Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Kaapstad se damvlakke veel beter as verlede jaar
Die Voëlvleidam tussen Gouda en Wellington se vlak het die afgelope week effens gestyg van 88,4% tot 88,6%. Dié foto van die dam wat water aan Kaapstad lewer, is verlede Donderdag geneem. Foto: Samuel Walters

Die vlak van Kaapstad se damstelsel het teen Maandag tot net onder 82% gestyg en in die aanloop tot die somer is dit heelwat hoër as dié tyd verlede jaar.

Anton Bredell, LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het egter benadruk dat sommige dele van die Wes-Kaap weer te min reën ontvang het en nie buite gevaar is nie.

In die afgelope week het die Wes-Kaap se gemiddelde damvlak net effens gestyg van 66,3% tot 66,4%, teenoor 64,4% oor dieselfde tydperk in 2018.

Die gemiddelde vlak van Kaapstad se damstelsel het ook van 81,4% tot 81,9% toegeneem, terwyl dit verlede jaar dié tyd nog op 73,8% gestaan het.

Die Kaapstad-metroraad het Maandag bevestig dat die gesamentlike watergebruik oor die afgelope week effens gestyg het tot 587 miljoen liter per dag. Onder die huidige waterbeperkings is die mikpunt vir daaglikse gebruik onder 650 miljoen liter.

Bredell het die middag in ’n verklaring gesê Kaapstad se damme is in ’n goeie toestand in die aanloop tot die somer wanneer die aanvraag weer sal styg, maar dit beteken nie die res van die provinsie is buite gevaar nie.

“Die afgelope winter het goeie reën in die meeste gebiede uitgesak, maar sommige streke, grootliks in die landbousektor in die Karoo, het steeds nie verligting ontvang nie. Daardie dele verkeer onder uiterste druk in die aanloop tot die somer.”

Volgens Bredell word die toestande in streke met watertekorte gemonitor en werk verskeie departemente saam om die nood te verlig waar moontlik.

“Die somer is om die draai en die kanse dat die damvlakke veel verder sal styg, is uiters skraal. So, ons moet die water wat ons het so doeltreffend moontlik oor die volgende maande bestuur tot die volgende winter. Om minder water te gebruik moet ’n permanente lewenswyse word.”

Teen Maandag het die vlak van die Theewaterskloofdam, die grootste opgaardam in die Wes-Kaap, gestyg van 71,6% tot 72,1%. Dit was slegs 55,7% vol dié tyd verlede jaar.

Anton Bredell, LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning. Foto: Peter Abrahams/Son

In die voorafgaande sewe dae is 11,3 mm reën by die dam gemeet.

By die Bergrivierdam is 8,7 mm gemeet en het die vlak van 99,4% tot 99,5% gestyg. By die Wemmershoekdam is 7,5 mm gemeet en het die vlak van 91% tot 91,7% toegeneem.

Die Voëlvleidam se vlak het ook van 88,4% tot 88,6% gestyg.

Die Benede-Steenbrasdam se vlak het egter van 99,7% tot 99% gedaal en 16,9 mm reën is gemeet.

In die noordweste van die provinsie het die Clanwilliamdam se vlak van 100,3% tot 99,7% afgeneem en het dit dié tyd verlede jaar op 100,4% gestaan.

In die Karoo het die meeste damvlakke die afgelope week verder gedaal, maar talle is voller as dié tyd verlede jaar.

Die Gamkadam naby Beaufort-Wes se vlak het van 35,5% tot 34,4% afgeneem en die Gamkapoortdam naby Prins Albert se vlak van 6,7% tot 6,4%. Albei damme was dié tyd verlede jaar nog leeg.

Die Floriskraaldam naby Laingsburg se vlak het ook van 14,8% tot 14,6% gedaal, teenoor 6,1% in 2018.

Die Calitzdorpdam se vlak het egter effens gestyg van 14,4% tot 14,5% en was verlede jaar net 13,5% vol.

Verder het die Oukloofdam naby Prins Albert se vlak van 3,6% tot 3,5% gedaal en is 1,4 mm reën oor die voorafgaande sewe dae gemeet.

In die omgewing van Oudtshoorn het die Kammanassiedam se vlak van 2% tot 1,9% afgeneem en die Stompdriftdam van 7,4% tot 7,3%.

By die Kammanassiedam is 2,8 mm reën gemeet en 2,2 mm by die Stompdriftdam.

In die Suid-Kaap het damvlakke aansienlik gedaal en is die meeste vlakke laer as dié tyd verlede jaar.

Die Duivenhoksdam naby Heidelberg se vlak het van 67,5% tot 63,9% afgeneem en was verlede jaar nog 70,2% vol.

Die Korentepoortdam naby Riversdal se vlak het van 54,7% tot 52,5% gedaal en 4 mm reën is gemeet.

By die Tuinroetedam buite George is 12,4 mm oor die voorafgaande sewe dae gemeet en die vlak het van 63,9% tot 62,2% afgeneem. Dié tyd verlede jaar het die damvlak op 70,5% gestaan.

Die Ernest Robertson-dam naby George se vlak het van 72,9% tot 67,6% gedaal en 11 mm reën is gemeet.

Die Wolwedansdam tussen George en Mosselbaai se vlak het van 55,6% tot 54,6% afgeneem en was dié tyd verlede jaar nog 78,9% vol.

Teen Maandag om 08:00 het die Suid-Afrikaanse Weerdiens 29 mm reën op Plettenbergbaai en 28 mm op Knysna vir die voorafgaande 24 uur gemeet.

In Witfontein, George en die Robinsonpas is 7 mm gemeet, 4 mm in Stilbaai, 3 mm in Riversdal en 2 mm in Mosselbaai, Ashton en Villiersdorp.

In die Oos-Kaap is 29 mm in Tsitsikamma gemeet en 24 mm in Joubertina.

In Kaap St. Francis is 9 mm gemeet, 8 mm in Fort Beaufort, 7 mm in Bhisho, 5 mm in Port Alfred en 3 mm in Port Elizabeth.

Reën Dinsdag in Suid- en Oos-Kaap

In die Suid-Kaap is daar Dinsdag ’n kans van 30% op reën en tot ’n 60%-kans op reën in die Oos-Kaap.

Geen verdere reën word tot Vrydag verwag nie.

In George, Mosselbaai en Riversdal is daar ’n 30%-kans op reën die oggend en teen die middag in Kaap Agulhas en Plettenbergbaai.

In die Oos-Kaap is daar ’n 60%-kans op reën in Port Elizabeth, Uitenhage, Port Alfred, Oos-Londen, Port St. Johns en Bhisho.

In Joubertina, Makhanda (Grahamstad) en Fort Beaufort is daar ’n 30%-kans op reën en ’n 60%-kans op buie in Mthatha.

damvlakke
Grafika: Damvlakke

Meer oor:  Anton Bredell  |  Theewaterskloofdam
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.