwerking van die droogte in Kaapstad verlig.

Met die strategie is onder meer trapsgewyse tariewe, waterdrukbestuur, die gebruik van behandelde rioolwater, die vervanging van ou waterpype en meters en verbeterde opsporing van lekkasies benadruk.

Intussen is waterverliese weens lekkasies van 25% in 2009 tot 15% in 2017 verminder.

Die Wemmershoekdam naby die Paarl is ook een van die ses belangrikste damme wat water aan Kaapstad voorsien. Hy was teen Maandag 36,4% vol teenoor 57,8% in die ooreenstemmende tyd verlede jaar. Foto: Bruce Sutherland

“Aansienlike waterbesparings” is gedurende die droogte behaal en het toegelaat dat ’n belegging in duur infrastruktuur vertraag kon word, terwyl Kaapstad minder water uit die Voëlvleidam onttrek het sodat daar meer vir Weskus-munisipaliteite in 2016 kon oorbly.

Die Wes-Kaap kan al teen 2019 ’n watertekort ervaar omdat die aanvraag die beskikbare waterbronne oorskry, terwyl sowat 2 miljoen bykomende inwoners teen 2030 in Kaapstad verwag word.

Die Suid-Afrikaanse weerdiens het in 2015 gesê die 2014-’15-seisoen is die derde droogste in Suid-Afrika sedert 1960 en die droogste sedert 1991-’92.

Intussen het die Wes-Kaapse rampbestuur in Mei gewaarsku dat die gemiddelde reënval in die Wes-Kaap teen 2050 na verwagting met 30% kan daal.

Meer oor:  Xanthea Limberg  |  Kaapstad  |  Beplan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.